1 Samuel 16:1-13

Datum: 22 Maart 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

Ek moet bely, ek was verbaas toe die Here my hierdie week lei na die verhaal van Israel wat ‘n nuwe koning moet kry. Ek kon nie lekker kleinkry wat dit met Lydenstyd te doen het nie. Of met die Corona-virus nie. Wat ek darem wel duidelik kon raaksien, is dat Israel in hierdie tyd ook ‘n baie ernstige krisis van hulle eie beleef het. Dalk is dit die aansluitingspunt, het ek gewonder. Die feit dat dit ook ‘n moeilike tyd vir God se volk is. Die nuwe koninkryk waarop hulle so aangedring het, was vinnig aan die verbrokkel. Hulle heel eerste koning - menslike gesproke ‘n uitstekende keuse, die ideale koning - het die koers byster geraak. Hy het sy rug op God gedraai, en as gevolg daarvan het die Here sy koningskap verwerp.

Dis hoekom die Here hier na sy profeet toe kom. Foei tog, ‘n mens moet nogal regtig voel vir ou Samuel. Presies dít waarteen hy die volk gewaarsku het, het nou gebeur. Maar hy verlekker hom nie daarin nie. Hy ween daaroor. Hy is letterlik in rou daaroor...

Maar God is anders as ons. Onhanteerbare situasies laat hom nie raadop vassteek nie. En Hy staan ook nie met sy hande in sy hare oor hierdie krisis waarin sy mense nou is nie. Nee, God is Samuel klaar een voor: Hy het reeds iemand anders geïdentifiseer, om sy mense se nuwe koning te wees, en hulle in gehoorsaamheid aan die Here te lei... Dis hoekom Hy vir Samuel stuur na Isai se plaas toe.

  1. God verras vir Samuel (en Issai!)

Maar kyk nou net mooi wat gebeur hier. Duidelik het Samuel (en Issai!) tipies menslik geredeneer: Nóú het Israel ‘n sterk leier nodig, iemand wat die krisis die hoof kan bied en sommer vyande kan kortvat wat die situasie probeer misbruik. Ja, die volk het nou ‘n dinamiese held nodig, wat hulle bymekaar kan hou en hierdeur kan lei. Iemand soos Issai se oudste seun, byvoorbeeld: ‘n indrukwekkende, dinamiese jong man net soos Saul was!

Maar toe lyk God se plan mos heel anders. God het nie die groot, dinamiese oudste broer gekies, of sy ewe indrukwekkende ander broers nie. God verras selfs hulle eie pa – Hy kies die kleintjie, die enetjie wat die ander nie eens die moeite werd geag het om agter die skape te loop uithaal en saam te bring om oom Samuel te ontmoet nie. God kies vir Dawid, want die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie, sê Hy self vir die profeet in vers 7. Hy sien nie eens hulle dinamiese persoonlikheid en indrukwekkende voorkoms raak nie. Hy kies vir Dawid...

En soos hulle sê, die res is geskiedenis... Selfs met al sy foute, leer Dawid sy mense dat hulle almal skape van die Here se kudde is; hy leer hulle om die Here te dien. Dis die dat die Bybel sê: “Van hom het God gesê: ‘Ek het in Dawid seun van Isai ’n man na my hart gevind” (Handelinge 13:22). Die kleinste enetjie, wat niemand raakgesien het nie, ‘n man na God se hart...

  1. Jesaja en Jesus.

Maar dis natuurlik nie al keer wat God ons verras in die Bybel nie. Gaan lees maar hoe skrywe Jesaja in Jesaja 53 oor die Kneg van die Here: Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?  Die dienaar was soos ’n loot wat voor die Here uitspruit, soos ’n plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie. Hy was verag en deur die mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor ons oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom...”

Weereens is dit duidelik dat God se Kneg nie voldoen aan menslike standaarde nie. Uiterlik stel hy teleur. En laat ons nou maar eerlik wees, sy oorwinning lyk op die eerste oogopslag vir ons na ‘n totale fiasko. Toe sy dissipels op Goeie Vrydag gebroke by Golgota weggedraai het huis toe, het nie een van hulle die vaagste idee gehad wat daar voor hulle oë gebeur het nie. Min van ons sou die Seun van God herken in die eerste deel van Filippense 2:6-11. Die kruis en Golgota lyk vir ons vernederend en tragies, eerder ‘n bitter slegte Vrydag as ‘n Goeie een. Maar daarsonder sou daar nooit die triomf van die tweede deel van Filippense 2 kon volg nie.

Sonder Matteus 27 sou daar geen Openbaring 5 in ons Bybel kon wees nie... Wie sou dit kon sien kom? Wie sou dit kon glo, as ons daarvan vertel is? Vir wie van ons sou Hy daar aan die kruis na die Seun van God lyk...? Maar dis hoe God werk. Hy verras ons telkens, deur heeltemal anders te werk as wat ons sou verwag.

  1. Die “ongekarteerde waters” van die Corona-virus.

En so kry ek toe die week eindelik my antwoord. En weereens het die Here my verras uit 1 Samuel 16. Want wat het Dawid se salwing nou eintlik met Lydenstyd te make? Of met die krisis wat op die oomblik dwarsoor die wêreld heers? Die eenvoudige antwoord is: Alles. Want steeds werk God op maniere wat ons nie kan verstaan nie.

En ek moet bely, ek verstaan nie wat nou aan die gang is nie. Dis vir my baie swaar dat hierdie die enigste manier is waarop ek dié week met julle sal kan kommunikeer, en dis selfs nog moeiliker om vir myself ‘n Paasnaweek voor te stel sonder dat ons saam om die tafel van die Here kan sit. Maar weet jy, ek vermoed God het dalk ‘n plan daarmee ook. Hy is dalk nou besig om ons op reis te vat na ‘n nuwe manier van kerk-wees. Dalk wil Hy jou ‘n nuwe manier leer om Hom te ervaar. En as jy dalk daardie Vrydagoggend saam met jou gesin op julle eie in sosiale isolasie stil word, gaan jy Hom dalk ervaar soos nog nooit tevore nie. Natuurlik sal dit nooit die erediens kan vervang nie. Maar ek dink dit kan ‘n ongelooflik wonderlike ervaring wees... Wie weet, dalk is Hy nou net besig om ons te leer om regtig onvoorwaardelik te vertrou, dalk berei Hy ons voor op heeltemal ‘n nuwe fase in ons verhouding met Hom...

Dalk gaan die kerk in jare wat kom, terugkyk na hierdie weke van sosiale isolasie en dit koester as ‘n kosbare geloofsreis saam met God, wat ons vir niks sou verruil nie. Maar dan is dit nou tyd dat ons begin ophou kla en begin om regtig stil te word en fyn te luister. Dis tyd vir jou “Tent van Ontmoeting”...

AMEN