Psalm 127

Datum: 29 Mei 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

INLEIDING

Ek kan nie ’n simfonie skryf met Psalm 127 as riglyn nie. Daarvoor is ek nie geroep nie. Ek kan wel bietjie lewenservaring met julle te deel.  Dit is waarvoor die Here my geroep het. Ek staan eerste in die ry wanneer die Here deur Psalm 127 met ons praat. Want ek as Pa moet my drie kinders se voete was. Oom Bokkie, Cassie en Dirk sal weet dat ons destyds as Staande Mag lede vir lang tye weg van ons huise af was. Nooit het ons daaroor gekla nie. Daar was ’n tyd toe ek vir ’n week weg gaan werk het en ’n jaar later eers weer terug was by die huis. Ek het nie vir Anje, toe ons jongste op daardie stadium herken nie. Ek het gedink dit is een van Lize se maatjies. Carina moes my reghelp.

 

Daar was ’n tyd toe ek in die oggend vir Carina en ons drie kinders voor werk groet en daardie aand uit Port Elizabeth bel om te sê dat ek nie by die huis slaap nie. Carina moes in daardie tye alleen die kinders grootmaak, die gras sny, motor laat diens. Noem maar op. Ek moet Carina se voete ook was.

 

Toe gaan studeer ek voltyds teologie. Lodewiek eerste vol sin as klein seuntjie was: “Pappa leer.” Want dit is wat Carina vir kinders gesê het terwyl hulle saggies in en om die huis gespeel het.

 

Toe ontvang ek ’n beroep na De Eike. En my oudste dogter wil in haar matriekjaar nie meer eredienste bywoon nie. Sy was kwaad vir die kerk want “dit is die kerk wat Pappa van ons weghou as gesin”: Het sy gesê. Ek was so loopbaan gedrewe dat ek die kerk in die kleine, my gesin afgeskeep en vergeet het.

 

Ek, die afwesige Pa van destyds moet vanoggend my vrou en ons kinders se voete was. Daarom kan ek vanoggend met groot vrymoedigheid die Woord vanuit Psalm 127  verkondig. Mag ek jou ’n vraag vra: Wat dryf jou op hierdie stadium van jou lewe?

Jou loopbaan? Waarvan droom jy op hierdie oomblik?

‘n Groter huis?

’n Beter motor as die een wat jy het?

Almal droom van ‘n huisie by die see.

Solank daardie seehuisie nie in KZN is nie.

Waarskynlik wonder jy nou oor hierdie dominee. Hy is onsensitief. Is dit sy manier van ‘n grappie maak? Probeer hy snaaks wees? Hierdie ou het my verloor want dit is glad nie snaaks nie. Tog vermoed ek dat ek nou jou aandag het want as ek vanoggend gesê dat meeste huise in ons land nie meer tuistes is nie, het jy waarskynlik jou nie daaraan gesteur nie.

‘n Tuiste, wat is ‘n tuiste? Anders as ‘n huis of ‘n woonstel is ‘n tuiste die plek waar gesinne onbevange net hulleself kan wees. ‘n Tuiste is ‘n veilige plekkie waar gesinne kan gedy en waar liefde seëvier. ‘n Tuiste is die plek  waar die Here elke dag besig is met bouwerk, aanbouings en herstelwerk sodat gesinne stewig en vas die storms van die lewe in die gesig kan staar. ‘n Tuiste is die plek waar die Here die ereplek in ons huis inneem en waar elke lid van die gesin weet dat God alles en in almal is. Dit is ‘n tuiste.

As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.

‘n Engelse vertaling van hierdie vers het my nogal laat dink:

“Unless the Lord builds a house, the work of the builders is useless.” (Psalm 127:1)

Useless...Nutteloos

As die Here nie die huis bou nie, is bouwerk van die bouers nutteloos.

Wanneer die deur in God se gesig toegeslaan word, is so ’n huis nutteloos, useless.

DIE GESIN IS EEN VAN GOD SE MEESTERSTUKKE

Gesinne was en is God se idee. Dit was God wat die eerste vrou vir die eerste man gegee het. Dit was God wat die eerste kind vir die ouers gegee het. As daar een ding in die lewe is wat God wil hê ons in orde moet kry en in orde hou, tesame met ’n intieme persoonlike verhouding met hom, is dit ons huise. Huise moet in tuistes omskep word. God soek na geloofsgroei binne gesinne.

Maak nie saak wat jy doen of waarmee jy besig is in die lewe nie, wanneer jy ’n ouer word, ’n pappa en ’n mamma, en jy faal in jou verantwoordelikheid om jou kind binne die wil van God op te voed, is alles wat jy tot dusvêr bereik het in die lewe tevergeefs. Useless, soos dit in die Engelse vertaling lees.

Wat kan jy saamneem hemel toe?

Jou pragtige huis en die weelde binne die huis? Nee

Jou weelderige motor? Nee

Jou Ford bakkie? Nee

Jou suksesvolle loopbaan? Nee

Jou seehuisie? Nee

Jou tyddeel by die daardie weelderige Lodge langs die Krugerwildtuin? Nee

Wat kan jy saamneem hemel toe?

NET JOU KINDERS!

