Lukas 2:8 – 20

Datum: 25 Desember 2019

Prediker: Johan Morkel

Iemand stuur die afgelope tyd vir my ‘n video-snit wat bestaan uit sangers wat uitgebeeld word as Geallieerde Magte soldate wat in die Eerste Wêreldoorlog teen die Duitsers veg.  Hierdie “soldate” sing in die video op die oorlogsfront, in die loopgrawe, ‘n lied wat gaan oor hoedat hulle op Kersdag 1915 die Duitsers hoor sing het.  Die twee vyandige magte het toe in niemandsland mekaar tegemoed gegaan, mekaar ‘n geseënde Kersfees toegewens, saam Kersliedere gesing.  Vir ‘n kort rukkie was daar vrede en harmonie, vriendskap en broederskap tussen die vyande.  Voordat hulle vroeg die volgende oggend die Duitsers verlaat het, het die soldate die Duitser met die mooi stem gevra om vir hulle ‘n laaste lied te sing.  Hy het Stille Nag gesing.  Met ligdag het die oorlog hervat en het hulle weer op mekaar begin skiet om dood te skiet.  Een van die sangers sing “I killed the guy that sang Silent Night”!  Die oorlog-omstandighede is so tipies van die wêreld waarin ons leef.  ‘n Wêreld van haat, boosheid, magsbehepte mense, leuens en korrupsie.  ‘n Wêreld waarin die verkeerde dinge hoogty vier: vyandskap, onmin, onvrede, liefdeloosheid, moord en doodslag, oorlog!

 

Dit lyk my dit was nog maar altyd so.  Dit was ook nie anders in die tyd wat Jesus gebore is nie.  Israel was ‘n verowerde land wat deur die Romeine beheer is.  Augustinus was die keiser, die heerser in Rome - die magtigste man in die wêreld.  Die volkstelling wat hy gehou het, was nie om vas te stel hoeveel mense daar in sy ryk was nie, maar om te weet hoeveel nie-Romeine daar was om te belas!  Sirenius was die goewerneur in Sirië, vertel die eerste verse van Luk.2 ons.  Dan gebeur in hierdie nag dit waarvan hierdie vyandige magte eeue later sou saamsing.  ‘n Engel verskyn aan skaapwagters in Palestina wat in die nag op die velde van Palestina oor hul skape wag gehou het.  ‘n Engel kondig vir die herders aan: “ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.  Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!”  God gryp in hierdie onrustige, onstuimige wêreld in met die aankondiging van die geboorte van sy Seun, Jesus!

 

Wie is die eerste hoorders/ontvangers van hierdie goeie/groot boodskap?  Die vrou Maria(wat haarself in Luk.1 “gering” noem).  En die herders in die ope velde van Bethlehem!  Van die herders lees ek hulle het ‘n lae sosiale status gehad, die jongste seun moes gewoonlik die skaapwagter word, soms was hulle dié wat nie verstandelik so sterk was nie.  God begin nie by die Skrifgeleerdes en Farisieërs nie, die Joodse Raad of Herodes of keiser Augustinus of goewerneur Sirenius nie.  Nee, God begin by hierdie eenvoudiges, Maria, die herders, mense onder aan die leer van die samelewing.

 

Dit is die eerste wat mens opmerk omtrent die koms van Jesus na die wêreld.  Die boodskap van verlossing van Jesus Christus sluit alle mense in(vir die hele volk, sê v.10), die gewone mens, die gewone man, die gewone vrou - ek en jy, gewone kinders - ons kinders.  Alle mense sonder uitsondering!  Miskien het ons dié boodskap al so baie in ons lewens gehoor dat die betekenis daarvan ons verbygaan.  Kom ons hoor dit vanoggend weer.  Jesus het vir elke mens na hierdie wêreld gekom, Jesus het vir elkeen van ons gekom!  Nie een van ons is te eenvoudig dat Jesus ons sou verbygaan nie, nie een van ons kan/mag sê: ek is te sondig, ek het te vêr afgedwaal, ek is afgeskryf, ek het die Here al te veel teleurgestel nie, ek is Hom nie werd nie, ek is nie belangrik genoeg nie! Jesus het vir alle mense gekom!  Hierdie waarheid geld ook vir ons as kerk, draers van die Evangelie-boodskap.  Omdat Jesus vir almal gekom het, mag ons as kerk ook nie mense uitsluit nie, in ons navolging van Jesus mag ook ons nie mense oorslaan nie, afskryf nie, reken mense is die evangelie nie werd nie! Almal is welkom by Jesus, almal is welkom in die kerk van Jesus!

