Genesis 2:18 en Jasaja 43:18+19

Datum: 7 April 2019 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

  1. WAT IS BESIG OM TE GEBEUR?

Dit wil voorkom asof ons land se mense vuisvoos is. Meeste van die tyd moet mens houe afweer en jouself verdedig. Mens is te bang om iets te sê. Ons stemme word stil en ons kyk grootoog na die gebeure in ons land en wonder of daar regtig nog ’n toekoms vir ons kinders in hierdie land is.

Dit is duidelik dat baie mense van ons land deur twee magte aangevuur word:

  1. Mense word aangevuur deur woede.
  2. Mense word aangevuur deur vrees.
  3. Hierdie vrees en woede het ’n negatiewe invloed op gesinne. Baie gesinne is disfunksioneel en sukkel om in harmonie saam te leef. Hoe kan hierdie gebrokenheid herstel word?

Ek en Carina het weer hierdie jaar die KKNK bygewoon. Al die teaterstukke waarna ons gaan kyk het, het hierdie vrees en woede binne gesinsveband uitgebeeld. En in elke teaterstuk kon mens die probleem terug herlei na ouers wat ’n gemors van hulle huwelik gemaak het. Een van die dramas waarna ons gaan kyk het, is die pa hierdie bullebak man wat met vrees en bewing toesien dat sy vrou se menswees stukkie vir stukkie uit haar gepers word. Sy word stil en sê vir die kinders dat pappa nie regtig so is nie. Die twee seuns sien hoe word dinge in die huis gedoen en hulle vrouens word ook met liefdeloosheid en woede hanteer. Daar is drie dogtertjies in die stuk wat aan al hierdie woede en vrees blootgestel word en mens kan antisipeer wat vir hulle in die toekoms wag.

Waar vind ons antwoorde op ons vrae?

Ek lees in Psalm 119:105 105U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Dalk is dit tyd dat ons die Bybel reg begin lees en reg toepas in ons lewens.

 

WANT....

 

  1. WANT GOD GEE VIR ONS DIE KORREKTIEF

Man en vrou, pasmaats, is die belangrikste persone binne ’n gesin. Wanneer ouers binne die huwelik in liefde en respek teenoor mekaar leef, sien ons die winspunte daarvan in die kinders se grootwordjare. Kinders met balans.

Geluk is tuisgemaak.

In Genesis 2:18 lees ons van pasmaats. Die Hebreeuse teks praat van Ezer Kenegdo wat beteken om mekaar aan te vul. Dit beteken dat mense wat verskillend is, ondersteunend tot mekaar is. Dit was nooit bedoel dat die vrou ‘n assistent of hulp vir die man moes wees nie. Wat God bedoel het was om ‘n krag vir die man te maak wat in elke opsig sy gelyke sal wees. Pasmaats is ‘n span wat saamwerk. Ons werk nie teen mekaar nie. Pasmaats is nooit in kompetisie nie. Die een ag nie hom- of haarself hoër as die ander een nie. Pasmaats dien mekaar in liefde met respek. Dit gebeur so baie dat hierdie verhouding versteur word as gevolg van eiebelang.

Hierdie dramas waarna ons by die KKNK gaan kyk het, het  nie nie hoop uitgebeeld nie. Daar was nie herstel nie. Hooploosheid. Boedel oorgee. Moeg om verder te baklei. Stap weg en begin van voor af.

Aan ons doopouers wil ek vanoggend se. Wanneer die Here deel van julle storie is is daar altyd hoop op herstel. Vir hulle wat deur hierdie seer van ‘n gebroke verhouding gegaan het en en die flenters stukkie vir stukkie moet optel en oor moes begin wil ek sê. Die Here los ons nooit alleen nie. Sy beloftes staan vir elkeen van ons wat glo in die lewende almagtige God.

 

  1. MAAR GOD GEE VIR ONS HOOP

God herskep en gee nuwe lewe in verhoudings. Dis nooit te laat nie. Die Here sê vanoggend vir elkeen van ons om te vergeet van al die dinge wat in die verlede gebeur het. Vergeet al die gemors wat jy aangevang het of die . Moenie toelaat dat dit jou gyselaar hou nie. Moenie toelaat dat mense dit teen jou hou nie. Moenie toelaat dat skuldgevoelens jou menswees van jou steel nie.Vergeet die verlede. Dis niks in vergelyking wat die Here nou gaan doen nie. Die Here gaan iets nuuts doen. Kan julle dit nog nie nie sien?

Hy maak in die woestyn ‘n pad. Hoe lyk jou lewe op die oomblik.? Hoe lyk jou huwelik of jou verhouding waarin jy tans is? Is daar woenstyngebied? Is jy moeg? Die Here beloof dat daar vir jou ‘n pad gemaak is. In ons woestynlewens maak hy vir ons riviere. Sien julle dit raak? Of volg ons eerder die ou pad, die sandpad, die pad wat na nêrens lei?

Tog het ons as pasmaats ook ‘n verantwoordelikheid. Die huwelik werk nie....Die huwelik is werk. Ons  skep die veilige ruimte waarin ons kinders kan ontwikkel en groei om in die voetspore van Jesus te leef.

‘n Ruimte waarin ons hartstogtelik lief kan wees vir die Here! Binne die gesin begin alles by die pasmaats. Kom neem ons verbondsverantwoordelikheid ernstig op. Geluk is tuisgemaak.

AMEN