2 Kor 12:1-10

Datum: 19 Februarie 2023 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

  1. Inleiding.

Liewe vriende, dit is hoe ek die kerk sien. Wanneer ons swak is, is ons sterk. Die foto op die skerm van die twee jarige honger en verswakte Nigeriese seuntjie sal my altyd bybly. Die foto is vir my ’n uitbeelding van wat die kerk veronderstel is om te wees. Totaal afhanklik van die lewende almagtige God. Ons as ’n geloofsgemeenskap is swak en het niks om oor te roem nie.

Aan die ander kant hoor ek onlangs dat sommige geloofsgemeenskappe in besighede ontaard. Interessante inisiatiewe word geloods sodat geloofsgemeenskappe meer voete kan trek.  ’n Ruk gelede moes ek weer hoor: “Kom maak ’n draai by ons op ’n Sondag en kom kyk”.

Ons het ’n orkes wat gemaklik by Afrikaans Is Groot sal kan optree. Maar ons sing net Engelse liedjies want dit is wat die jongmense wil hê. Ons het ons eie Barista wat die beste koffie maak waaraan jy rustig kan teug tydens een van ons dominees se preke. Ons dominees is jonk en wakker en glad nie so vervelig nie.

As jy wil lid word van ons gemeente kan jy net die vorm op die internet invul, ongelukkig kan gays en persone wat buite-egtelike verhoudings in hul verlede gehad het,  nie lidmate word nie. Hulle moet eers by een van ons dominees aanklop vir berading. Wat lekker is, is dat die dominee se interpretasie van die Bybel die finale sê het.

Ons hou ook nie terug as dit by geld kom nie. Ons het onlangs weer nuwe dataprojektors en ’n klankstelsel gekoop. Die dominee het net een keer tydens ’n erediens gevra en vinniger as blits het die internet oorplasings ingestroom.

Die beligting is van die beste en die lugversorging in hierdie warm Kaapse dae is altyd ’n wenner en om nie eers te praat van die lekker sagte sitplekke nie. Ons is ’n baie “kief” en ’n “with it” gemeente. Daar is genoeg voete en van elkeen word verwag om ’n volle tiende te gee.

Ek het daarna geluister en gewonder of die Here welkom is in daardie gemeente. Dit wat veronderstel is om die Liggaam van Christus te wees is op baie plekke ’n besigheid waar jy “betaal” vir die diens wat ontvang word. Die Liggaam van Christus word misbruik vir eie gewin. Dit wil voorkom asof al die “side shows”, die glans en die goud meer punte tel as DIT wat veronderstel is om saak te maak.

Vriende, ons moet hiervan kennis neem. De Eike is in ’n strategiese proses waar ernstig na die toekoms van die gemeente gekyk word en Paulus gee vir ons vanoggend vanuit sy loopbaan ’n paar rigtingwysers wat ons kan help op hierdie pad van verandering. Miskien moet ons net weer seker maak hoekom ons hier is vanoggend. En dit bring ons vanoggend by die vraag.

