Efesiërs 4:1-7, 11-16

Datum: 30 September 2018

Prediker: Chris Barnardo

INLEIDING

Die Karoo2Coast is ’n bergfietskompetisie wat jaarliks vanaf Uniondale tot in Knysna aangebied word. Verlede naweek was hierdie kompetisie vir die twintigste keer aangebied. Ongeveer 100km se trapwerk deur die Sir Alfred-pas en ’n laaste 40 plus kilometers deur die Knysnabos. Sprokies mooi. Ek het twee van hierdie Karoo2Coast kompetisies agter die rug. Maar hierdie jaar het ek besef dat ek ’n wilde (YSTER)perd gaan opsaal indien ek deelneem. Ek is nie naastenby so fiks as wat ek was tydens vorige twee Karoo2Coast’s nie. Dit laat my dink aan die vraag wat gevra word om ’n sin met seldery te maak. “As jy seldery, gaan jy nie die Karoo2Coast suksesvol voltooi nie.” Ongelukkig moet mens op die fiets klim en hom ry. Jy kan nie net op die fiets sit en na alles luister wat oor fietsry gepraat word nie. Daar moet trapwerk plaasvind. Om die waarheid te sê, ek het die afgelope tyd as gevolg van omstandighede glad nie eers op die fiets gesit nie. Elke keer was daar ’n verskoning gewees. Die eindresultaat hiervan was dat ek hierdie jaar onfiks by die eindpunt gestaan en toekyk het hoe die fietsryers die stadion inry en elkeen ’n medalje ontvang. Dit was ’n aaklige gevoel gewees. Onfiks deur my eie toedoen staan ek as toeskouer en kyk hoe die manne en vroue hande in die lug gooi en mekaar in vreugde omhels. Hoe oë sê alles. Ek het dit gemaak!

IS JY GELOOF-FIKS?

Dit laat my wonder oor geloof. Is ek geloof-fiks?  Vriende Christenskap is nie ’n toeskouer sport nie. Ons word nie genooi om na ’n fietsrykompetisie op Sondae te kyk en om op Maandae in te bel of e-posse te stuur oor ons opinies oor die roete nie. Ons word uitgenooi om uit die kerkbanke op te staan en op die fiets te klim en die roete van die lewe te ry. Jesus se roete. As hierdie gemeente besef watter God gegewe potensiaal hier teenwoordig is, gaan daar groot dinge gebeur. Lidmate sal geestelike leiers word, mense gaan toegewyd wees in die saak van die Here, hierdie gehoor sal ’n goed geoliede peloton, nee ’n goed geoliede weermag vir die Here wees. Om net daaraan te dink maak my vol van opwinding.

Die afgelope tyd werk ons daaraan om die gemeente se nuwe visie, visie en waardes met die lidmate te deel. Ons glo dat die Here De Eike roep om harte aan te raak en lewens tot eer van  die Here te verander en tot voordeel van die wêreld. Maar nou moet ons meer doen as net om die visie, die missie en waardes na te streef. Hierdie droom moet ’n werklikheid word. Wat moet ons doen? Ons moet ’n span bou.

Statistieke wys vir ons dat daar slaggate is op De Eike se bedieningsroete. Navorsing toon dat net tien persent van ’n gemeente al die werk in die gemeente doen. Vyftig persent van die lidmate is gemaklik daarmee om net te ontvang. Solank die dominee rondhardloop en pleisters plak is hulle tevrede. Hierdie vyftig persent is net verbruikers. Veertig persent is nêrens teenwoordig nie omrede hulle nie gevra word om deel te word nie en hulle weet nie hoe om betrokke te raak nie. Vriende dink net wat sal gebeur indien al 1700 lidmate aktief betrokke is in die onderskeie bedienings van hierdie gemeente? Daarom is ek, binne ons gemeentegrense, aktief besig met ’n werwingspoging vir mense wat saam met my in God se koninkryks-peloton wil ry. Is jy dalk bereid om deel van hierdie peloton te word?

WIL JY DEEL VAN HIERDIE PELOTON WEES?

Daar is baie potensiaal in ons midde. Hier is mense wat werklik die speke kan laat sing binne God se koninkryk. 2Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. Hoor dit! Paulus praat van sekere kwaliteite waaroor ons moet beskik. Vanoggend kan ek met soveel sekerheid bely dat De Eike se mense oor hierdie kwaliteite beskik. Ons moet dit net meer ontwikkel en uitbrei.

Nou die dag vra ’n persoon aan my by die braaivleisvuur ’n interessante vraag. Dit nadat hy vertel het hoë wonderlik en populêr die gemeente is waar hy betrokke is. Hy vra my toe die volgende: “Het jy sterre daar in jou gemeente. Ysters! Ons is toe lekker aan die gang met Alpha en ek dink aan die 50 wat saam met my elke Woensdagaand getrou in die wintertyd byeenkom hier in die kerksaal.

