2 Petr.3:1-16

Datum: 4 Februarie 2024 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Morkel

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar

Ek wil julle vertel van ‘n familie wat hul vakansie by hulle strandhuis deurgebring het. Die ouers moes toe voor die einde van die skoolvakansie terugkeer na hul werk. Hulle besluit toe saam die kinders sal aanbly tot die einde van die skoolvakansie.  Toe die ouers vertrek, het hulle by hul vriende in die strandoord aangery om te groet. Hulle haak toe by hul vriende vas en die vriende nooi hulle op die ou end vir aandete. Intussen het die kinders hulle vriende oorgenooi om die aand by hulle te kom kuier,

te kom braai, te “party”, en sommer ook om oor te slaap. Hierdie kinders het begin leef het asof hul ouers weg is, nie sal terug kom huistoe nie. Alles het heel vrolik by die vakansiehuis gegaan toe een van die kinders ‘n oproep van hul pa kry. Pa sê toe jammer, ons het vasgehaak hier by oom Gert-hulle, ons het besluit om nou maar more-oggend vroeg te ry, ons wil maar net laat weet, ons sal so teen 23:30 by die huis wees!

 

So was daar in Petrus se tyd mense wat nie geglo het Jesus gaan terugkom nie, nie in die  wederkoms van die Here geglo het nie. Hulle het gespot: Wat het dan van die belofte van die wederkoms geword? Het God van plan verander? Is die wederkoms uitgestel, dalk afgestel?

Hierdie mense se lewens was ook asof die Here afwesig is(vlg kinders se partytjie). Ons lees hier van: losbandigheid, wellustige, vleeslike begeertes, beginsellose mense. So hierdie mense se lewens het ook gewys die Here is weg, die Here kom nie terug nie!

 

Kom ons vra Gebeur dit dalk ook vandag? (onder ons, in my lewe?) Is daar vandag ook mense wat leef asof hulle nie glo die Here kom terug nie? En indien wel: hoe gee hulle dit te kenne? Ek ontken die wederkoms as die feit dat die Here weerkom, geen invloed of impak op my lewe het nie. As ek leef asof hierdie aardse bestaan my enigste (en ewige) tuiste is, my enigste (en ewige) bestemming is. Ek ontken die Wederkoms as my lewe  net maar draai om hierdie wêreld en wat ek hieruit kan haal. Dit kan ’n slegte lewe van losbandigheid en wellustigheid wees soos hierdie mense, dit kan egter ook wees dat ek so in goeie dinge opgaan dat God en sy Koninkryk, ook die belofte van Jesus se wederkoms, geen of weinig rol of invloed in my lewe speel. Dinge soos jou werk, jou kinders, jou ambisies, jou stokperdjie, jou sport, jou tydverdryf.  Kom ons vra elkeen vir onsself: Watter rol speel die wederkoms in my lewe? Het die wederkoms van Jesus nie eintlik maar ‘n baie klein, ‘n minimale of dalk geen invloed om my manier van lewe het nie? Lyk ons kerk op aarde nie dalk soos hierdie huis nadat pa en ma daar weg is nie?  Is ons optrede, ons gedrag, ons manier van lewe, nie maar dikwels netsoos die wêreldling s’n?

 

Tweedens: Ons kan ons indink wat gebeur het toe die ouer vir die kind oor die selfoon sê:

Ons kom huistoe, ons gaan vannag nog hier slaap en more oggend vroeg ry!  Petrus laat lui ook

vanoggend ons selfone en hy sê, soos baie ander skrywers in die N.T:  Luister kerk van Jesus Christus: die Here kom terug / weer!  Petrus doen dit op 3 maniere: Eerstens maak Petrus gebruik van “onthou-woorde”: v.1: ek herinner julle; v.3: julle moet veral weet; v.8: julle moenie nie vergeet nie. Tweedens beskryf Petrus die wederkoms in baie detail/besonderhede, vreeslik realisties. Hy wil die werklikheid van die wederkoms in ons geheues inbrand!  Luister net: v.10: op dié dag sal die hemel met ’n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan. En v.12: die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand/wegsmelt Derdens sê Petrus 3x in hierdie gedeelte: (in verse 7, 10, 12) Die dag van die Here sal kom.

