Psalm 9:11

Datum: 24 Junie 2018

Prediker: Hannes Burger

Baie jare terug toe ek op kweekskool was, het hulle ons nog geleer dat dit verskriklik belangrik is hoe jy jou preek begin. Jou inleiding is omtrent die belangrikste deel van jou preek, het die arme professor wat ons klomp moes leer preek, gesê. Want sien, jy trek of mense se aandag dadelik, of jy verloor hulle dadelik. Dis hoekom ek die afgelope week gewonder het wat sou hy van Psalm 9 sê. Wat kyk net hoe begin hierdie Psalm. In vers 1 lees jy al dat hierdie Psalm gesing moet word op die wysie van ‘n lied met die naam “By die dood van ‘n seun”. Dit laat my dadelik wonder of ek verder moet lees. Ek ken nou nie self die lied waarvan hy praat nie, maar dit klink regtig nie vir my na ‘n vrolike, opbouende lied nie. Nee, die noot waarop hierdie Psalm begin, laat jou sommer by voorbaat besluit dit gaan ‘n erg swaarmoedige Psalm wees... een van daardie stukke van die Bybel wat ‘n mens liewers oorslaan en iets anders in die Bybel lees.

Maar sê nou maar jy skraap nog wel jou moed bymekaar, en heel eerste val jou oog op vers 14. Dit praat van die ellende wat die arme Psalmdigter, sê nou maar dis Dawid, ervaar. Hy word onregverdig behandel deur mense wat hom haat en net wil bykom. Teen dié tyd is jy baie seker. Jy sal jou moet staal vir ‘n baie swaarmoedige klaaglied. Ons weet tog hoe moeilik mense dit vir jou kan maak, want ons almal het al seergekry onder mense se venyn op tye wat ons regtig gevoel het ons verdien dit glad nie. Dis dié dat ons so half weet wat verder kom.

En dan kom verras hy ons! Sommer al in vers 2. Dawid begin hierdie lied wat op so ‘n swaarmoedige wysie gesing moet word, met die woorde: “Met my hele hart wil ek U prys, Here, wil ek van u magtige reddingsdade vertel. Oor U wil ek my verbly en vrolik wees, u Naam wil ek besing, o Allerhoogste...!”

Dit het jy nie verwag nie. Want Dawid klink hier regtig nie besonder ellendig nie. En nog verder in die Psalm gaan jy vers 8 kry. Eintlik is dit die sleutelvers, waarom hierdie hele Psalm draai. Dan begin jy verstaan. Dís hoekom hy positief bly, selfs in sy omstandighede. Want hy weet iets, wat die verskil maak. En daardie iets maak dat hy alles wat met hom gebeur, in ‘n nuwe lig sien. En wat weet Dawid? “Die Here is altyd op sy troon...” (v. 8). God is Koning, en Hy is in beheer. Hy luister na sy kinders en Hy gee uitkoms op sy tyd.

  1. Ook ons ken die uitkoms wat die Here gee.

En dis mos wat ons ook weet! Om die waarheid te sê, dis presies wat ons ook die laaste tyd ervaar het. Ons wat bevoorreg is om hier in die Wes-Kaap te mag bly, het oor die afgelope jaar of wat iets leer verstaan van nood soos ons nog nooit geken het nie. Ons het benoud toegekyk hoe ons damme net al hoe leër en droër word, en water al skaarser word. Verlede Winter het gekom en gegaan, en nooit regtig uitkoms gebring nie. Later het ons op allerhande maniere probeer water spaar. Ons het vir die eerste keer verstaan wat beteken grys water, en nog altyd het ons gesien hoe vrek alles in ons tuin. Ons het allerhande planne gemaak, en groot tenks opgesit, maar selfs dit het min gehelp solank die reën wegbly.

Die heeltyd dag het ons dag Zero sien naderkom, ten spyte van die baie gebede wat opgegaan het...

