Kolossense 3:15-17

Datum: 1 Julie 2018

Prediker: Chris Barnardo

INLEIDEND

Vanoggend is baie spesiaal binne die De Eike familie. Oom Pieter en Petro wat 50 jaar saam as pasmaats vier. Wat is die resep dat twee mense al vir 50 jaar saam is?  Verseker genade.

Dan het ons vanoggend vir Petrus en Daniëlda Verster. As ek reg onthou het ek julle twee op 19 Maart 2016 in daardie prentjiemooi bos getrou. En vanoggend doop julle, julle eersteling.

In die week wat verby is het ek rondgeloop met die vraag: “Wat sê ek vir pasmaats wat 50 jaar getroud is en vir Petrus en Daniëlda wie se eersteling gedoop word? Wat sê ek vanoggend vir julle?

Maar dan verskyn Jesus altyd eerste op my radarskerm. En daarom is my tema vanoggend getuienis. Want getuienis beteken verhoudings. Ek en Wessie het onlangs op Whatsapp hieroor gesels. Hy sê toe vir my dat getuienis moeilik is want liefde praat is afdraande. Liefde doen is opdraande.

Daarom lees ons vanoggend saam uit Kol 3:15-17

INLEIDING

In die aanloop tot vanoggend se preek het ek baie nagte wakker gelê. Vele maal in die week wat verby is, moes ek van voor af begin preek maak. En dit voel vanoggend vir my asof ek nie klaargekry het nie. Ek voel heeltemal buite beheer. Dit is dalk die regte gevoel. Om op die kansel nie in beheer te wees nie, maar dat die Heilige Gees beheer neem.

Ek het genoem dat die tema wat op ons radarskerm verskyn, my en jou getuienis is. En met die gemeente se nuwe visie om as familie in die spore van Jesus te loop kraakvars in ons gedagtes, dink ek dat die tema heel gepas is. Hoe lyk jou getuienis? En as jy inkoop in De Eike se nuwe Visie dan kies jy onomwonde om vir Jesus as rolmodel te gebruik. Dan is, “back to the basics” die regte beginpunt in ons getuienissaak.

Want vriende. Alles waarmee Jesus besig was, was verhoudingsgerig. Jesus was nie besig met n tref en trap bediening tussen naamlose objekte nie. Jesus het verhoudings gebou, name gegee vir mense wat tot bekering gekom het. Jesus het die stories van mense geken. Hy het die lewe saam met mense gedoen. Hy het nie mense met die evangelie getref en dan getrap na ‘n volgende afspraak toe nie.  Mense was nie maar net objekte wat Hy moes verander nie. Hulle was regte mense. Jesus het verhoudings gebou.

Dieselfde geld vir ons as familie wat leef in die voetspore van Jesus. Ons kan nie staatmaak op eredienste nie. Verhoudings word nie hier gebou nie. Verhoudings gebeur buite hierdie kerkgebou, tussen mekaar, onbepland, spontaan. Gewoonlik buite die kerk. Dis waar die Here werk.

Maar dan die vraag. Hoe doen ek dit? Hoe leer ek om hierdie getuienisding te kan doen? Waar begin ons? By Jesus natuurlik! Dit geld vir ‘n pappa en ‘n mamma wie hul eersteling vanoggend laat doop. So geld dit ook vir hulle wat al 50 jaar getroud is. So geld dit vir elkeen van ons wat vanoggend hier is.

  1. Ons as familie het ‘n getuienis om uit te leef!

Om in die voetspore van Jesus te leef beteken onomwonde dat ons moet kyk hoe Hy geleef het. Hoe het Jesus gedoen en wat het Jesus gesê tydens Sy lewe op aarde?

Vers 17 help ons hiermee. . 17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Met ander woorde, wanneer ek in die Naam van Jesus dinge sê en doen, dan verander my hele uitkyk op die lewe en my hantering van mense.

Fees:

Jesus het nooit mense met die hel gedreig nie. Jesus het nooit die hel as bemarkingstrategie gebruik om die hemel aanloklik te maak nie.

Jesus se eerste plan is nie om mense in die hemel te kry nie. Jesus se eerste plan is om die hemel op aarde te kry!

Jesus het stories vertel! Daarom vertel Jesus tydens ‘n ete van die Fees in Lukas 14 21“Die slaaf kom toe terug en vertel dit alles aan sy eienaar. Toe word die man kwaad en sê vir sy slaaf: ‘Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.’22Later kom die slaaf sê: ‘Meneer, u opdrag is uitgevoer, en daar is nog plek.’23Toe sê die man vir die slaaf: ‘Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word.24Dit verseker ek julle: Nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie.”

Jesus begin met my lewe, by ‘n fees. Toe ek dood was, was Hy lewe. Toe alles in my donker was, was Hy Lig. Toe ek vêr was het Hy naby gekom.Toe ek verdwaal het was Hy die Goeie Herder. Toe ek dors was, was Hy Lewende Water. Toe ek honger was, was Hy die Brood wat Lewe gee. Toe ek nie geweet het waarheen nie, was Hy die Weg die Waarheid en die Lewe. Toe ek gevlug het, het ek in Jesus vasgehardloop. En Hy het my by ‘n feesmaal verwelkom. Hy het my doodskleed uitgetrek en vir my ‘n nuwe kleed aangetrek wat gewas is in die bloed van die Lam. Hy het my laat aansit by ‘n feesmaal. En my naam is in SY handpalm gegraveer.Hy het my laat aansit by die fees wat nie maar eendag gaan wees nie, want Jesus beteken lewe. En ek kan nie anders as om oor hierdie Fees te praat nie. Ons word vanuit die Fees gestuur om oor hom te gaan praat. Daar is nog plek by die fees. Gaan soek nog mense om saam te kom fees hou. Daar is nog plek. Gaan maak vriende met mense. Gaan soek my verlore eiendom. SODAT SY HUIS KAN VOL WORD!

