Markus 4:26-34

Datum: 16 Junie 2024 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

KORING EN MOSTERDSAAD – GOD SE KONINKRYK GROEI ALTYD KRAGTIG, DOELGERIG EN ONSTUITBAAR

INLEIDING

Die wêreld is siek en vol boosheid. Soveel morsige dinge is besig om te gebeur wat mens magteloos en moedeloos kan laat. Onopgeloste haat en vooroordele bedreig die lewens van onskuldige mense. Daar is siektes soos virusse wat deur die wêreld galop en dreig om derduisende mense uit te wis. Ons het COVID aan ons lywe gevoel en baie van ons dra steeds aan die emosionele pyn en verlies. Hongersnood en armoede doem soos ‘n hele bergreeks met skrikwekkende gevolge voor ons op en ons weet nie wat om daaraan te doen nie.

En tog, ten midde van al hierdie bedreigings van binne en van buite, in die aangesig van groot sonde en boosheid, gekonfronteer met kwale wat wêreldwyd menselewens bedreig, kom Christene en getuig met ‘n eenvoudige boodskap wat uit twee woorde bestaan: Jesus Red. 'n Joodse timmermanseun van meer as 2 000 jaar gelede is die een wat ons as 'n oplossing voorhou. En baie mense kyk Christene kleingelowig met weersin aan en sê: "Gee my 'n blaaskans! Julle Christene baklei ‘n oorlog wat nie gewen kan word nie" Vir 'n groot deel van die wêreld bevolking is die evangelie te klein vir die taak op hande. In die aangesig van miljoene mense wat honger ly, bied ons blykbaar net vyf brode en twee vissies aan. In die lig van miljarde rande se begrotings wêreldwyd, lyk dit of ons die arm weduwee se twee geldstukkies wat in die kollektebord val, vier. In die aangesig van terroriste en onderdrukkende regimes wat deur die honde van die hel self gelei word, stuur ons mense na China en die Soedan en Afghanistan, Japan en Indië as sendelinge wat getuig van die Lam wat geslag is. Om die hartseer te verlig of draagliker te maak vra baie meer as dit waarmee julle Christene besig is: word gesê.

Tog, soos Markus 4 ons daaraan herinner, weggesteek te midde van alles wat onverstaanbaar is, word die onbeskryflike heerlikheid van die koninkryk van God verberg. In twee gelykenisse wat Jesus vertel ontdek ons die diepgaande betekenis oor hoe God se Koninkryk werk en groei in ons lewens en in die wêreld.

DIE GELYKENIS VAN DIE KORING

Hierdie gelykenis herinner ons dat die groei van God se Koninkryk soms op geheimsinnige maniere gebeur. Net soos die boer wat die saad saai en dan wag, moet ons ook vertrou dat God aan die werk is,

selfs wanneer ons nie al die besonderhede verstaan nie. Ons rol is om die saad te saai – om die boodskap van die Evangelie te deel, liefde en deernis te wys – en dan te vertrou dat God die groei sal gee.

DIE GELYKENIS VAN DIE MOSTERDSAAD

Die mosterdsaadjie is klein, baie klein......,

maar dit groei uit tot een van die grootste plante.

Hierdie gelykenis leer ons dat God dikwels met baie klein begin te werk. Wat ons as onbeduidend mag beskou, kan deur God gebruik word om iets groot en betekenisvol te word. Die mosterdsaad herinner ons aan die potensiaal wat in elke daad van geloof, hoe klein ook al, lê.

PRAKTIESE TOEPASSING

Vertrou op God se Werk: Ons moet geduldig en vol vertroue wees dat God se Koninkryk sal groei op Sy manier en tyd. Selfs wanneer ons nie onmiddellike resultate sien nie, werk God op 'n manier wat ons dikwels nie verstaan nie.

Wees Getrou in die Klein Dingetjies: Moet nooit die krag van om klein te begin onderskat nie. Elke daad van vriendelikheid, elke gebed, elke woord van bemoediging is soos 'n mosterdsaadjie wat groot kan groei.

Help om die oes met vreugde in te bring: Wanneer die vrug sigbaar word, moet ons gereed wees om die oes met blydskap in te samel. Dit beteken om ander te verwelkom in die gemeenskap van gelowiges en om te vier wat God gedoen het. Die wete dat dit God is wat mense verander en sy koninkryk laat kom, maak juis dat gelowiges, die kerk, in beweging kom. Rustig, gelowig en kalm moet ons die liefdesgebod uitleef en verkondig. Ons mag nie toeskouers wees nie. My en jou moue moet opgerol word. Ek wil opgebruik word deur die Here.

Opgebruik. Klaar. Voluit gehol. Alles gegee.

Dit is hoe ons in God se koninkryk behoort te leef....

Wetende dat die proses waar mense verander, sisteme verbeter en die koninkryk sigbaar word uit en uit God se werk is.

SLOT

Die Koninkryk van God groei soms stil en onopsigtelik, maar altyd kragtig en doelgerig. Kom ons wees getrou in ons aandeel – om te saai, te vertrou, en te help met die oes. Mag ons altyd herinner word aan die potensiaal wat God in ons klein dade van geloof lê en mag ons sien hoe Hy dit gebruik om Sy Koninkryk te laat groei. GOD SE KONINKRYK GROEI ALTYD KRAGTIG, DOELGERIG EN ONSTUITBAAR!

AMEN