  1. En toe begin die Here reën gee...

En toe begin dit ‘n week of wat gelede reën. En so maak ons elke oggend die reënmeter leeg, en later was ons nie meer regtig opgewonde as daar minder as tien millimeter water in is nie. En verder kyk ons in die koerant die foto’s wat wys hoe die water in die groot damme instroom. En ons het almal dosyne Whatsapps gekry wat sê hoe goed God is, dat Hy ons gebede verhoor en vir ons voorsien het.

En wat toe...? Wat het toe gebeur?

Die hele tyd wat ons in die verskriklike greep van hierdie droogte was, het ons die hele tyd oor en oor vir mekaar gesê dat God vir ons iets wil sê uit hierdie droogte. Dat Hy vir ons iets wil leer, as ons net kan agterkom wat. Predikers het dit elke Sondag en by elke groot saamtrek gesê. En nou wonder ek net na alles verby is, of ons dit toe ooit gehoor het. Wat het ons geleer uit hierdie droogte? Het ons hoegenaamd enigiets geleer? Ek weet ons het almal geleer wat die waarde van water is. Watter enorme, wonderlike gawe uit die hand van die Here elke druppel water is. Ons het almal geleer om aansienlik “groener” te leef in die proses.

Maar wat het ons as gelowiges geleer?  Hoe is ons anders daarna? Hoe lewe ons anders? Ek dink nogal daarmee kan Psalm 9 ons help

  1. Wat leer ons uit Psalm 9?

En dit bring my dieselfde vers as wat nog laas vir Dawid ook nuut laat kyk het na sy omstandighede. Ook vir ons lê die belangrikste les waarskynlik hier in vers 8: Die Here is Koning. Hy is in beheer. En die wonderlikste van alles is, Hy luister na ons noodroepe. En natuurlik lyk ons omstandighede ook nie altyd daarna nie.

Ons ervaar ook dikwels in ons eie lewe groot droogtes, waar ons hande in die hare sit en nie weet wat die oplossing is nie. Dit voel somtyds vir ons of Dag Zero ook vir ons lê en loer.

Maar as daar een ding is wat jy nou weer moet weet, is dat die Here Koning is. Hy is steeds in beheer. Nog ‘n droë winter sou sy skepping baie swaar laat kry het, en sy kinders sou saam met die diere en die plante gely het. Maar God het dit nie toegelaat nie. Hy het ingegryp en vir ons die reën gegee waarvoor ons so lank gevra het.

Dis iets waraaan ons mekaar nooit genoeg kan herinner nie. Sê dit oor en oor vir jouself, sodat dit deel van jou lewe raak, en jou uitkyk op die lewe begin verander. Herinner jouself daaraan dat God in beheer is, selfs wanneer dit vir jou donker begin raak, en die Here dalk vir jou ver voel. Herinner jouself daaraan dat Hy belowe het dat Hy sy kinders nooit sal vergeet nie, en dat niks of niemand hulle uit sy hand kan ruk nie. En God maak nie ligtelik beloftes nie. Hy staan daarby.

Hier staan immers: “Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ‘n toevlug, ‘n skuilplek in tye van nood. Daarom vertrou almal wat U Naam bely, op U, want U, Here, laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie...” En dis net daar wat ek vassteek. Want is dit nie dalk die sleutel van hierdie verskriklike droogte nie? Is dit nie dalk wat ons moes leer nie – ons wat eintlik vergeet het hoe om na die wil van die Here te vra? Ons wat eintlik so onafhanklik, so selfstandig geraak het? Moes ons nie eers weer leer hoe dit is om totaal magteloos te staan nie, en geen ander raad te hê, as om na God te draai nie?

En het ons toe die les geleer? Of gaan ons nou maar weer net aan? Ons het mos ons sin gekry, en die wêreld daarbuite is nat. Is ons nie al klaar besig om ‘n volgende droogte nodig te maak nie? Dit sal so tragies wees as alles verniet was. As ons niks geleer het nie.

Jy kan God vertrou. Maar dan moet jy loop in die voetspore van Jesus. Dan moet jy sy wil soek en dit doen, al vra dit wát van jou. Dan moet jy weer regtig afhanklik van Hom begin lewe. As jy dit nie geleer het nie, was die droogte tevergeefs vir jou...

AMEN