Word Intensioneel in jou geloof:

17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus Elke dag is Jesus op my lippe en in my hande wanneer ek met mense in kontak kom. Om getuienis te lewer moet ons intensioneel in die wêreld wees – om waar daar nie smaak is nie sout te wees en saam met mense te kuier en die gemeenskaplikheid te beleef.

Die meeste kere wanneer die Here my gebruik is wanneer ek nie daarvoor beplan nie. Daarom doen en sê ek alles in die Naam van Jesus. In die ry by die bank. Langs die netbalbaan, by die vulstasie, in die ry by Binnelandse Sake. In my e-pos aan die persoon met wie ek verskil. Saans wanneer ek die voordeur sluit en net ek en my gesin in die huis is.

Oral is ek ‘n lig en gee ek smaak waar sout ontbreek. In alles wat ek sê en doen bou ek verhoudings met mense. Ek breek nie af nie. Ek brand nie brûe agter my nie. Ek doen moeite met mense. Ek ag alle mense as belangrik genoeg om saam met my om die tafel te sit. Dit is waar dinge gebeur.

Kuier, Kos, Kamp, Koffie:

Jesus het gekuier en en saam geëet. Om die tafel. Die beste plek waar verhoudings versterk en gebou word. Om die kampvuur word na Jesus se hande gekyk. Om die kampvuur sien ons mekaar se wonde raak. Om die kampvuur word ons familie. Jesus het dit geweet. Daarom het hy saam met mense ge-eet. Eet saam met mense. Dis die beste manier om vir Jesus te werk. Nooi mense en kyk wat gebeur. Jesus skrik nie vir sondaars nie. Jesus eet hulle in die koninkryk in.

Dit is tyd dat ons weer as gemeente saam eet. Die Bottelary-ete vind binnekort plaas Kom ons eet daardie Sondag middagete saam. Dalk moet ons weer ‘n osbraai hou. Hoekom nie? Op ‘n Vrydagaand weer groot pot maak. Charl, Clayton, Matt en die manne.

Die Senior Burgerklub is ook een van hierdie mooi dinge waar mense saam kuier. Word deel daarvan.

Ek wil weer in die lente gaan kamp. Kom gesels met my as jy saam met my hieraan wil beplan. Ek het ‘n juweel van ‘n kampplek op ‘n wynboer se plaas naby Bonnievale ontdek. Kom ons bespreek die hele Goudmyn kampterrein vir De Eike.

Dinge gebeur waar kamp, kuier, kos en koffie betrokke is.

En wanneer ons verhoudings bou, dan kom die vrymoedigheid om spontaan oor Jesus te praat.

Sê:

Ek is nie skaam om oor Jesus te praat nie. Rom 1:16 herhaal ek saam met Paulus. Ek skaam my nie oor die Evangelie nie want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerstens vir die Jode en ook vir die Grieke. Maar ek moet vanoggend bely. Ek het nie altyd plannetjies oor wat ek moet sê nie. Ek het nie ‘n kaartjie agter in my Bybel wat ek uitpluk by ‘n kanker pasiënt of by ‘n persoon wat verlies beleef nie. Ek ruk ook nie ‘n resitasie uit my beursie wanneer ek met die petroljoggie ‘n geselsie aanknoop nie.

Wanneer ek oor my gesinslede gesels gebeur dinge spontaan. Hoekom? Want daar is ‘n intense liefde betrokke, ‘n onmeetlike verhouding tussen my en hulle, en eindelose deernis vir vir my vrou, my kinders en kleinkinders. Wanneer ek oor hulle praat ruk ek nie ‘n vooraf uitgewerkte opstel uit nie. Nee die woorde spoel spontaan oor my lippe.

Wanneer my twee dogters by my kom spog oor hulle mans wat weer dit of dat gedoen, het dan gee dit mee eindelose vreugde. So is dit ook met Jesus. Ek is nie skaam nie. Wat ek sê of doen, doen ek met gemak in die Naam van Jesus. Ek nooi vir Jesus in elke gesprek in.

As jy dalk uit verskonings uitgehardloop het oor die feit dat jy nie weet hoe om geloof te leef nie, het ek vir jou vanoggend ‘n verrassing.

WIL JY LEER OM JOU GELOOF VLERKE TE GEE?

Kom woon dan die ALPHA -Kursus by. Tydens die kursus gaan jy geleer word om vanuit die Fees mense te gaan haal sodat Sy huis kan vol word.

Jy gaan leer dat Jesus elke dag op jou lippe en in jou hande is wanneer jy met mense in kontak kom. Sout waar smaak ontbreek en lig in die donkerte

Ons gaan elke Woensdagaand saam eet. Ons gaan om die tafels verhoudings bou en mekaar leer ken.

Ons gaan leer wat om te sê sodat ons nie tref en trap Christene is nie. Ons gaan mekaar help om nie skaam te wees vir die evangelie nie.

Gesinne moet weer ontdek dat om die tafel, verhoudings gebou word. Ons as ‘n familie in De Eike mag nie toelaat dat ons as familie lostorring nie. Kom ons skep geleenthede sodat ons verhoudings kan versterk en uitbou. Dan eers leef ons as familie in die voetspore van Jesus.

AMEN