Efes.4:17 5:2.
Datum: 23 Oktober 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Party vrae kan jy net ignoreer en maak of jy dit nie gehoor het nie. Getroude mans doen dit al vir jare. Maar nie daardie vraag wat ‘n verslaggewer destyds eendag vir ‘n gesiene teoloog gevra het toe hulle ‘n onderhoud met haar gedoen het op ‘n lughawe in Europa nie. Tussen al die ander vrae wat hulle haar gevra het, het ‘n verslaggewer skielik vorentoe geleun en vir haar reguit gevra: Glo jy regtig dat mense kan verander? Natuurlik was daar onmiddellik ‘n geskokte stilte. Ek meen, dis sekerlik nie iets wat jy vir ‘n wêreldberoemde teoloog op ‘n lughawe vra nie. Maar weet jy ek is nogal bly dat hy dit gewaag het. Want dis ‘n geweldig belangrike vraag – een wat jy self vanoggend vir jouself moet vra. Ek dink dis dalk een van die heel belangrikste vrae van almal.
Glo jy regtig dat mense kan verander? Glo ons regtig nog dat dit ‘n wesentlike verskil maak dat jy aan God behoort, en Hom dien? Glo jy regtig dat God jou anders maak, dat Hy deur sy Gees die onmoontlike in jou moontlik maak, sodat jy al meer tot eer van God kan begin lewe? Glo jy regtig dat God mense nuut maak, soos ons in die kerk glo en bely? Want jy sien, alles staan en val hierby! As ons hieroor onseker is, of dalk sukkel om ‘n klinkende Ja! daarop te antwoord, weet ek regtig nie wat maak ons vanoggend hier nie. As jy nie vanoggend kerk toe gekom het in die vaste oortuiging dat hier iets kan gebeur wanneer ons die lewende Woord van God oopmaak en aan die Here se tafel aansit nie, wat sal maak dat jy bietjie anders hier sal uitstap nie, dan weet ek nie wat maak ons hier, en of ons regtig kerk is nie.
Hierdie is nie sommer net ‘n hipotetiese vraag waarop jy maar die een of ander vae antwoord op kan gee, of wat jy dalk maar kan maak asof jy dit glad nie gehoor het nie. Dis lewensbelangrik. Glo jy regtig dat mense kan verander?
En daar is natuurlik ‘n rede hoekom die verslaggewer hierdie vraag vra. Want die hartseer werklikheid is dat dit ongelukkig meeste van die tyd glad nie so lyk nie. En die mense wat ons goed ken, sien dit raak. Jy kan ongelukkig nie regtig in ons lewens sien dat die Gees mense verander nie... ‘n Duitse teoloog vertel die verhaal van ‘n oom wat ‘n ou skoolvriend na baie jare raakgeloop het. Die vriend was baie bly, en hy het dadelik vir hom gesê: Liewe land, jy het dan nog niks verander nie! Daar staan dat die oom op die plek doodsbleek geword het. Want dis die een ding wat niemand ooit van jou mag sê nie. Dat jy nog net dieselfde is as tien jaar gelede nie. Dat jy niks verander het nie. Ons moet steeds verander...
- Die Indikatief lê ten grondslag.
Wat gaan ons dan daaraan doen? Is die antwoord dat ons net nie hard genoeg probeer nie, en dat jy regtig moet huis toe gaan en harder gaan probeer? Sal dit help? Ek vrees nie. En dit lyk my Paulus ook nie. Daarom begin hy nie daar nie. Nee, in plaas daarvan herinner hy ons eerder aan wie ons is. Jy is nie sommer enige hierjy nie. Nee, jy moet altyd onthou dat “Die Gees van God jou beseël het met die oog op die verlossingsdag...” Vreemde woorde, maar Paulus bedoel in alle waarskynlikheid daarmee: Julle is mos gedoopte mense...
En dis waar ons gesprek moet begin. Jy moet vanoggend net weer onthou dat God in genade eerste sy hand na jou toe uitgesteek het, selfs voordat jy eers daarvan geweet het of daarna gesoek het. Jy het die merk van die Here op jou voorkop ontvang, en jy dra dit sedertdien, die merk wat jou identifiseer as iemand wat wat deur die Here aangeraak is. God het daar al sy beloftes aan jou toegsê, op jou naam, sodat jy dit net vir jouself kan toe-eien sodat jy jouself sy kind mag noem. En baie van ons het dit al op die een of ander stadium in ons lewe gedoen. Jy dra God se Naam. Jy is as sy eiendom gemerk.
Maar die vraag is net: lewe jy só dat mense dit sien?
