Matteus 28:16-20
Datum: 24 Februarie 2019 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
Vanoggend gaan ek ‘n woord gebruik wat sommige mense verkies om nie in gemengde geselskap hardop te sê nie. Sommige mense sê dat hierdie woord NOOIT vanaf die kansel gebruik kan word nie omrede besoekers in alle waarskynlikheid die hasepad gaan kies. Daar is selfs mense wat hierdie woord as afstootlik beskou en baie ernstig is dat dit nooit gebruik mag word nie.
Ek is altyd in die moeilikheid. Net die diepte verskil. Daarom gaan ek hierdie woord gebruik. Ek hoop nie dat hierdie woord jou aanstoot gee nie. Ek praat van daardie “G” woord. GETUIENIS.
Ek hoop nie dat daar mense is wat aanstoot neem nie maar volgens my is dit waaroor vanoggend se Skriflesing gaan.
Kom ons kyk na Matteus 18:16-20
16Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan.
17Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het.
18Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.
19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en
20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
INLEIDING
Ek vermoed dat jy sal verstaan waarom ek dink dat hierdie Skriflesing oor die “G” woord gaan. Vers 16 begin begin met daardie imperatiewe werkwoord “GAAN” en dan al daardie woorde soos, Maak, Doop, Leer, Gehoorsaam, wat klink soos militêre opdragte wat gegee word.
GAAN is so ’n eenvoudige woord met ’n eenvoudige betekenis. Moenie net daar staan nie, GAAN. Doen iets! Neem julle plekke, Gereed, Gaan! Geen atleet in die wegspringblokke wat al hierdie woorde gehoor het, het al vir die afsitter gevra: “Wie, ek?
Vanoggend wil ek gesels oor die- Wie, Waar, Hoe en Hoekom van die “G” woord. Die Wie, Waar, Hoe en Hoekom van die opdrag GAAN en MAAK Dissipels.
- Wie
- Eerstens WIE? Ongelukkig tree meeste van ons op soos daardie uit-vorm, oorgewig man wat deur sy middeljaarskrisis worstel en een oggend besluit dat hy tennis wil begin speel. Hierdie persoon neem lesse by ’n professionele tennisspeler. Die persoon lees vele self-help boeke en kyk na YouTube, oor hoe om positief te bly en ’n wen ingesteldheid te kweek.
’n Vriend vra die persoon hoe dit met die tennis gaan. Met hierdie positiewe wen ingesteldheid in sy stem antwoord die persoon die vriend. Wanneer my opponent dien, kom my brein in beweging en sê vir my lyf : Hardloop na die net, slaan die bal met ’n rughand en kom terug tot in die middel van die baan. Dan sê my liggaam vir my brein: Wie ek?
Ek is oortuig daarvan dat dit ook die eerste reaksie van die dissipels was nadat Jesus aan hulle hierdie opdrag uitgedeel het. WIE EK?
En die antwoord. JA, JY! Paulus sê mos nie verniet daar in 2 Kor. 5:20 die volgende nie. 20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen.. Jy is ‘n Ambassadeur van Christus.
Wie ek? Ja jy!
Jy omdat JY baie beter daaraan toe is as EK of Hannes of Johan. Jy sien, almal dink dat dit deel is van ons posbeskrywing. Die meeste mense verwag van my en Hannes en Johan en van elke dominee binne die NG Kerk om oor ons geloof te praat of om betrokke te wees in hierdie hele Getuienis ding. Maar weet jy wat? Jy is presies die een wat Jesus sou kies om betrokke te raak by die “G” woord. Jy is uitgeknip vir hierdie missie. ‘’n Tipe geheime agent. Jesus het vissermanne, belastinggaarders en gewone mense gekies. Hy het nie een Fariseër of Sadduseër of Leviet op sy personeelsterkte gehad nie. Sy hele missie was deur gewone mense gedryf. En wat gebeur na Hemelvaartdag? Jesus se bieding het ontplof!
