Efes 5:6-20; Gal 5:16-25

Datum: 8 Junie 2025 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Janse van Rensburg

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar

Die Gees is nie net vir "destyds" nie – Hy is vir vandag. Hy is vir jou. En daarom vra ons vandag: Wat beteken dit om onder die leiding van die Heilige Gees te leef? Hoe lyk ’n Geesvervulde lewe?

 

Galasiërs 5 en Efesiërs 5 wil ons leer hoe die Heilige Gees ons oë oopmaak,  hoe Hy ons lei uit die duisternis van die vlees tot die lig van Christus. Om te weet hoe om onder sy leiding te leef.

 

Paulus skryf in Efesiërs 5:18 – “Laat die Gees julle vervul.” Paulus skryf dit vir mense wat reeds gelowig is, wat – soos Efesiërs 1:13 sê – deur die Heilige Gees as God se eiendom beseël is. In Gal. 5:16: "Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word; dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie." (v.16)

 

Paulus is eerlik: selfs in ’n gelowige is daar ’n innerlike stryd. Die ou natuur wil ons trek na selfgesentreerde begeertes toe, maar die Gees wil ons vorm in die beeld van Christus. Met ander woorde: Al het jy die Heilige Gees, as God se geskenk aan jou, ontvang. -beteken dit nie jy leef volledig onder die beheer van Gees . Dis iets wat daagliks moet gebeur. Dit vra oorgawe, elke dag.

 

Om vervul te wees met die Gees is nie ’n eenmalige, emosionele ervaring nie. Dis ’n lewenslange proses waarin jy jou wil, jou begeertes, jou keuses onder die beheer van God stel.

 

Wat beteken dit om vervul te wees met die Gees?

Paulus gebruik ’n interessante vergelyking: Hy sê moenie dronk word van wyn nie, maar word vervul met die Gees.

 

Wat doen alkohol? Dit beïnvloed jou denke, jou spraak, jou gedrag. Dis ’n vorm van beheer. Net so sê Paulus: Laat die Gees julle beïnvloed – nie soos ’n robot nie, maar deur vrywillige oorgawe. Jy gee beheer prys sodat die Gees jou innerlike wêreld vorm.

 

’n Geesvervulde lewe is dus nie net ’n geestelike teorie nie. Dis prakties. Dis sigbaar. Dis iets wat ander kan sien. Dis wanneer jy toelaat dat die Gees jou help om met selfbeheersing te praat, met liefde te reageer, met sagmoedigheid op te tree.

 

Dis nie iets wat jy self kan regkry nie – dis die vrug van die Gees wat in jou groei.

Waarom moet ons Geesvervuld of onder leiding van die Gees leef?

 

Die Heilige Gees bring jou nie net tot geloof nie – Hy voltooi wat Christus in jou begin het. Dis Hy wat jou heilig maak, wat jou karakter vorm, wat jou die pad van gehoorsaamheid wys.

 

In Galasiërs 5:25 lees ons:

 

“As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees ons gedrag laat bepaal.”

 

Die wêreld leer ons: “Wees jouself, doen wat jy wil.”

Maar die Gees sê: “Wees soos Christus. Doen wat God wil.”

 

Mag hierdie Pinkstersondag vir jou ’n keerpunt wees.

 

Mag jy vandag jou hart oopmaak vir die werk van die Gees –

sodat jy sal lewe onder sy heerskappy, in sy krag, en op sy pad.