- Die Imperatief wat daarop rus.
Maar dalk wonder jy nog altyd soos daardie verslaggewer. Waarvan praat Paulus? Hoe lyk die lewe van ‘n gedoopte mens? En dan kom gee hy vir ons vyf merkers. Hy gee vir ons altesaam 5 punte waaraan jy ook jouself moet meet. Kom ons kyk daarna:
Die eerste is: 'n Gedoopte vertel nie leuens nie. Dit beteken nie net dat ‘n gedoopte nie die heeltyd met wolhaarstories rondloop nie. Daar is veel meer op die spel! In ‘n enkele woord kan jy sê: ‘n gelowige kind van die Here se integriteit staan bo verdenking. Ons speel nie vir mense ‘n rol, en dan is ons agteraf totaal anders nie. ‘n Gedoopte lewe nie leuens nie. Hy is wie hy is, wat jy sien, is dit wat hy is, en daarom kan almal te alle tye op hom of haar peil trek. Soos Jesus gesê het: Sy Ja is Ja en sy Nee is Nee. Sy lewe hier op ‘n Sondagoggend strook honderd persent met wie hy vanmiddag by die huis is, en wie hy Maandag tussen sy kollegas is. God se kinders lewe nie ‘n leuen nie.
‘n Tweede merker is: ‘n Gedoopte gee nie toe aan woede nie. Die woord daarvoor is selfbeheersing, en soos jy weet is dit deel van die Vrug van die Gees. Woede-uitbarstings wys eintlik maar net jy is nog hopeloos te belangrik vir jouself. Jy wil nog jouself laat geld, en daarom mag niemand jou te na kom nie. Maar God se kinders behoort nie meer aan hulleself nie. Hulle hoef nie meer heeltyd vir hulleself te keer en te sorg dat hulle hulle sin kry nie. Woede het geen plek in ons lewe nie.
En in die derde plek staan hier: 'n Gedoopte steel nie. Natuurlik breek gelowiges nie in in ander mense se huise en loop met hulle TVs weg nie. Hulle vat nie goed wat nie aan hulle behoort nie. Maar weereens is daar meer aan as net dit.
Dit sê ook iets van ‘n gelowige se instelling teenoor alle materiële goed. Dit oorheers nie meer ons lewe nie. Ons hoef nie meer alles in ons vermoë te doen om net meer daarvan in die hande te kry nie. Ons kan mekaar selfs gun wat die Here vir ons gee. Ons is tevrede.
Die vierde punt gaan oor wat mense van ons hoor. Vuil taal kom nie uit ‘n gedoopte se mond nie, staan hier. Oppas wat jy sê. Dit wat uit jou mond borrel wys baie duidelik wat binne-in jou aangaan. Mense kan onmiddellik hoor aan wie jy behoort. Dit wat gelowiges praat, is opbouend en positief. Hierdie afgelope naweek het ek weer ‘n troosdiens gehou van ‘n tannie van wie die hele ouetehuis getuig het dat sy nooit iets leliks van enigiemand gesê het nie, en nooit geskinder het nie. Wees baie versigtig wat jy sê...
Die laaste punt sluit eintlik aan by nommer drie, as Paulus sê: ‘n Gedoopte is nie bitter of opvlieënd nie. Die sleutelwoord is vergiffenis. Ons het almal mense vir wie ons kwaad kan wees, maar as jy bitterheid met jou saamdra vergiftig jy net jouself. Laat dit agter. Bewustelik, soos God jou sonde agtergelaat het. Wys vir die mense om jou dat jy verstaan van vergiffenis, dan sal hulle jou dalk glo as jy sê dat God ook vir jou vergewe het.
Op die ou end bou dit alles op tot by Paulus se slotopmerking. Hoe lyk ‘n gedoopte? Hy vat dit saam: Gedooptes is “goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het."
Slot
Wat my dan weer bring by die vraag wat die verslaggewer die dag vir Dorothy Sölle op die lughawe gevra het: "Kan mense verander?" Kan ek verander? Sy het geen oomblik gehuiwer nie. Haar antwoord was JA! Mense kan verander – hulle kan wel nie hulself verander nie ? maar God kan hulle verander... En daarom stuur ek jou nie vandag huis toe om te gaan verander nie. Ek weet jy gaan dit nooit as te nimmer regkry nie. Maar in plaas daarvan, wil ek jou eerder nooi om hier saam met my aan die nagmaalstafel te kom aansit... Kom gee jouself opnuut aan God. Laat die tekens van God se liefde en genade deel word van jou, laat dit deur jou spoel soos ‘n brander. Laat die Gees van God jou verander...