Jes 62:1-12
Datum: 26 Desember 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Dalk kom dit vir jou as ‘n bietjie van ‘n skok as jy hier lees dat dit sleg gaan met God se mense. Dit klink net nie reg nie. Hoe kan dit nou sleg gaan met iemand wat aan die Here behoort? As jy ‘n kind van die Here is, sal Hy mos sorg vir jou, dat dit altyd net goed gaan, of hoe? Maar ongelukkig weet ons ook al almal dis nie hoe dit werk nie. Dis nie net ongelowige mense met wie dit sleg gaan nie. Ook gelowiges kry soms swaar, om verskillende redes. Party keer is dit ons eie skuld. Oor ons eie verkeerde, dom besluite wat ons neem in plaas daarvan om die Here se raad te vra. Of omdat ons doen wat ons weet nie God se wil is nie, al het Hy spesifiek gevra ons moenie dit doen nie. Dis heel dikwels ons eie skuld dat dit met ons sleg gaan. Omdat ons ons eie kop volg en net nooit sy wil gesoek het nie.
Maar nie altyd nie. Dis nie altyd so eenvoudig nie. Mense raak nie siek omdat hulle groter sondaars is as ander nie. Hulle kom nie ongelukke oor omdat hulle swakker gelowiges is nie. Die waarheid is: ook ons as gelowiges lewe in ‘n stukkende wêreld, wat deur miljoene sondes en verkeerde keuses opgemors is. Selfs Jesus het dit nie ontkom nie. Hy moes ook een maal uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Geloof is nie ‘n waarborg dat dit altyd net goed sal gaan nie.
Slegte tye kom oor ons almal se pad. In Jesaja se woorde, kan jy inderdaad soms voel soos vers 4 sê, soos “’n verstote vrou”? En onthou, in Jesaja se tyd was ‘n vrou in baie ernstige moeilikheid as haar man haar verlaat het. Sulke vroue is aan hul lot oorgelaat, totaal uitgelewer aan hul omstandighede – hulpeloos en hopeloos. En dis hoekom Jesaja vra: Wat maak jy sulke tye, as jy so hulpeloos en hopeloos voel, as alles om jou in duie stort en jy nie weet watter kant toe nie?
Jy gaan verbaas wees oor Jesaja se antwoord. Hy sê eenvoudig: Ek sal nie dan stilbly nie. As dit om my donker raak, sal ek myself aanhou en aanhou herinner aan God se beloftes. En verder gaan ek ook nog almal om my die hele tyd daaraan herinner. Dis al wat in donker tye help, om mekaar onophoudelik te herinner aan God se beloftes. Dis soos die wagte wat God self op die stadsmure aanstel. Hulle is daar om wag te staan, maar ook moet hulle heeltyd God se mense herinner. Hulle moet sy mense help om tog nooit God se beloftes te vergeet nie.
- Dis nie altyd duidelik sigbaar nie…
Dit wys eintlik net hoe goed God ons ken. Hy weet baie goed hoe gou ons vergeet, as die donkerte ons begin oorweldig. Ons fokus al meer op die donkerte, so asof dit al is wat belangrik is, wat reëel is, en so vervaag die beloftes van die Here al meer vir ons. Ons begin vrae vra, begin wonder of God ons dalk vergeet het? Of het ons dalk iets verkeerd verstaan? Het ek nie dalk iets verkeerd gedoen en Hom kwaad gemaak en gemaak het dat Hy weggedraai het van my af nie?
Sulke tye het ons baie nodig om herinner te word. Iemand moet my net daaraan herinner dat ek God se kind is. Wanneer ek in daardie oomblik sukkel om dit raak te sien, moet iemand my net daaraan herinner dat die Here my steeds oneindig lief het en vir my sorg, en dat Hy steeds in beheer is. Dat my teenspoed glad nie beteken dat God my laat glip het uit sy hand nie! Dit moet die wag uitroep, om my daaraan te herinner dat my redding seker is: dat dit sal deurbreek soos die helder dag. Daar kom ‘n dag wanneer die son weer helder vir my sal deurbreek, en alle twyfel sal verdryf. Almal sal kan sien dat ek gered is, dat ek aan die Here behoort. Daardie dag sal ek ‘n nuwe troetelnaam by God kry, sodat almal sal weet ek is “Die een wat God liefhet”.
Ware geloof is om aan te hou om God se beloftes vas te hou, al sien ek nog niks daarvan nie, selfs al skreeu my omstandighede daarteen. Geloof is om te weet: ek is veilig in God se hand. Om soos Paulus te sê: Ek weet niks en niemand kan my skei van die liefde van God wat daar is in Jesus Christus ons Here nie. Of soos Jakobus so mooi sê: geloof is om die onsienlike te sien, om al in die verte die hemelse stad te groet, al is dit nou nog net ‘n lugspieëling op die horison. Geloof is soos die Bybelse bruidjie wat wag en weet: haar bruidegom sál haar kom haal vir die troue. Geloof is om Kersfees te vier terwyl jy weet, in die woorde van vers 5, “die Here het my lief… en soos ‘n bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God oor jou bly wees…”
Dis tog waaroor Kersfees so pas gegaan het. En dis die kern van ons geloof, ons belydenis waaraan jy jouself oor en oor mag herinner as dit sleg gaan. Jy mag dit oor en oor vir jouself sê: Die Here het my lief…
- Daarom moet ons mekaar bly herinner…
Maar party keer is dit net nie genoeg nie. Dan het jy nodig dat iemand anders jou sal herinner. Om seker te maak jy vergeet dit nie dalk nie…
En dis waat ek inkom. Dis my werk waarvoor die Here my geroep het – om julle die hele tyd te herinner aan sy beloftes. Dis eintlik al wat ek heeldag doen. Maar gelukkig staan ek en Chris nie alleen nie, want elkeen van ons wat broers en susters is, deel in hierdie verantwoordelikheid. Ons mag nie stilbly nie! Jy het ‘n verantwoordelikheid teenoor jou mede-gelowiges. Jy is die wag wat die Here op die muur plaas om almal te bly herinner aan die goedheid en die trou van God. Moet nooit ophou om almal om jou te herinner dat die Here getrou is, en nooit sy beloftes vergeet nie. Jy is God se wag op die muur, sy advertensiebord vir sy liefde.
