Rom 12:1-2, Joh 15:1-11

Datum: 29 Junie 2025 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Janse van Rensburg

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Vriende meeste gelowiges se grootste vrees is nie om foute te maak nie. Ons grootste vrees is om buite God se wil te leef. Is dit nie waar nie.  Ons as gelowiges het ‘n diep begeerte om volgens God se wil te leef. Gelowiges vra gereeld vrae soos: Wat wil God hê ek moet doen? Moet ek hierdie werk aanvaar? Is ek op die regte pad? Wat is my roeping? Ons leef in 'n wêreld van keuses en onsekerheid, en dit laat selfs toegewyde gelowiges wonder: “Is dit wat ek doen reg in God se oë?”

 

Hierdie vrae is nie net teologies nie, dis persoonlik. Vriende kan doodgewone gelowiges, kan jy weet wat God se wil vir jou lewe is? Voor ons hierdie vraag antwoord wil ek eers iets oor God se wil sê.

 

Ons almal glo God het ‘n wil. Tog, voel dit soms of God se wil ‘n raaisel is. Asof die GPS sein verloor het en jy na ‘n kaart kyk met ‘n wieletjie wat draai met geen rigting om in te slaan nie. As dit by God se wil kom dink sommige mense ook jy moet baie geestelik wees, dalk selfs 'n dominee, ‘n profeet of teoloog, om dit werklik te ken. Ander dink God gee net riglyne, en jy moet self raai wat die regte keuse is. Maar ons glo en bely dat God ‘n wil, ‘n plan en ‘n doel het.

 

Ek wil dit ook in twee dele opdeel. Daar is ‘n algeheel en algemene wil van God. Dit leer ons ken dwarsdeur die Bybel en wanneer iemand vir Jesus vra wat is die grootste gebod, glo ek, sal ons almal dit sonder huiwer saam kan antwoord. Ons moet die Here ons God lief he met alles van ons en die tweede wat hiermee gelyk staan is ons moet ons naaste liefhe soos onsself. Dit is wat God wil. Dit is wat God van ons as kerk ons as sy volgelinge vra. Natuurlik het God se algemene wil ook te make met Jesus se laaste opdrag om nie na onsself gedraai te wees nie, maar om as gestuurdes uit te gaan en Sy getuies te wees wat mense help om ook te glo dat Jesus ons verlosser is. Jesus se bekende woorde gaan dan na al die nasies en maak hulle my dissipels.

 

Goed tot nou toe het ons almal saam gestem ons glo dat God ‘n wil het. Dat n deel daarvan is dat Hy wil he dat ons op ‘n spesifieke manier in verhouding met Hom en met mekaar moet leef, en dat Hy ons as sy kerk nooi om sy agente te wees wat mense leer van sy liefde en genade. As ek vanoggend vra kan doodgewone gelowiges, kan jy weet wat God se wil vir jou lewe is? Vra ek nie of gelowiges kan weet wat God se algemene wil is nie.

 

Ek vra oor iets dieper. Kan doodgewone gelowiges, kan jy weet wat God se wil vir jou lewe is?

 

Vriende die kort antwoord hierop is. Sonder twyfel, Ja! Dit is nie net sekere mense – predikante, sendelinge, of “super-Christene” – wat God se wil kan ken nie. Elke gelowige kan God se wil ken. Dis nie 'n geheime kode net vir geestelike elite nie. Jy hoef nie in die donker rond te tas nie. Die Bybel wys ons hoe — nie net in krisismomente nie, maar elke dag. Romeine 12 en Johannes 15  gaan ons vanoggend hiermee help. Voor ons dit lees is dit belangrik om te weet. Hierdie twee gedeeltes gee ons nie ‘n wen resep, ‘n kitsopossing of ‘n lys van reëls nie. Dit nooi ons eerder in 'n verhouding met God in, waar ons Hom leer ken en sy wil leer onderskei.

 

Kom ons lees Romeine 12 en Johannes 15

 

Romeine 12:1–2 is baie bekende verse, maar dit is verse wat so vinnig by ons verby gaan. Ons hoor dit en dit tref ons nie werklik nie. Paulus gee vir ons in hierdie verse nie net 'n mooi morele aanmoediging nie. Hy doen ‘n ernstige beroep op ons. Hy vra iets groter en iets dieper. Vir hom gaan dit hier oor ‘n geestelike beginsel. Paulus sê: Om God se wil te ken, begin nie by hoe slim ons of by watter goeie besluite ons kan neem nie — dit begin by oorgawe en selftoewyding.

 

Hy sê: “Ek doen ‘n beroep of ek vermaan julle, ek wil julle baie ernstig vra, broers en susters: As julle dink aan alles wat God in sy groot barmhartigheid vir julle gedoen het, gee dan julleself aan Hom as ’n lewende en heilige offer.” Gee jouself heeltemal aan God oor. Nie net jou Sondae nie, elke dag. Nie net dele van jou lewe nie, maar jou hele lewe.

 

Dan volg vers 2: “Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is.” Hierdie is 'n kragtige belofte. Paulus het nie hierdie brief geskryf vir super Christene of dominees of sendelinge nie. Hy het dit gedkryf vir doodgewone gelowiges soos ek en en jy.

 

In hierdie eerste twee verse antwoord hy van oggend se vraag en sê dit is vir gewone volgelinge moontlik om God se wil te ken. Maar dit dit begin nie by jou eie pogings nie – dit begin by oorgawe. Dis wat gebeur as jy jou lewe aan God gee, en Hom toelaat om jou denke te vernuwe.

