Heb. 1:1-4

Datum: 7 Oktober 2018

Prediker: Hannes Burger

God praat op dikwels en op baie verskillende maniere met ons.

Dit was net mooi die tyd wat die aandwind opkom, vertel die Bybel ons. In daardie deel van die wêreld is dit die wonderlikste tyd van die dag. Die aandluggie wat begin trek, wys duidelik dat die ergste hitte van die dag vir eers verby is. Jy kan weer begin asemhaal en dit buite waag. Maar die mens kon dit nie geniet nie. Want hulle het geweet dat hulle iets gedoen het wat alles opgemors het. Hulle het al God se liefde in sy gesig teruggegooi deur presies die een ding te doen wat Hy hulle gevra het om nie te doen nie. En soos die sonde maak, gaan hulle Hom nie opsoek om verskoning te vra nie. Hulle kruip eerder tussen die bome van die tuin weg. Ironies genoeg, want waar kruip jy weg vir Een wat alles sien?

Hulle probeer God vermy, maar God vermy hulle nie. Ja, Hy is vir seker teleurgestel in hulle ongehoorsaamheid, maar sy liefde is groter as dit. Toe kom soek Hy hulle op. Hy roep hulle om die saak uit te praat. Want dis hoe God is.

Ons aanbid ‘n God wat kommunikeer. Dis een van God se mees uitstaande eienskappe. Naas die feit dat Hy liefde is, en alles wat Hy doen en sê daardeur gekenmerk word, laat God ons nooit in die duister oor wat sy plan vir ons is nie. Hy doen dit op die eerste bladsye van die Bybel al, as Hy vir Adam en Eva soek om met hulle te praat. Hy doen dit met Abraham, as Hy uit die bloute ‘n gesprek met hom aanknoop en ‘n ooreenkoms met hom aangaan, wat eintlik die geboorte van God se volk is. Hy doen dit met Moses uit ‘n brandende bos, en met die volk op die tog deur die woestyn. Hy praat met sy volk eers deur Moses en dan deur sy profete, mense wat Hy roep om vir die volk te gaan sê wat Hy van hulle vra. Dwarsdeur die hele Bybel leer ons Hom ken as die God wat praat.

En nou hoef ek natuurlik nie vir jou te sê dat Hy nog niks verander het nie. Hy bly nog steeds God wat elke dag op duisende maniere met jou praat. Hy doen dit deur aangename en deur slegte dinge wat oor jou pad kom. Hy doen dit deur goed wat jou asem wegslaan en jou sprakeloos van verwondering laat, en Hy doen dit deur goed wat jou laat sukkel om jou trane weg te sluk. Maar Hy bly met ons besig. Hy praat met ons.

In die teologie het ons ‘n naam daarvoor. Ons noem dit die algemene openbaring.

Dis al die duisende goed waarin ons elke dag die hand van God kan sien. In die natuur daarbuite, wat woordeloos vir ons vertel hoe wonderlik God is wat dit alles gemaak het.

In die woorde van Psalm 19: Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. Sonder spraak en sonder woorde,  onhoorbaar is hulle stem. Tog gaan daarvan ’n boodskap uit oor die hele wêreld en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde.

Dit is daar. Vir elkeen wat net sy oë en ore wil oopmaak. Paulus sê reguit aan die Romeine dat daar geen verskoning is vir enigeen wat nooit gehoor het nie. Want as jy God se stem nie gehoor het nie, is dit omdat jy dit nie wou hoor nie, sê hy. Maar juis omdat God so vol genade is, volstaan Hy nie daarmee nie. Dis nie al manier waarop Hy met ons praat nie. Hy praat natuurlik ook met ons deur wat ons die besondere openbaring noem: God praat nie net met ons in die natuur daarbuite, wat jy dalk nog verkeerd kon verstaan nie. Hy praat baie spesifiek ook deur die Woord en die sakramente. God se besondere openbaring.

  1. God se openbaring in die ou bedeling

Maar ongelukkig is die Bybel natuurlik nie net die verhaal van God wat kommunikeer nie. Dis ook die verhaal van mense wat weier om te luister. Net soos Adam en Eva destyds in die tuin wegkruip en maak of hulle nie die Here hoor nie, so het God se mense dwarsdeur die Ou Testament gemaak asof hulle Hom nie hoor nie. Al het God telkemale die stilte gebreek, en sy profete gestuur, het dit sy volk gepas om te maak asof hulle Hom nie hoor nie. Daar was geen verskoning voor nie. Maar dit herhaal homself soos ‘n refrein dwarsdeur die Bybel.

