Hebreërs 5:4 - 10

Datum: 21 Maart 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

In vandag se tye sou ons seker sê hy het homself vrywillig geïsoleer. Maar die waarheid is, hy het nie langer kans gesien om in die huis te sit terwyl almal om hom net wag en kyk wanneer hy sy laaste asem gaan uitblaas nie. Want hy was siek. Tot die dood toe siek. Sy hele lyf was oortrek van aaklige, pynlike sere. Dit was net die finale strooi. Oor die afgelope paar weke het hy alles verloor wat vir hom kosbaar was. Eers het hy al sy besittings verloor, toe is omtrent sy hele gesin uitgewis, en nou het hy boonop nog sy gesondheid ook verloor. Van sy lewe het net mooi niks oorgebly nie. En dis dié wat ons Job in hierdie haglike omstandighede hoor sê:

 

"As daar maar iemand was

wat in die saak tussen ons kon oordeel,

wat oor ons albei onpartydig kon regspreek,

as daar maar iemand was

wat God se straf van my kon wegneem..."

 

As daar maar net iemand was, ‘n tussenganger  wat my saak voor God kon gaan stel. Want ek verstaan nie. En dit voel of God nie na my luister nie, asof Hy my vergeet het. As daar maar net iemand was wat tussen my en God kon kom staan! Die Here voel vir my so ontsaglik ver. So oneindig hoog en verhewe ? ek kan nie tot by Hom bykom nie. Ek kry Hom nie in die oë gekyk nie, en ek kry Hom nie verstaan nie. Ek voel net hierdie ontsaglike kloof tussen my en die Here, 'n kloof wat ek nie weet hoe om te oorbrug kry nie. As iemand my maar net in my nood kon help...

 

Natuurlik is Job nie al mens wat nog ooit so gevoel het nie. Die hele Psalmboek is byvoorbeeld vol mense wat kla dat God ver voel, en wat wens dat die kloof tussen hulle en God oorbrug kon word, dat iemand God net so 'n bietjie nader aan hulle kon bring. En vandag is dit dalk nog meer so as ooit. Ek hoor heel dikwels ons mense sug, veral in daardie tye wanneer ons ook by wyse van spreke, soos Job op die ashoop sit. Wanneer God so oneindig, ontsaglik vér voel. En jy wens iemand kon net vir God nader bring, Hom herinner aan my bestaan, en dat ek Hom nodig het..!

 

Natuurlik het God hierdie versugting gehoor, en deur die eeue het Hy verskillende mense gebruik as sulke brugbouers. Dink maar aan Moses wat vir die volk by God intree. Of Abraham, wat by God pleit vir die mense van Sodom. En natuurlik ook al die profete, wat ook die volk by God moes verteenwoordig.

 

Maar dan was daar ook iemand wat God heel spesifiek aangestel het om hierdie rol te vervul. Die hoëpriester. Hy moes gereeld offers bring vir die sondes van die volk, en dan was hy al mens wat, ook net een maal per jaar, op die groot versoendag, selfs in allerheiligste deel van die tempel mag ingegaan het, om daar in God se heilige teenwoordigheid gaan staan namens die gemeente.

 

Maar die Hoëpriesters was feilbaar. Hulle was maar mense, vol gebreke en sonde. Dink maar aan Eli, wat sy kinders verwaarloos het, tot hulle die spoor heel byster geraak het. Daar was ook ander hoëpriesters wat hulle posisie misbruik het om goddelose konings na te praat, wat korrup genoeg was om geld uit hulle amp te probeer maak. Trouens, al sê die wet dat 'n hoëpriester lewenslank moes dien, was daar tog in die tyd van die Nuwe Testament twee hoëpriesters: Kajafas en Annas. En altwee was skynbaar ewe korrup. Maar die tragiek daarvan was dat selfs God se verteenwoordigers het hulle bra min gesteur aan die voorskrifte van die Here. En so het die stelsel van die hoëpriestersamp heeltemal gefaal.

 

En steeds het Job se sug net voortgeduur. Die sug dat iemand net regtig tussen ons en God kon kom staan, om ons en God regtig by mekaar uit te bring.

