Romeine 5:1-11
Datum: 12 Maart 2023 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk
Iemand skrywe dat Romeine 5 seker een van die moeilikste hoofstukke in die hele Bybel is om oor te preek. En nie omdat dit so raaiselagtig en duister is, of sulke moeilike teologiese kwessies bevat nie – na alles is daar dele van Daniël en Openbaring wat aansienlik moeiliker is om te verstaan. Nee, daar is ‘n ander probleem. Na alles is ons geleer dat ‘n goeie dominee nie langer as 20 minute preek nie; en hoe gaan jy die rykdom van hierdie skatkamer van die Bybel in een preek saamgevat kry? Dit kan nie anders as om jou ‘n klein bietjie te oorweldig nie.
Trouens, hierdie selfde ou gaan aan en sê dat om oor Romeine 5 te preek, is soos om met jou rug na ‘n indrukwekkende gebou te staan en dit te beskryf vir iemand by jou. Stel jy voor jy staan hier voor De Eike se kerkgebou. Wel, kan jy dalk begin, dis in twee halwe sirkels gebou met so ‘n snaakse skuins dak. Met ‘n toring voor. Wat ook in twee halfmane is – eintlik twee torings, langs mekaar. Minus ‘n paar stene wat al afgeval het. Maar hoe langer jy gaan aangaan met jou beskrywing, hoe meer kom jou luisteraar net agter hoe min jy eintlik weet!
Nee ek vrees om reg te laat geskied aan Romeine 5 sal jy eintlik ‘n lang reeks van preke daaraan moet wy. Maar op hierdie derde Sondag van Lydenstyd het ons net twintig minute. Daarom gaan ons ons tot een aspek daarvan beperk. Ons gaan probeer hoor wat Paulus vir ons hier leer oor die betekenis en die waarde van die lyding van ons Here Jesus Christus vir elkeen van ons aan die kruis op Golgota.
- Jy staan enersyds heeltemal los van die kruis op Golgota.
En dan gaan Paulus se eerste belangrike punt jou dalk verras. Want ek en jy moet verstaan dat ons heeltemal los staan van die kruis op Golgota. Ons het daar heeltemal geen bydrae gehad om te maak nie. Dit het heeltemal los van ons gebeur. Paulus sê hier baie spesifiek dat Jesus vir ons aan die kruis gesterf het toe ons nog sondaars was. Aan die kruis op Golgota sien jy die eindelose liefde en genade van God in aksie, en jy het niks daartoe bygedra nie. Moet ook nie dink dit was jou geloof wat daartoe aanleiding gegee het nie, want hier staan “God bewys sy liefde vir ons hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (vers 8). Ons vryspraak kom deur sy versoeningsdaad, sê 9, en in vers 10 sê dat dit alles gebeur het “toe ons nog vyande was”.
Ek lees iemand skrywe hieroor: As jy dink jy kan enigiets bydra tot jou verlossing, is jy bykans 2000 jaar te laat. En dis die wonder van Goeie Vrydag: dis alles God se werk. Dis Hy wat die inisitief geneem het. Dis nie jou goeie lewe wat jou red, of selfs die feit dat jy die regte keuse gemaak het, of dat jy die tien gebooie probeer nakom het nie. “Voordat ek kon kies kon vra”, sê die Gesang, “het u seun my skuld gedra...” Al wat jy moet doen is om te ontvang; om in die geloof dit wat Jesus vir ons bewerk het, jou eie te maak, oorstelp deur die wonder daarvan. “Iemand sou dalk nog bereid wees om vir ‘n goeie mens te sterwe, maar God bewys sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterwe het toe ons nog sondaars was...”
As daar een ding is wat jy vandag moet hoor: God het in sy eindelose genade op Golgota alles gedoen wat nodig was vir jou vrede. Want dis hoe lief Hy ons het.
- En tog is jy ten nouste betrokke by die gebeure daar.
