Jahannes 14:15 – 21: Johannes 15:1 – 8
Datum: 9 Junie 2019 (Aanddiens)
Prediker: Chris Barnardo
Herlaai deur die Heilige Gees ingeprop in Jesus
Daar is iets in die lewe waarvan julle my baie kan leer. Om die waarheid te sê, ek vermoed dat elkeen van julle ‘n spesialis is wanneer dit by hierdie instrument kom waaroor ek wil gesels.
Ek praat van ‘n selfoon. ‘n Selfoon is baie van ons se lewensaar met die buitewerêld. Ek vermoed dat ons almal ‘n selfoon besit.
Hy lyk nie meer soos ‘n baksteen wat ek 20 jaar gelede besit het nie.
Destyds kon ek net twee dinge met my baksteen doen. Ek kon bel en ek kon oproepe ontvang.
Vandag se tegnologie wat ons in hierdie selfoon kry is verbysterend. Ek kan alles met my selfoon doen.
- Ek kan bel en oproepe ontvang.
- Ek kan die internet surf.
- Ek kan op sosiale media – platforms gesels en kuier.
- Ek kan SMS, ek kan WhatsApps stuur.
- Ek kan kyk wat by my huis aangaan met al die kameras rondom en binne-in my huis.
- Ek kan my alarm by die huis aktiveer en de-aktiveer.
- Ek kan my motorhuisdeur en hekke van my selfoon oop en toemaak.
- Om die waarheid te sê: “Mens kan omtrent alles met die selfoon doen”.
Wanneer my selfoon nie by my is nie, voel ek verlore.
Maar wat is erger as om hierdie selfoon êrens te verlê ?
Wanneer jy sien die battery is pap en jy het nie ‘n “Charger” byderhand nie. Dit is wanneer baie mense verbouereerd word. Stresvlakke se refs loop hoog in die rooi.
Hoeveel keer het ek nie al die volgende gehoor nie:
As ek maar net my charger onthou het.
OF
Wie van julle het ‘n nuwe Samsung Charger of ‘n iPhone Charger ?
Die enigste manier om te sorg dat daar genoeg energie in jou selfoon is, is om dit gereeld te herlaai.
Oorgang
Weet julle, ons is ook baie soos hierdie selfoon. Ons moet ook gereeld geestelike energie kry sodat ons as Christene in Jesus se voetspore kan volg.
Ons moet gereeld geestelik herlaai word. En die enigste manier om ons geestelike batterye te herlaai is om in Jesus ingeprop te wees.
Jesus is die bron van ons geestelike energie. Jesus wys ons hoe ons veronderstel is om te lewe.
Jesus is vol van die Heilige Gees. Wanneer ons nie ingeprop is by Jesus ons kragbron nie gaan ons uit geestelike energie hardloop.
En net soos ‘n selfoon sonder energie, gaan ons ook sonder geestelike energie niks in Sy koningkryk beteken nie. Die beste manier om by Jesus ingeprop te wees is deur gebed en aanbidding en om die Bybel te lees en om Jesus dinge vir mense te doen.
Wanneer mense se geestelike batterye pap is, is dit so maklik herkenbaar.
- Ons sien dit in mense se gedrag.
- Ons sien dit in hoe mense praat
Woorde wat uit ‘n mens se mond kom sê vir ons baie wat in daardie mense se harte aangaan. Mense se dink en doen kan maklik verklap of hulle geestelike batterye gelaai is. Jy moet gereeld daardie geestelike batterye herlaai.
Kom ons bid saam en vra vir Jesus dat die Gees ons volmaak en herlaai sodat ons ‘n vol lewe vir Hom kan leef.
AMEN