So sien jy. Dit gaan alles oor JOU ,wat oor HOM moet getuig! GAAN!
- Waar?
Dit bring ons onmiddellik by die volgende vraag. WAAR? Wel, die die werkwoord wat in ons ore moet weerklink is “GAAN” As ons nie GAAN nie, gaan ons nêrens uitkom nie. GAAN impliseer: Om in beweging te kom. Om Momentum te kry.
Het jy geweet dat 80% van mense wat deel word van die kerk sê dat hulle deur vriende genooi was. Net 9% kan aan dominees se werk toegeskryf word. En ek gee jou ’n raai wat is die persentasie wat deur kategeseskole bewerkstellig word? 2 %.
Ek wil nie ons dominees se teologie-grade afskiet nie, ek weet hoe hard ons studeer het. Maar die krag van lidmate, die krag van vriende en vriendskappe is baie meer werd as die grade in teologie wat ons drie dominees verwerf het.
In die boek, The Greatest Salesman Who Ever Was, maak die outeur die stelling dat die gemiddelde persoon 250 mense ken, sommige meer, sommige minder. Ongeveer 250 per persoon. Dit beteken dat indien elkeen van ons vanoggend net een aktiewe gelowige persoon erediens toe bring, ons teenwoordigheid by die oggend-erediens sal verdubbel. Dit sal beteken dat ons nuut sal moet dink. Nuwe eredienste, nuwe Bybelskole, nuwe bedieninge, dalk ekstra lokale en dalk sal ons nooit weer oor geld hoef te praat nie. Dalk sal ons nooit weer hoef te sê dat De Eike net 2 voltydse dominees kan bekostig nie. Dalk.
Wanneer Jesus sê: Gaan in die wêreld in, het Hy elkeen van ons geroep om ’n getuie te wees, ’n gesant, ’n ambassadeur. Dalk is daar baie van ons wat nooit die roeping sal kry om buite die grense van SA vir die Here te werk nie. Vir baie van ons is die sendingveld, die sendingveld van ons persoonlike wêreld. Die wêreld van mense wat jy ken en van hou, en wie jou ken en van jou hou. Die wêreld van jou familie. Die wêreld van jou vriende. “GAAN” Gaan soos een van lidmate wat dit haar missie gemaak het om Xhosa-Bybels aan die petroljoggies uit te deel. Gaan soos een van ons lidmate wat verlede week Bybels aan elke verpleegster In die Intensiewe Sorgeenheid van Kuilsrivier Hospitaal gegee het. Gaan, soos twee pasmaats gehoor het dat klere vir Nuwerus gestuur moet word en daar nie vervoer is nie. Vir hul eie rekening het hulle Nuwerus toe gery en klere gaan aflaai. Gaan, soos een van ons lidmate wat haar ontferm oor ’n weeskind op Nuwerus. Sy gaan Maandag vir eerste keer in haar lewe met ’n splinternuwe paar skoolskoene skool te. Kan jy vir jouself indink wat doen dit aan-aan-aan hierdie dogter se selfbeeld. Gaan! Wanneer die Gees in jou hart begin werk. Moenie uitstel nie.
III. Hoe
En dan is daar die hoë? Dit lyk so moeilik Ek het al baie keer met die MULTICHOICE afstandbeheer gesit en gewens dat ek die bediening ook so kan beheer. Klop aan die deur en druk die afstandbeheer en siedaar.
Vriende eintlik is dit so maklik. Ons maak dit vir onsself moeilik. Ons skuil agter verskonings. Eerstens moet ons die Gees van die opgestane Here vertrou. Vertrou die Heilige Gees. En vertrou die wonderwerk van God wat op so ’n wyse in ons lewens werk wat mense innooi en laat veilig voel.