 

Ons lees in die Bybel dat God se heerlikheid mense bangmaak.  In Eks.33 sê die Here vir Moses: “Geen mens kan My sien en bly lewe nie”.  Na Jakob se droom van die leer wat aan die hemel raak, het hy bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek!”.  In ons Skrifgedeelte lees ons: “die herders het baie bang geword”.  In die Godverskynings aan die mens, gebruik die Bybel woorde soos: skrik, vrees, angs, bangwees.  Hoe het die Here telkens reageer op die mens se vrees/skrik?  As Adamen Eva uit vrees vir God wegkruip,, soek die Here hulle op, “Waar is jy/julle?”  As Moses verskrik by die brandende braambos staan, roep die Here “Moses. Moses!”  As Jesus na sy opstanding aan sy dissipels verskyn, ook aan Petrus wat Hom driemaal verloën het, verwyt Jesus nie vir Petrus nie, maar sê Hy vir sy dissipels, ook vir Petrus “Vrede vir julle”!  As die Engel sien dat die herders baie bang is, sê hy vir hulle “Moenie bang wees nie”.  Moenie bangwees nie, ek bring vir julle ‘n goeie boodskap.  Die herders sterf nie.

 

Omdat ons met die Evangelie grootgeword het, bestaan die gevaar dat ons die teenwoordigheid van die Here as vanselfsprekend aanvaar!  God se openbaring aan die mensdom in Jesus Christus, God se verskyning aan ons in Jesus Christus, is nie vanselfsprekend nie.  Dit is ‘n wonder - dit is ‘n wonderwerk.  Dit is die grootste wonderwerk in die geskiedenis!   Kersfees se boodskap aan ons vanoggend is: Kom nader, moenie bangwees nie, jy sal nie sterf nie.  Dit is uit liefde dat Ek mens geword het, dat daar ‘n Jesuskind in die krip in Bethlehem lê.  Ek het gekom om vir jou/vir julle, vir die hele mensdom verlossing van sondes te bring, lewe te bring, ewige lewe!  Wat jou naam ookal is, Adam, Eva, Moses, Dawid, Petrus, (voeg jou naam in), moenie wegkruip nie, moenie bangwees nie.  Vandag is daar vir jou in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!

 

Hoe het die herders reageer op die nuus dat Jesus die Messias, die Verlosser gebore is?  Die herders het die boodskap onvoorwaardelik geglo.  V.18 sê: Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Bethlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.”  Die herders het die boodskap van Jesus geglo!  Wat is ons reaksie op hierdie blye Boodskap dat daar vir ons in die stad van Dawid die Verlosser, Christus die Here gebore is?  Dat hierdie Jesus nie net vir ons gebore is nie, maar ook vir ons aan die kruis gesterf het en opgestaan het uit die dood.  Dat sy Gees op Pinksterdag vir ons gegee is om by ons te wees tot die einde van die wêreld.  Wat is ons reaksie op hierdie blye Boodskap?  Wil jy dit vanoggend opnuut weer glo, omarm, aan jou hart vasmaak, leef vanuit die waarheid hiervan?

 

Ten slotte lees ons dat v.18 sê: Die skaapwagter het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gesien en gehoor het.  Luk.1:46 - 47 sê Maria: Ek besing die grootheid van die Here,ek juig oor God, my Verlosser!  Die herders en Maria word mense wat God loof en prys!  Dit is waarmee ek wil afsluit: Die Blye Boodskap van Kersfees verander mense tot mense wat die Here loof en prys!  Mag dit ook van jou en my waar wees.  Dat ons saam met Maria en die herders, saam met miljoene gelowiges oor die eeue heen, saam met gelowiges vandag oor die wêreld heen, mense sal wees wat met ons hele lewens die naam van die Here grootmaak, die Here verheerlik.  Dat ons ook op hierdie dag soos Maria oor die geboorte van die Jesuskind sal sê: Ek besing die grootheid van die Here,ek juig oor God, my Verlosser!  En dat ons soos die skaapwagters sal teruggegaan huistoe terwyl ons God loof en prys oor Jeus wat gebore is!

Amen