Maar dis net die een kant van die muntstuk. Want al het ek en jy geen aandeel gehad in die gebeure op Golgota nie, sê die Bybel ook dat jy eindeloos meer as ‘n toeskouer is van die gebeure op Golgota. Paulus stel dit in Galasiërs 2 só sterk, as hy sê dat jy immers ook “saam met Christus gekruisig” is. In hierdie sin is dit so goed of jy het self aan daardie kruis gehang, so vollediglik het Jesus jou daar verteenwoordig. Sy dood was volledig plaasvervangend, in jou plek het Hy al die skuld wat vrede tussen jou en God onmoontlik gemaak het, namens jou betaal.
Dis iets wat ons op geen manier kan verstaan nie. Net so min soos wat ons verstaan dat Jesus dit daar volledig in ons plek gedoen het, sodat jy niks daartoe hoef by te dra nie, net so onmoontlik is dit om te verstaan dat ons ou sondige lewe as vyande van God daar geeïndig het. Dat jy letterlik aan die kruis gesterwe het, sodat jy nou ‘n nuwe lewe kan lei. Jesus het nie aan die kruis net vir jou nuwe opsies geopen sodat jy nou ‘n nuwe blaadjie kan omblaai en in vrede met God verder kan lewe nie – Dis oneindig meer as dit. Die ou mens wat jy was, het gesterwe aan die kruis. Dit is vir goed verby. In plaas van ‘n vyand van God mag jy nou sy kind wees. Jy hoef nooit weer afgesny van Hom en sy genade te lewe nie. Jy lewe in Christus ‘n nuwe lewe, en jy het dit omdat jy saam met Christus aan die kruis gesterwe het en saam met Hom opgestaan het en lewe vir ewig!
Ek het nooit gesê Romeine 5 is ‘n maklike hoofstukkie nie. Maar dis ‘n hoofstuk van absolute verwondering. Die era van konflik en vyandskap is verby. Daar het nou vrede gekom tussen jou en God!
- Dit het vir ons ‘n toekoms gegee!
Maar nou gaan Romeine 5 nie oor die dood nie. Dit gaan oor die lewe. Want Christus het nie hierdie enorme offer gebring om ons uit te lewer aan ‘n lewe wat eintlik soos die ou doopformulier gesê het, “niks anders as ‘n gestadigde dood” is nie. Inteendeel! Om aan te karring asof niks gebeur het nie, is die ergste vorm van ondankbaarheid wat ek my kan bedink. Christus het vir ons vrede met God bewerk sodat ons weer regtig kan lewe. Dis mos na alles presies wat Jesus die dag vir Marta gesê het na Lasarus se dood. Hy het gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.”
Ons bestaan nie net meer nie, met die swaard wat elke dag oor ons koppe hang dat ons nie weet wanneer die dood ons gaan inhaal en ons lewe beeïndig nie. Dis nie waarvoor Jesus gesterf het nie. Hy het sy lewe gegee om die grooste vyand van almal, die dood, se mag oor ons vir eens en vir altyd te breek. Daarom mag jy maar hier uitgaan en gaan lewe. Gaan doen dan dit wat Jesus vir Marta belowe het: gaan lewe! Lewe met oorgawe en vrede, vreugde wat geen beurtkrag en geen virus en geen geweld en geen hartseer van jou kan wegneem nie. Want God het jou lief genoeg gehad om sy eie Seun in jou plek te gee, sodat jy kan lewe...
Hy het die deur na God toe vir ons oopgemaak, sodat ons nou elke dag kan vasstaan in die genade. Ons mag elke dag die vrede geniet wat ons nou met God het, deur ons lewe met Hom te deel en sy leiding te volg. Ons mag lewe in die hoop wat niks van ons kan roof nie, dat ons vir ewig veilig in God se hand is. En selfs as dinge skeef loop, en ons swaar kry, wat gebeur in hierdie stukkende wêreld waarin ons lewe, is dit nie die finale woord nie. Want ons weet niks kan die lewe wat God vir ons gegee het, wegvat nie. Ons sal lewe, al sterwe ons ook.
Daarvoor het Jesus aan die kruis gesorg.
AMEN