Want ons kan nie mense dwing om dissipels van Jesus te word nie. Maar ons KAN bid vir hulle. In daardie gebed kan ons vra dat die Here in hulle harte op so ’n wyse sal werk dat Jesus ook ’n werklikheid in hulle lewens sal word. Vra dan dat die Here die regte woorde in jou mond sal plaas wanneer die geleentheid opduik.
Jy hoef nie op ’n intimiderende manier oor Jesus te praat nie. Ons kan bemoedig. Ons kan uitnooi. Ons kan ondersteuning bied. Maar ons los die harde werk , die hartswerk, vir Jesus en die Heilige Gees. Ons is nie op een of ander geestelike missie vol aggressie nie.
Die “HOE” is eenvoudig. Bid. Luister. Liefde. Leef jou geloof. En wees gereed om te “GAAN” wanneer die afsetter se skoot klap. Wees gereed om binne jou invloedsgebied die Jesus-storie te vertel. Vertel Hoekom dit vir jou belangrik is om in Jesus se voetspore te leef.
- Hoekom
- En dit bring ons vanoggend by die laaste vraag: “HOEKOM” Hoekom is dit vir jou belangrik om in Jesus se voetspore te leef? Ek het êrens gelees dat die kerk die enigste instelling is wat bestaan tot die voordeel van nie-lede. Hoekom sal ek wil getuig? Hoekom moet ek hierdie “GAAN” ding doen?
Daarom is die voor die hand liggende antwoord op die “HOEKOM” vraag eintlik baie kort en kragtig. Want Jesus sê so!
Dit is nie afdwingbaar nie. Dit is nie omdat ek woorde hoor sê: Omdat ek so sê!, nie.
Ons moet vanuit ’n ander hoek daarna kyk en vir onsself afvra: “Wat het Jesus vir ons in ons lewens gedoen?” Besef jy, hoe lief Jesus vir JOU is? Jy is SY geliefde kind.
Daarom wil ons hê dat mense God se liefde moet beleef. Ons wil hê dat mense die Here se vergifnis in hulle lewens moet ervaar deur die dood en opstanding van Jesus.
Ons wil hê dat mense moet hoor van Jesus se eindelose liefde.
Ons wil hê dat mense moet hoor van die Here se grenslose genade.
Hy wat die swakkes weer sterk maak en optel.
Hy is 24/7 beskikbaar.
Slot
Baie mense hou nie baie van die woord “GETUIENIS” nie. Maar dit is ons primêre opdrag.
Dit is wat Jesus bedoel wanneer Hy sê:
19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en
20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Ons MOET GAAN!. Dit is deel van dissipelskap. Maar ons word daaraan herinner dat ons nie alleen is nie. Jesus is by ons. Deur die krag van die Heilige Gees. En ons moet onthou dat ons nie ’n oordraagbare siekte het nie. Ons het ’n oordraagbare kuur vir sonde, vir eensaamheid, vir ’n lae selfbeeld, vir ’n gebrek aan sin in die lewe, vir ’n gebrek aan rigting en skuldgevoelens. En ons wil almal daarmee infekteer met wie ons in kontak kom.
Dus, wees gerus ontsteld deur my gebruik van die “G” woord. Getuienis is ons missie. Solank jy bereid is om te “GAAN en te “DOEN” wat Jesus sê. Kom ons vat mense se hande en kom ons stap saam met hulle kruis toe. Dis al. Dis genoeg.
Vanoggend is daar mense wat vir julle wil vertel, hoe hulle mense se hande vat, en saam met hulle kruis toe stap.
Henry Daniëls : Hoof van Huis Sonop by Stikland Hospitaal waar Meta van Deventer en haar span Woensdae hoop en liefde vir daardie mense bring.
Riaan Coetzer. Die nuwe Hoof van Huis De Kuilen.
Ds. Danie Murry. Werk al jare in Mosambiek. God se gestuurde vir mense wat vêr van hier is.
Prof. Stephan vd Watt. Japan Sending. SKYPE
GELOOFBELOFTEOFFER
GEBED
Amen