Daardie weerlose onskuldige kids, wat nie gevra het om hier te wees nie. Daardie geskenke van God wie se eerste huil in die teater jou asem weggeslaan het.  Daardie geskenke van die Here wat soveel vreugde aan ons verskaf. Daardie geskenke van die Here wie se foto’s pryk op jou selfoon en al die sosiale media platforms.

Maar ook daardie geskenke van die Here (vers 3) aan wie ons soms soveel afskeep tyd gee. Die besittings van God wat my net hoor, wanneer ek blaf tydens my irritasie tye en oomblikke van frustrasie.

Is ons besig met bouwerk of doen ons brouwerk! Tuimel ons tuistes inmekaar of is ons tuistes vir God ’n plesier om vir die wêreld te wys. Kom kyk! Kyk na my gesinne, sê  God. My trots en my vreugde! Vanoggend se vraag is: Wat maak jy met jou geskenke wat die Here vir jou gegee het.

As ek na ons geliefde land en haar mense kyk wil dit lyk asof ons God se geskenke opmors, verwaarloos, verrinneweer en flenters maak.

Hulle staan weerloos en as gevolg van baie onverantwoordelike ongelowige ouers gaan hierdie kinders waarskynlik in die toekoms USELESS wees. En dit is onbillik en onregverdig.

Maar dan sien ek ouers wat daardie ekstra myl loop, wat nie ophou om hulle kinders lief te maak vir die Here nie. Ouers wat bereid is om toerusting te ontvang sodat hulle nog beter ouers kan wees. Hulle vra heeltyd. Wat moet ons doen? Hoe kan ons as ouers nog beter ouers wees. Die antwoord lê in hierdie wysheid van Salomo.

PAPPA EN MAMMA, WEES ’N PARATE VOETSOLDAAT (KRYGSMAN EN KRYGSVROU)

Enige persoon wat al in die Weermag was sal vir jou kan sê dat paraatheid onbeskryflik belangrik is. Tweedens, dat jou toerusting en wapens elke dag in ’n werkende toestand sal wees.Jy is nie paraat met net ’n geweer teen jou skouer en ’n leë magasyn nie.

Net so min soos ’n boogskutter sonder pyle in sy koker. Daardie pyle moet elke dag nagegaan en versorg word. Die pyle moet glad poleer wees sodat maksimum afstand en slaankrag bereik word. Die boogskutter moet toesien dat die pyle se punte skerp is. Die teiken moet elke keer getref word. Die boogskutter sny nie ’n paar stokke van ’n boom af en sit dit in sy koker nie. Nee, die boogskutter sorg dat hy goed voorbereid is vir die geveg. Pappa en Mamma, julle is die voetsoldate, die boogskutters.

Julle kinders is die pyle in julle hande waarmee julle die geestelike oorlog baklei. Hoor dit weer. Julle kinders is die pyle in julle hande. Hoe gaan dit met julle geloofsonderrig aan jul kinders in julle huise? Of dink julle dit is die dominee en die kategese se werk? Vind daar geestelike versorging in die gesin plaas? Poleer julle die pyle, rond julle die pyle geestelik af. Hoe lyk die skerppunte van julle pyle? Dink julle hulle sal goed doen in die geveg. Skiet julle sommer uit die heup en hoop dit is mog getroffe? Of word daar sekuur na die teikens geskiet?  Sorg julle dat julle kinders die teikens  tref?

Liewe vriende, vanoggend se Psalm sê vir my dat kinders deur God gegee is sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik en dat jy as ouer die verantwoordelik het vir die geestelike versorging van jou kind.

SLOT

Vanoggend het ek die onbeskryflike voorreg om my kleinseun Christiaan Barnardo te doop. Lodewiek en Yolanda, ek weet dat julle nie met Christiaan mors gaan nie. Ek weet dat julle alles in julle vermoë gaan doen  sodat Christiaan elke keer die teiken reg tref. Op julle knieë, in geloof, weet ek dat julle jul verbondsverantwoordelikheid gaan nakom.Christiaan is ’n geskenk aan julle gegee uit die hande van die Here. Julle bepaal of Christiaan die teiken gaan tref.

Met liefde, versorging en geloofsgewoontes kan julle hom toerus om net die beste in die oë van die Here te wees en die wêreld te wees. Julle maak vanoggend ’n belofte dat julle dit sal doen. Skep ’n tuiste vir hom en sorg dat julle drie elke dag afhanklik van die Here bly.

Ek sluit af.

Liewe ouers en voogde, pa’s en ma’s, julle sal nooit enigiets groter in julle lewe bereik of met julle lewe doen as om seker te maak dat julle kinders op so ’n wyse die teiken tref dat hulle nalatenskap vir ewig sal wees nie. .

Kom ons hou ’n familie reünie en vier die lewe saam met ons Meesterbouer. Hy wat kinders as geskenke vir ons gee!! Hierdie Pinksteraande wat voorlê is eintlik ’n slypskool.  Die plek waar ons die pyle gaan skerpmaak.

Maak ’n wilsbesluit om vir die volgende paar aande die bidure by te woon en laat die Heilige Gees toe om jou lewe heeltemal te verander.

AMEN