Dis jou roeping: om moedelose mense elke oomblik te herinner dat die almagtige God ons ontsaglik lief het. Sodat die wat swaar kry, dit kan hoor en sien en moed kan skep. Ons lewe nie soos geïsoleerde eilandjies elkeen net vir homself nie. Jou kollega wat swaar kry, het nodig dat jy hom herinner aan die liefde van die Here; jou vriendin moet by jou hoor dat God haar steeds baie lief het en met haar lewe op pad is, as sy sukkel om dit raak te sien. Jou vrou moet dit by jou hoor as sy bekommerd is oor die kinders, jou man as hy bedruk is oor julle finansies.
Jy is die wag op die muur. Herinner almal die hele tyd aan die beloftes van die Here. Dis jou lewensin. Dis waarvoor jy ‘n kind van die Here is.
- Maar ons moet ook vir God daaraan bly herinner…
Maar dan sê Jesaja ‘n verskriklik interessante ding. Hy sê ons moet nie net mekaar aan God se beloftes herinner nie. Jy moet ook die Here self aan sy eie beloftes herinner. Natuurlik beteken dit nie dat God vergeetagtig is, dat Hy goed belowe en dan skoon vergeet daarvan as jy Hom nie heeltyd herinner nie! Hy is immers nie ‘n mens nie. Hy is nie soos ek, wat Adri heeltyd aan alles moet herinner nie. Hy is God, die Getroue, wat nie een van sy beloftes vergeet nie. Hy sal nooit vergeet dat jy sy kind is en om vir jou te sorg nie.
Nee, dis glad nie ter wille van God wat jy Hom aan sy beloftes moet herinner nie. Hy het dit nie nodig nie. Dis ter wille van jouself. Want jy het dit wel nodig. Jy het nodig om met God te praat, om telkens weer sy beloftes vir jouself toe te eien, dit deel van jou te laat word. Sodat dit jou deur enige krisis kan dra. Dis waarvoor jy ‘n Bybel het, want dis waarin jy daardie beloftes sal ontdek. Raak weer daarmee besig, drink die Here se beloftes in, herhaal dit oor en oor vir Hom. Totdat dit so deel is van jou, dat jy daaruit kan lewe…
Maak dit jou nuwejaarsvoorneme. Kom ons maak 2022 weer ons jaar van die Bybel, waarin ons weer erns gaan maak met God se Woord, hom gaan afstof daar op jou boekrak, en waarin ons die Bybel weer deel van ons roetine gaan maak. Dis hoe die Here se beloftes weer vir jou en jou huis ‘n werklikheid sal word. Want natuurlik geld hierdie beloftes nie net vir jouself nie – dis ook vir jou familie en gesin, jou kinders en jou kleinkinders. Maar jy moet ook wyer kyk: Jy mag sy beloftes ook toe-eien vir sy kerk, vir ons gemeente, in hierdie tyd waarin gemeentes sukkel om weer hul kop op te tel na die inperkings en goed. Jy mag sy beloftes toe-eien vir elkeen wie se naam vanoggend op die afkondigings staan, wat swaar kry. Maar jy mag ook sy beloftes toe-eien oor hierdie land, omdat God belowe het om die land te seën waarin sy kinders woon. Hy het belowe dat donkerte nie die laaste woord oor ons land sal spreek nie; dat Hy sy kinders in vrede sal laat woon.
Jy is ‘n wag op die mure. Maar ‘n wag wat stilbly, is erger as nutteloos. Hy verraai sy roeping. Hy is daar om alarm te maak, en so is jy daar om almal in jou lewe te herinner daaraan, dat die Here getrou bly aan sy beloftes. Daar is ‘n nuwe dag aan die breek. Oor ‘n week gaan ons ‘n nuwe jaar binne. Gaan jy een van dié wees wat by voorbaat klaagliedere sing, asof jy nie ‘n God het nie? Asof Hy nie met ons op pad is nie? Ek ry op Oukersdag met my dogter se karretjie, en ek weet nie lekker hoe om die radio se stasie te verander nie. Toe luister ek maar na RSG. Na “Praat saam”, wat ek gewoonlik vinnig afsit. Maar toe praat almal oor wat hulle waardeer in ons land, en skielik wil ek dit toe nie meer afsit nie. Dit was net so lekker om te luister na iets anders as staatskaping en korrupsie en geweld. Ek was verstom hoe dit my gemoed gelig het om net ‘n slag iets positiefs te hoor.
Watter verskil sal ons dan nie in 2022 maak as ons regtig onsself en almal om ons aanhou herinner aan God se liefde en sy trou, aan sy beloftes nie? Moenie nooit ophou nie. Moenie moed verloor nie. Moenie boedel oorgee nie. Ons God is getrou. Ons het mos darem nie verniet gister Kersfees gevier nie. Ons het God se belofte, dat ons redding sál deurbreek soos ‘n nuwe dag - want die Here het jou lief, en die hele land behoort aan Hom.
AMEN
sal gepubliseer word sodra beskikbaar