  1. Hoe daag ons op by die Here? Kan ons vanoggend met alle eerlikheid sê dat ons deel is van hierdie geloofsgemeenskap omdat ons onbeskryflik lief is vir die Here? Daar bestaan geen bybedoelings of voorbehoude of hoogmoed of wat ook al wanneer ons vanoggend hierdie erediens bywoon nie.  Alles wat ek bymekaarmaak, alles wie ek is, is omdat ek onbeskryflik lief is vir die Here. en dit is my motivering. Dit is die rede waarom ek hier is vanoggend. Kan ons dit vanoggend met alle eerlikheid  bely? Paulus sê dat dat daar niks is om oor te roem nie.
  2. Onbeskryflike liefde vir die Here hou my nederig. Ons liefde vir die Here weerspieël ons gedrag binne en buite hierdie geloofsgemeenskap. My posisie en kwalifikasies of kennis van die Woord maak nie van my iemand wat op ’n ander wyse hanteer moet word nie. Paulus het besonderse bonatuurlike ervarings met God gehad. Groot genoeg om enige mens ’n groot kop te gee. Al Paulus se swaarkry en swakhede was soos ’n doring wat die hele tyd in sy voet bly vassit het. Ja, dit was soos ’n boodskapper wat die duiwel na hom toe gestuur het om hom pimpel en pers te kom slaan. ’n Konstante geveg.Dit was regtig vir hom ’n probleem en eintlik kon Paulus nie meer uithou nie. Daarom smeek hy vir God om dit weg te neem. Tog het God dit nie weggeneem nie, want God het geweet dat as Hy dit wegneem, die kans daar is dat Paulus ’n groot kop sou kry en sy eie paadjie sou begin loop. God het eerder vir Paulus ’n kykie in die groter prentjie gegee sodat hy kon verstaan hoekom hy dan die houe van die bose moes verduur. En elke keer het daardie doring vir Paulus daaraan herinner om nederig te bly en afhanklik van die Here te wees.

So is daar dikwels ook in ons lewe ’n doring in die vlees – ’n doring in die voet wat keer dat ons te vinnig hardloop. ’n Handrem wat nie kan loskom en veroorsaak dat ons buite beheer hol nie. ‘n Doring wat my voete op die grond hou.

  1. Onbeskryflike liefde vir die Here hou my voete op die grond. Ja, ons het al baie keer by God gesit en sy voete sopnat gehuil en gesmeek om tog maar die handrem los te maak. En dan doen God dit nie, en ons raak moeilik. Maar dalk is ons swaar net soos Paulus se stukkie swaar. Dis die doring wat ons beskerm om nie te vinnig te hol nie.

Dalk is De Eike se voertuig nie gebou om so vinnig te ry nie en is dit juis die doring in die vlees wat ons beskerm van uitmekaarval en ons rug op God draai. Pyn, seer, swaar, dorings en handremme hou ons voete op die grond. Dit hou ons naby God. Daarsonder sou ons dalk van God vergeet het. Wie weet?

Wanneer ons onvoorwaardelik en onbeskryflik lief is vir die Here verander alles in ons lewe. Wanneer die doring in ons vlees ons moeg maak besef ons: “die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie (2 Kor. 4:7) sodat God alleen verheerlik kan word (2 Kor. 10:17).

Ons kan vanoggend glimlag want Sy genade is vir my genoeg. Ons is hier vir een rede: Om onbeskryflik lief vir die Here te wees sonder enige verskuilde bybedoelings, voorbehoude of voorkeure. As ons dan wil roem, kom ons roem oor ons swakhede.  Kom  ons wees bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus. Want as ons swak is, is ons sterk.

‘n Jaar later het hierdie BBC joernalis weer Nigerië besoek en vir daardie seuntjie gaan kuier. Kyk gerus na die foto. Die foto sê vir my dat onverdunde liefde vir die Here al is wat De Eike nodig het.

Mense sal eredienste bywoon vir die regte rede. Mense sal betrokke raak as daar erns gemaak word met die Liggaam van Christus. Mense sal hier opdaag omdat hulle lief is vir die Here. Nie “side shows” of al die glans en goud waarmee sommige ander gemeentes spog nie.  Net liefde vir die Here wat soos waterdruppels oor ‘n dors en honger seuntjie se liggaam spoel. Dis al.

Daarom nooi ek jou vanoggend uit om met vrymoedigheid die wyn en die broodjie in jou hande te neem en om herinner te word aan Sy onbeskryflike liefde vir ons.

Ons almal is onwaardige gebruikers van die nagmaal, maar ons moet dit net nie onwaardig gebruik nie.

Kom sit saam om die tafel en dink terug aan God se onbeskryflike liefde toe hy sy Seun Jesus vir ons laat kruisig het.

Om die tafel word ons boeties en sussies, ‘n familie, AMEN