Gen. 22:1-19, Mat 10:37 – 39
Datum: 11 Augustus 2019
Prediker: Johan Morkel
God toets Abraham se geloof …….en ons geloof!
Jy hoor dikwels mense vertel dat hulle die een of ander gebeurtenis in hulle lewe as ‘n toets van hul geloof ervaar het. As jy by mense in die hospitaal kom en hul kind is in die teater na ‘n motorongeluk, sê hulle: hierdie is ‘n toets vir ons geloof! As iemand in ‘n situasie was waarin hy/sy ‘n groot versoeking weerstaan het, sê hulle vir jou: die Here het my geloof getoets! As mense praat oor ‘n moeilike tydperk waardeur hulle op ‘n stadium gegaan het, sê hulle vir jou: dit was ‘n tyd waarin die Here ons geloof getoets het!
En nou lees ons in die Bybel ook hiervan. In Gen.22 1983 vertaling: God het vir Abraham op die proef gestel, NLV: Na ‘n tyd wou God vir Abraham toets, die meeste Engelse vertalings sê ook: God tested Abraham. Ook die verhaal van Job vertel hoedat Job se geloof in God op die proef gestel is. En ook in Jak.1:12 staan: Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het. Mens sou dalk kon dink dat dit vir Abraham maklik was om sy seun te gaan offer, want in net die volgende lees ons: Vroeg die volgende môre het Abraham sy donkie opgesaal. Kan ons ons egter voorstel wat deur Abraham se hart en gedagtes moes gegaan het? Hoeveel keer het Abraham nie die besluit geneem dat hy sy seun sal gaan offer nie? Sekerlik nie net eenmaal nie! Nadat Abraham besluit het om Isak te offer en begin voorberei het vir die tog, het hy elkeen van die 3 dae wat hy die pad was, oor en oor besluit om voort te gaan, deur te druk met die besluit! Elke dag oppak en verder trek, elke tree, elke oomblik: ek gaan verder, ek gaan voort, ek gaan doen wat God my gevra het, ek gaan God gehoorsaam ten spyte van wat my hart en verstand my wysmaak! As Abraham uiteindelik sy 2 slawe agterlaat en hy en Isak alleen is, word sy handelinge in kort frases beskryf: die altaar bou, die hout regsit, die seun Isak vasbind, Isak op die altaar sit, die mes neem om sy seun te slag.
Met hierdie skryfwyse word verder benadruk dat Abraham met elke handeling opnuut besluit, ek gaan nie omdraai nie, ek gaan voort, ek gaan volhard, ek gaan God bly vertrou, ek gaan Isak offer. Geloof is ‘n voortgaande proses. Mense probeer geloof op verskillende maniere beskryf. Iemand sê die geloofswedloop is ‘n maraton, jy hardloop dit tree vir tree! Iemand anders, geloof is om enkellopies aan te teken en nie om sesse te slaan nie! In hierdie sin van die woord word my en jou geloof ook elke dag getoets. Geloof is om die Here te bly vertrou, die Here te bly volg, elke dag, weer en weer, vir die Here te kies, die Here te bly gehoorsaam. deur te druk met my keuse vir die Here. Ons maak ‘n fout as ons dink omdat ek êrens in die verlede vir die Here ja gesê het, belydenis van geloof afgelê het, vir die Here gekies het, die saak tussen my en die Here daarmee finaal afgehandel is. In ‘n sin is dit reg dat daar ‘n eerste ja vir die Here gegee is, ‘n eerste tree op die pad van navolging van die Here gegee is, maar soos Abraham, sal ek en jy moet leer om herhaaldelik vir die Here te kies, om telkens weer die Here se wil bo my wil te stel, om enkellopies aan te teken. So deurstaan ons die toets van die geloof!
Die tweede opmerking wat ek oor Abraham se geloof gaan maak, is dalk bemoedigend. Eerstens wil ek julle wys op positiewe, goeie geloofskeuses van Abraham. As die Here vir Abraham vir die eerste maal roep om weg van sy land en sy familie die onbekende in te trek,
gehoorsaam hy die Here sonder enige teenspraak. As Abraham en Lot uitmekaar moet gaan, is Abraham bereid om die minste te wees en vir Lot die eerste keuse te gee om die Jordaanstreek te kies. As drie onbekende besoekers by Abraham opdaag, ontvang Abraham hulle gasvry en sit vir hulle ‘n ete voor. As die Here vir Abraham te kenne gee dat Hy vir Sodom en Gomorra gaan uitwis, pleit Abraham by die Here om die getal af te bring tot net 10 regverdiges. Abraham se pad met die Here getuig dus wel van mooi momente, suksesse, noem dit eerder regmerkies, geloofstoetse wat hy geslaag het. Louis Malherbe het gesê: Ons moet so lewe dat die Here ons met ‘n glimlag gade slaan.