 

Ons moet dan hoor wat Petrus vanoggend met soveel dringendheid aan sy lesers oordra. Die Here kom weer. Petrus sê dit met soveel oortuiging, dié feit word op sovele plekke in die Woord genoem, Jesus self het dit ook baie duidelik gemaak. Die tekens wat die Here gegee het wat ons moet herinner dat Hy weerkom, is regdeur die geskiedenis, ook vandag daar: oorloë en gerugte van oorloë, pessiektes, hongersnood, droogtes, oorstromings,(ons beleef dit!) Ons bely immers elke Sondag dat die Here weer kom:  Vanwaar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. Daar moet by ons geen twyfel wees dat die Here weerkom nie.

 

Derdens: Wat dink julle het gebeur nadat die kinders die oproep van hul ouers gekry het dat hulle later die aand terugkom huistoe? Ek dink dit het ‘n geskarrel afgegee! Die kinders het dadelik begin skoonmaak, opruim, alles op hul plekke reggeskuif, gereedgemaak vir die terugkoms van hul ouers! Die feit van die Here weer kom / terug kom, behoort ook ‘n invloed op ons gedrag, ons manier van lewe, te hê, behoort te maak dat ons anders lewe omdat ons weet die Here kom, behoort te maak dat ons lewens leef wat gereed is, in orde is vir sy koms.

 

En nou sê Petrus dit gebeur op 2 maniere. Die eerste een is dat ons moet kennis neem dat die feit dat die Here nog nie gekom het nie, nie is omdat God nie sy beloftes nie nakom nie, maar omdat God lankmoedig en geduldig is. En dan staan hierdie belangrike woorde daarby: V.9: Hy wil nie hê dat iemand verlore gaan nie, Hy wil hê dat almal hulle bekeer. V.15: beskou die geduld wat die Here met ons het as geleentheid om gered te word. Die feit dat die Here nog nie gekom het nie, is genadetyd vir die mens, is tyd om tot bekering te kom. Dit is geleentheid vir mense om God te vind. Ons as gelowiges het tyd waarin ons mense wat die Here nie ken nie, tot inkeer kan roep, die Evangelie moet verkondig, die Verlossingsboodskap van Christus moet uitdra. Ons as kerk moet bly/aanhou die boodskap van verlossing verkondig, sendingwerk doen, getuig, verkondig. Die tyd is min, die tyd is besig om uit te loop, moenie uitstel nie, maak jou saak met God reg

 

Die 2de manier waarop die wederkoms ons lewens behoort te raak, vind ons in vv 11 en 14:julle moet toegewyd en vroom lewe(v.11); julle moet vlekkeloos, onberispelik en in vrede met God lewe.(v.14)

Genadetyd is nie tyd om in selfsug en gerief my koninkrykie op te bou nie, is nie tyd wat ek soos die goddeloses in wellus en losbandigheid kan deurbring nie, is nie tyd waarin ek armsgevou op die wederkoms sit en wag nie. Buiten dat die tyd tot voor die Wederkoms van die Here ‘n tyd is wat Hy vir ons gee om mense tot bekering te roep, is dit ook ‘n tyd waarin van ons as gelowiges geroep word om godsvrugtig te lewe, om toegewyd aan die Here te lewe, om onberispelik te lewe. Ons moet hier by die erediens uitstap om godvrugtig, toegewyd, voorbeeldig, in afhanklikheid van die Here te gaan lewe!

 

Kom ons sê, toe die ouers dié aand by hul strandhuis opdaag, was alles ordelik en mooi op hul plek,

die kinders was gereed vir die ouers se terugkoms. Mag die Here as Hy weerkom, ons besig vind om (eerstens) die Boodskap van Verlossing te verkondig, en (tweedens) om godsvrugtig en toegewyd aan die Hom te lewe