 

Dit gaan oor ‘n nuwe manier van dink: denke wat gevorm word deur God se Woord, lewens wat deur die Gees gelei word, nie deur kultuur of eie begeertes nie. As ons God se wil beter wil ken moet ons leer om nie op onsself of die wêreld staat te maak nie, maar om onsself ten volle aan God toe te vertrou. Selfs of veral die manier hoe ons dink.

 

Dalk sê die stem in jou ook goed Johan ons het nou gehoor ons almal kan God se wil leer ken. Dit is wonderlik, maar hoe doen mens dit? Vriende as ons eerlik is, is dit hier waar dinge eintlik vir ons ‘n raaisel word en dit voel of dit net sekere mense is wat God se wil kan ken.

 

Johannes 15 help ons hiermee. Jesus gebruik hier die beeld van ‘n wingerdstok en lote om die geheim van geestelike groei, vrug en onderskeiding te verduidelik. Ons wil dikwels weet: “Wat is die regte besluit?” Vriende God se wil draai nie net om keuses nie. Om God se wil te ken beteken nie om ’n stel instruksies te volg nie.

 

Jesus sê in Johannes 15: “Ek is die ware wingerdstok, en my Vader is die boer… Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. (Joh. 15:1,4). Om in Jesus te bly. Om God se wil te leer ken. Beteken om in ‘n lewende, aktiewe verhouding met Hom te wees elke dag — deur gebed, sy Woord, gehoorsaamheid, en afhanklikheid.

 

Wanneer ons in Christus bly, verander ons gebede, keuses en begeertes. Jou onderskeidingsvermoë groei. Daar vind ‘n klem skuif plaas van:

“Wat wil ek hê?” na “Wat wil Hy hê?” Van: “Wat is maklik?” na “Wat bring vrug?”

 

Vriende as jy aan Jesus verbind is, vloei sy lewe, wysheid en wil in jou in. Vers 5 sê: “Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” Dit beteken dat ware vrug — insluitend die vermoë om te onderskei — kom uit ‘n verhouding, nie uit ons selfvertroue nie.

 

In vers 7 sê Hy iets belangrik: “As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.” Wanneer ons in Jesus bly en sy woorde in ons woon, verander ons begeertes — en ons begeer wat God begeer. En dis dan wat dit beteken om sy wil te ken — jou hart begin saamklop met Syne.

 

Ons dink dikwels aan God se wil as 'n presiese plan of soos 'n kaart wat jy moet vind en volg.  'n Spesifieke werk, stad of persoon wat jy moet kies. Maar Johannes 15 wys vir ons dat God se wil veel meer is: dit is 'n leefwyse wat lei na vreugde en vervulling.

 

Jesus sê in vers 11: “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.” God wil nie hê dat jy in angs leef oor die toekoms nie — Hy wil hê jy moet Hom ken, Hom vertrou, en in daardie verhouding vreugde vind. Die wil van God is nie ‘n raaisel wat jy moet oplos nie, maar ‘n pad waarop jy saam met Hom loop.

 

Dalk wonder jy ook hoe werk dit prakties? Ons weet uit ander skrifgedeeltes dat die Heilige Gees ‘n sleutelrol speel. In Romeine 8:14 lees ons: “Almal wat deur die Gees van God gelei word, is kinders van God.” Johannes 14:26 sê dat die Heilige Gees ons alles sal leer en ons sal herinner aan alles wat Jesus gesê het.

 

Met ander woorde: God gee jou nie ‘n boek en los jou dan alleen nie. Nee — Hy kom self, in die vorm van sy Gees, om jou te lei en te help onderskei. Hy gee lig vir elke dag se besluite. Soms stadig, ander kere duidelik — maar altyd getrou.

 

Daarom kan jy bid: “Heilige Gees, lei my. Open my oë. Vernuwe my denke. Help my om in Christus te bly en God se wil te sien.”

 

Ek dink dit is belangrik dat ons hier ook vir mekaar sê om as dood gewone gelowiges God se wil te leer ken moet ons elke dag in ‘n lewende verhouding met God staan en onsself oorgee aan Hom dat Hy ons deur die Gees van binne af kom verander. Dit gaan oor ‘n nuwe lewenswyse. Dit gaan oor ‘n nuwe stel waardes waarvolgens ons moet leef. Dit help ons reeds om in sekere oomblikke te weet wat God se wil is. Ek wil die deel vereenvoudig deur te sê dit is waar die ou bekende ruimte: Wat sou Jesus doen,  inkom.

 

Nog ‘n meer praktiese ingesteldheid wat ons kan help om te weet wat God se wil vir ons lewens is het te doen met 3 sfere. Daar waar hierdie 3 sfere se paaie kruis leer ons wat God se wil en ons roeping is. Hierdie drie sfere is: Die Bybel. Nood. Ons Gawes. Waar hierdie drie sfere kruis leer ons God se wil en Sy roeping vir elkeen van ons.

 

Vriende ek wil afsluit. Wanneer jy hierdie dinge doen, sal jy nie altyd onmiddellik antwoorde kry nie, maar jy sal leer om met sekerheid te leef — omdat jy saam met God opreis is.

 

Vriende, jy hoef nie 'n geestelike reus te wees om God se wil te ken nie. Jy moet net met oorgawe leef — as iemand wat in Christus bly en Hom toelaat om jou denke te vernuwe. God wil hê jy moet Hom ken. Hy wil jou lei. Hy wil hê jy moet vrug dra.

 

Jy mag dalk nie die toekoms sien nie, maar jy kan die Een ken wat dit in sy hand hou. En as jy Hom volg, sal jy stap vir stap in sy goeie, aanneemlike en volmaakte wil wandel. Amen