Ongelukkig getuig Abraham se geloofspad ook van minder goeie oomblikke. As Abraham en sy gevolg in Egipte aankom, sê hy Sara is sy suster en nie sy vrou nie. As Abraham wonder of hy wel nog ‘n nageslag gaan hê, verwek hy vir hom ‘n nageslag by sy slavin Hagar. As Abraham hoor hy en Sara gaan ‘n kind kry op ‘n gevorderde ouderdom, lag hy. As Abraham in koning Abimelek se grondgebied kom, gee hy weereens te kenne dat Sara sy suster is. As Abraham se pad met die Here getuig dus ook van toetse wat hy gedop het, kruisies(verkeerd merkies), mislukkings, ongehoorsaamheid aan die Here. So sal ons dit ook ondervind. Ook ons lewenspaaie met die Here sal van beide getuig. Die kere wat ons die Here vertrou het, ons staande gebly het in moeilike omstandighede, ons die geloofstoets geslaag het. Maar dan sal ons lewens ook getuig van kere wat ons gedink het ons weet beter in plaas van om die Here te vertrou, wat ons, soos Abraham ongehoorsaam aan die Here was, ons die geloofstoets gedruip het. Die wonder is dat die Here nie vir Abraham en ook nie vir ons afskryf nie. Die Here bly steeds die getroue God wat die pad met ons wil loop en wil bly loop. Die Here kom vanoggend ook weer deur sy Woord na ons en roep ons “volg My, vertrou My, gee weer die volgende tree agter My aan, al het jy die vorige toets gedop!”
As die offermes in Abraham se hand bewe om sy eie seun te slag, hoor hy die stem van die Here “Abraham, Abraham!” Ons ken die verhaal verder. God het aan Abraham ‘n skaapram voorsien wie se horings aan ‘n bos vasgesit het. Miskien wil jy weer vra: Hoekom wou die Here dan dat Abraham vir Isak offer? God wou sien of Abraham Hom bo alles liefhet, of Abraham God liefhet bo wat vir hom die kosbaarste in sy lewe was, of hy God die sentrale plek, die middelpunt van sy lewe maak en nie Isak(of iets anders nie). Ons het die vers in Matteus gehoor. Ons het ook na die samevatting van die wet luister, die woorde “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand”. Ek dink ons leef in ‘n tyd waar die gevaar is dat ons die Here, ons verhouding met die Here, maar iets maak op ons prioriteitslys. Ons dink “ek moet darem êrens ook tyd en plek vir die Here inruim, ek kan darem nie totaal afsydig teenoor die Here staan nie, dit sal darem net ’n goeie veiligheidsnet wees om te sorg dat ek my kant bring by die dinge van die Here.”
Dit is nie wat die Woord van God ons leer nie. Dit is ook nie wat hierdie gedeelte van Abraham vir ons uitwys nie. Een van ons dosente op Kweekskool, dr. Dirk Odendaal, het dikwels vir ons gesê: Die Here vra alles of niks! In my eerste jaar op universiteit het ‘n evangelis in die Transkei vir my gesê: Hier by ons werk dit anders as by julle. By julle weet mens nie altyd wie aan die Here behoort en wie nie, by ons is die mense vir die Here of teen die Here. Is dit so dat ons maar so ‘n grys gebied het, dat ons dink lou is beter as koud of warm? Hierdie Abraham-verhaal toets ons ten diepste aan hoe lief ons die Here werklik het? Watter plek ons die Here in ons lewens gee? Waar op die ranglys van liefdes in ons lewens die Here is? Wat is dit wat ek dalk bo die Here plaas, liewer as die Here het? Besittings, geld, posisie, status, man/vrou, kinders, werk, stokperdjies, sport, tydverdryf? (Miskien moet ek so ‘n paar oomblikke van stilte gee dat elkeen dié vraag vir hom-/ haarself antwoord)
Hulle vertel van ‘n groep manne wat gaan jakkalse jag het. Een van hulle het ‘n jakkals in ‘n gat sien ingaan en sy hand in die gat ingesteek en die jakkals gegryp. Toe skreeu hy vir die ander “ek het hom, ek het hom!” Toe hulle nader gehardloop kom, hoor hulle hy skreeu meteens “hy het my, hy het my!” Dit gebeur maklik met ons. Ons ontvang voorregte, gawes, seëninge van die Here. Kort voor lank besit ons nie meer hierdie dinge nie, maar besit hierdie dinge ons! Ons dink ons het ‘n greep, ‘n houvas op die dinge wat in ons lewens belangrik is. Kort voor lank het hierdie dinge vir ons in hul greep. Aardse dinge het die nier om mens in te trek, in te suig. Op die ou end behoort dié dinge nie aan jou nie, maar behoort jy aan dié dinge wat vir jou te belangrik geword het! Die Abraham-verhaal bring ons tot stilstand. Ek behoort in die eerste plek aan die Here. Is daar ander dinge wat vir my belangriker as die Hre geword het? Is ek bereid om dié dinge op die altaar te sit, op te offer?
Dit is wonderlik om in hierdie verse te lees dat God aan Abraham ‘n skaap voorsien het om geslag te word in die plek van sy seun, Isak. Dit is nog meer wonderlik vir ons NT-gelowiges om te weet dat God nie Homself gespaar het wat Hy vir Abraham gespaar het nie. God het sy Enigste Seun, Jesus Christus, aan die kruishout op Golgota laat sterf sodat ons kan lewe, ewig lewe. Sodat daar vir ons vergiffenis van sonde kan wees. Sodat Hy ons nooit sal verlaat nie. Sodat ons as gelowiges vir die res van ons lewenspad, hoe dit ookal mag verloop, of dit geloofstoetse is wat ons druip en weer druip, of dit geloofstoetse is wat ons, soos Abraham, nie verstaan nie, of dit God self is wat ons, soos Abraham, nie verstaan nie. Ons kan verseker wees: God is daar vir ons, God voorsien!
AMEN