  1. Die Seun as God se openbaring

Jesus vertel self van die grondeienaar wat die een na die ander boodskapper na die huurders toe stuur om die huurgeld wat hulle hom skuld vir die stuk grond te verhaal. Maar hulle weier om na die boodskappers te luister, en mishandel selfs van hulle op die ou end. Dan besluit die koning: Wel, hulle steur hulle nie aan my boodskappers nie. Maar as ek my seun sou stuur, sal hulle sekerlik die erns van die situasie besef en hom die respek gee wat hom toekom.

Dis toe presies wat God doen. Toe die volk hulle nie regtig aan sy profete steur nie, stuur Hy die Een wat tog net absoluut ondenkbaar sou wees dat hulle Hom sou ignoreer. Hy stuur sy eie Seun. En in Jesus breek daar ‘n nuwe bedeling in God se kommunikasie aan. God kom praat met ons deur sy eie Seun. Dit was onmiskenbaar God se woorde, want, sê die Hebreërskrywer: Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.” Nou is die era van hoorsê verby. Ons hoor nie meer by iemand wat gehoor het van God nie. Jesus is die ewebeeld van die wese van God. Hy is self God, en wanneer Hy praat, hoor ons God se eie stem.

As die verhaal van God se kommunikasie met ons hier gestop het, sou dit al klaar te wonderlik vir woorde gewees het. Maar toe breek Pinkster aan....

  1. Maar wat sê dit vir óns?

God wou regtig seker maak jy hoor Hom. Daarom gaan Hy toe selfs nog verder. Na Pinkster sou dit nooit weer nodig wees dat Hy hoorbaar met jou sou praat, soos met Moses by die brandende bos of Elia by die bek van daardie grot  nie. Want op Pinksterdag gebeur die wonder waarvan selfs Moses of Elia nooit kon droom nie. Die almagtige God kom woon self deur sy Gees binne-in jou. In eenvoudiger Afrikaans: God kom woon self in jou. Nou praat Hy duideliker as ooit met jou. Al wat jy hoef te doen, is om net bietjie tot stilstand te kom en Hom kans te gee om met jou te praat. Jy moet net ‘n slag luister. Dan kan jy jou probleme, jou lewe voor Hom lê en Hom toelaat om jou te lei en vir jou die pad te wys.

Dis die onteenseglike hoogtepunt van God se kommunikasie met ons. Op Pinksterdag wys God hoe graag Hy deel wil wees van jou lewe; hoe graag Hy jou as sy kind naby aan Hom wil hê. Nader kom dit nie. Meer effektiewe kommunikasie is nie moontlik nie. Dit is die toppunt van kommunikasie.

En wat hoor jy by God? Die skokkende is dat meeste Christene reguit kla dat hulle God nie hoor nie. Hulle sê hulle weet nie wat sy wil is nie, en kan dit daarom nie doen nie. God voel vir hulle veraf. Dit voel asof Hy hulle ‘n koue skouer gee.

Hoe kan dit moontlik wees? Waar kan die fout lê? Ek vra dit met heilige huiwering, maar lê die fout nie dalk by God nie?

Kom ons speel ‘n speletjie. Baie huwelikspaartjies kom kla by my dat hulle mekaar nie meer regtig hoor nie. Ek weet nie wat gaan in my maat se kop aan nie, want ons praat nie meer nie en hy luister ook nie meer na my nie, hoor ek dikwels. Wees jy nou vanoggend die huweliksberader. Kom sê my: Wat dink jy is die raad vir so ‘n verhouding? Wat sou jy hulle aanraai?

Julle moet weer tyd maak vir mekaar. Maak dit ‘n prioriteit om regtig by mekaar uit te kom. Sit om hemelsnaam ‘n slag daardie selfone af, en sommer die TV ook terwyl julle besig is. Kyk na mekaar. En as daar te veel aandagdiewe in jou huis is, gaan bietjie weg. En leer weer praat met mekaar. Luister na jou maat. En begin self ook weer praat oor jou gevoelens. Nie oor hoe jy oor die verkiesing van volgende jaar voel, of oor Pietie se komende matriekeksamen nie.

Maak weer tyd soos toe julle uitgegaan het. Ek en Adri was die dag met haar verjaarsdag weer in Stellenbosch se botaniese tuin. Toe onthou ek weer hoeveel ure ons daar op die gras in mekaar se oë sit en staar het. Niks was belangriker as om al jou tyd vir die ander een te gee nie.

Dis hoe verhoudings werk. Dis hoe ons verhouding met die Here ook werk. As jy dink jy kan Hom afskeep en nooit tyd hê vir Hom nie, en nog altyd weet wat sy wil is, lewe jy in ‘n gekkeparadys. Maar as jy tyd maak vir Hom, op Hom fokus en Hom kans gee om met jou te praat, sal Hy jou nie teleurstel nie. Want Hy is ‘n God wat kommunikeer.

Ook vanoggend, hier deur die doop. Maak net jou oë en jou ore wyd oop. God wil nóú met jou praat... Leer net weer luister...

DOOPFORMULIER