 

  1. God gee self die Middelaar

En toe gebeur die wonderwerk. God gee self daardie Middelaar. God self herroep die ou stelsel wat as gevolg van die sonde gefaal het, en Hy begin heeltemal oor. Hy skaf die Hoëpriester wat sy amp by sy pa geërf het af. Weg is die Hoëprister wat eers vir sy eie sonde moes offer. En daarmee is die groot leemte ook weg - daardie eindelose sug na iemand wat tussen ons en God kon staan.

 

Want hier is Jesus Christus. God se volmaakte Hoëpriester. Hy het nie ndig om eers vir Homself offers te bring nie, want Hy het geen sonde nie. Hy hoef ook nie wéér en wéér offers te bring nie, want sy één offer was genoeg. Dit het ons vir ewig met God versoen! Sy één offer is groter as al die sonde van hierdie wêreld! Hy hoef ook nie een maal per jaar met groot seremonie voor God te verskyn nie. Hy is altyd by God: die ereplek in die hemel is syne.

 

Jesus het ons verhouding met God in elke denkbare opsig totaal anders kom maak. God is nou nie meer ver van ons af nie. Daar is nie meer 'n kloof tussen ons en God, wat maak dat ons sukkel om by die Here uit te kom nie. Jy hoef nie meer te wens om by God te wees nie – dis nou die nuwe era. Die era van vrye toegang tot God. Die deur na God staan vir jou oop. Die pad na die hemel is vir ons oop!

 

  1. Gebruik dit dan!

"Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon", sê die Hebreërskrywer. Dit sou niks help ons het ‘n snelweg na God toe, en ons gebruik dit nie. Daarom kom moedig die Hebreërskrywer ons aan: Hou dan op soos Job op die ashoop sit. Hou op om in trane te wens vir 'n tussenganger, vir 'n oop deur by God. Want dit is reeds ‘n werklikheid! God het dit alles reeds gegee. Gebruik dit maar net. Gaan maar net na God toe.

 

  1. “Vir die gehoorsames...”

Die preek sou seker maklik hier kon stop. Maar hier staan nog iets in Hebreërs 5:9. Kyk net, hier staan: "Hy het vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van saligheid geword."

 

Jesus het nie sy amp as Middelaar sommer present gekry nie. Dit het nie in sy skoot geval nie. Nee, Jesus het dit op die harde manier geword - via 'n pad van gebede en smeking, wat met harde geroep en met trane aan God geoffer is. Om Hoëpriester van die Nuwe Verbond te word, moes Hy ly. En so leer Hy ons ook wat dit beteken om aan God onvoorwaardelik gehoorsaam te wees. As jy wonder hoe lyk gehoorsaamheid aan die wil van God, kyk maar net na Jesus. Kyk wat beteken dit om te sê: "Nie my wil nie, maar u wil, Here." Nie wat vir my lekker en gerieflik is nie, wat vir my pas nie, maar dit wat U vra. Dit wat U wil hê... Dis hoe Jesus ons Middelaar geword het. Ons bron van ewige saligheid.

 

Maar kyk net, hier staan nêrens dat Hy sonder meer vir almal die Bron van saligheid is nie. Hy is nie sommer outomaties almal se Hoëpriester nie. O nee. Hy is die Bron van ewige saligheid vir almal wat aan Hom gehoorsaam is. Dit beteken dat Jesus die Bron van ewige saligheid is vir almal wat hulle by Hom skaar. Nie almal wat sondeloos en volmaak is nie, maar almal wat baie spesifiek kies om Hom te volg en te dien. Almal wat lewe volgens die wil van God. Hulle behoort nie meer aan hulleself, maar het hulle lewens in sy hande oorgegee ? vir húlle is Hy die Middelaar. Húlle het uiteindelik Iemand wat hulle saak by God stel, wat tussen hulle en God kom staan, wat vrede maak tussen hulle en God.

 

"As daar maar iemand was", sug Job. En nou kom antwoord Hebreërs 5 hierdie versugting. God het so 'n Iemand gegee. En Hy tree vir hulle wat aan Hom gehoorsaam is, by die Hemelvader in. En as jy een van die gehoorsames is, en jou lewe aan Jesus behoort. Dan het jy 'n oop deur na God toe. 'n Middelaar wat namens jou langs God staan.

 

AMEN.