Nee, ons het nie sterre nie, ons het diensknegte. Ons is nie op soek na sterre nie! ’n Ster is ’n groot naam. Ons soek nie groot name nie. ’n Dienskneg is ’n groot persoon. ’n Ster het ’n groot ego. ’n Dienskneg is groot aan ywer om diensbaar en van hulp te wees. ’n Ster het ’n grootmansbeeld. ’n Dienskneg  is groot in die betrokkenheid van ander mense. Ons soek diensknegte wat bereid is om deel van hierdie peloton te word. ’n Gemeente vol diensknegte. Dit is waarna ek opsoek is om saam met my in die peloton te ry. Diensknegte. Mense wat gretig is om toegerus te word sodat ons in spanverband in die peloton kan ry. Ek hoor die volgende woorde wat my opgewonde maak. Toerus vir ons diens in die opbou van die liggaam van Christus. Met ander woorde. Geestelike leiers se taak is om mense toe te rus vir diens in die opbou van die liggaam van Christus.

As ’n span oefen ons saam sodat ons mekaar leer ken. Sodat ons familie word. Ons ry nie op ons eie nie. Skouer aan skouer ry ons saam in die peloton. Word ons geloof-fiks, word ons toegerus SODAT ons diensbaar kan wees.  Die afgelope twaalf weke was daar 50 mense wat op ’n Woensdagaand saam in God se peloton kom ry het. In die twaalf weke het ons geloof-fikser geword. In die twaalf weke wat verby is, is hierdie 50 persone toegerus om hulle plek in die span vol te staan. Vanoggend kan ek met vrymoedigheid sê dat elkeen van hierdie 50 persone presies weet wat hulle sterk en minder sterk punte is. Hulle weet presies hoe om saam sterker te wees. Hulle weet presies hoe om saam te werk in spanverband.  Enigeen van hierdie 50 kan op enige oomblik van die roete voor ry. Enigeen van hierdie 50 kan gemaklik die leiding neem. Dit is nie nodig vir die dominee om heeltyd voor te ry nie. Die afgelope 12 weke was sy taak om toe te rus SODAT elkeen van hierdie 50 mense diensbaar kan wees in spanverband.

Vra maar vir enige fietsryer hoe lekker dit is wanneer iemand by jou oorneem sodat jy vir ’n slag kan asemskep in die peloton se sleurspoed. Niemand in die span is oorwerk of verby moegheid nie. Dit is die span se resultate wat saak maak. Nie ’n indiwidu nie. In die span is daar nie plek vir ego’s of sterre nie. Net Dienskenegte.

Nadat my skoonseun hierdie jaar die Karoo@Coast voltooi het, het ons teruggery na die plek waar ons oornag het. In die motor vra ek hom toe wat het vir hom uitgestaan  tydens die kompetisie. Wat was sy gunsteling oomblik. Daar was ’n stilte in die bussie.

Skielik sê hy: “Die lemoene.” Die lemoene wat ons by die waterpunte geëet het. Suikersoet, sappige lemoene. Die reuk van die lemoenskille was nog in sy hande. Die smaak nog vars in sy mond. Ek dink toe onmiddellik terug aan my vorige twee Karoo2Coast’s en ek kon daarmee identifiseer. Maar ek besef toe ook dat dit my nie hierdie jaar beskore was nie, want ek was nie in die saal nie.

Ruik vir ’n oomblik aan die lemoen wat in jou hand is. Om te proe sal jy eers die lemoen moet skil. Dan eers sal jy die sap van die lemoen in jou mond kan rond-spoel. Vanoggend wil ek iets aan julle demonstreer.

As ek op my eie ’n lemoen vir elke lidmaat moet aan uitdeel, gaan ek nie-effektief wees nie.

Wanneer ek ’n kerkraad toerus om by elke lidmaat ’n lemoen te gaan aflaai, gaan dit ook nie heeltemal so doeltreffend wees nie.

As ek die wyksleiers en dienswerkers toerus om lemoene te gaan uitdeel gaan dit al beter lyk.

Maar as ek ’n gemeente toerus om lemoene uit te deel verander die prentjie.

Hou daardie lemoene in die lug. Kyk rondom jou. Dit is wat Jesus van ons vra. Om die sap by die mense uit te kry. Om in spanverband in Jesus se peloton te ry en die sap te gaan uitdeel.

Watter sap?: Vra julle vir my. Sap wat lewe gee. Op ‘n beskeie, vriendelike en geduldige manier waarin ons mekaar in liefde verdra. As ‘n span. De Eike se span. ‘n Span wat gretig is om toegerus te word. Diensbaar tot die uitbou van die liggaam van Christus.

AMEN