Genesis 45:1 - 8

Datum: 16 Augustus 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Morkel

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

Ons het die afgelope maande baie meer alleentyd - tyd om te dink. Tyd om ook na te dink oor die lewe, jou lewe tot vandag, jou verlede. Tyd om voorraad opname te maak, te dink oor vrae soos: Hoe doen  ek nou eintlik met my lewe? Is ek tevrede met my lewe tot sover?

Wat sou ek wil verander? Mens sou op meer as een manier oor jou lewe kon nadink. Jy sou deur meer as een bril na jou lewe kon kyk.

 

Josef sou homself byvoorbeeld baie jammer kon kry en sê: Ek het ‘n moeilike lewe gehad, dit was asof swaarkry my ast’ ware van jongsaf agtervolg het. My broers het nie van my gehou nie, op my gepik, my geboelie. Toe ek maar 17 jaar oud was, het my pa my na my broers gestuur waar hulle die kleinvee in die veld opgepas het. Daar het hulle sommer besluit om my dood te maak. Gelukkig het Ruben hulle gekeer, hulle het my toe in ‘n leë put gegooi en vir my pa vertel ek is dood.  Toe daar Midianiete verbygekom het, het hulle my aan hulle verkoop en ek is Egipte toe geneem. Voor ek my oë kon uitvee, was ek in ‘n vreemde land ‘n slaaf van Potifar, die hoof van Farao se lyfwagte. In Egipte het my slegte geluk voortgeduur. Ek het die slegte dinge soos ‘n magneet aangetrek! Potifar se vrou het my probeer verlei, daarna my valslik beskuldig en ek is in die tronk gegooi. Die tronk was ‘n hool - niks anders as ‘n stinkende gat in die grond nie. Na 8 jaar in die tronk het ek gedink my geluk draai. Ek het die skinker en bakker se drome uitgelê en die skinker het my beloof om my te onthou as hy uit die tronk kom - maar weereens het ook niks hiervan gekom nie. Eers 2 jaar later het die skinker my onthou toe die Farao twee snaakse(eienaardige) drome gehad het. Die Farao het my uit die tronk laat kom en ek het sy drome uitgelê. Dié keer het ek darem bietjie geluk gehad en die Farao het my aangestel as die hoofbeampte in Egipte om te sorg dat almal koring in die tyd van hongersnood.

 

Dit is een manier waarop Josef oor sy lewe sou kon nadink! Kyk ons dalk ook deur hierdie bril na ons lewens? Tel ek en jy ook onder diegene wat deur ‘n donkerbril na die lewe, na ons lewens, na ons verlede kyk? Ons sien in alles die negatiewe, die donkerkant. Ons voel heeltyd ons word  verontreg, ons is martelaars. Ons bejammer onsself oor alles wat gedurig ons oorkom. Het jy al gedink, wat word van ons getuienis as kinders van die Here as ons op hierdie wyse onsself sien? Watter beeld as verteenwoordigers van die Here gee ons aan die wêreld as ons onsself heeltyd as slagoffers sien? Wat word van ons bruikbaarheid as instrumente in Godshand as ons met so ‘n negatiewe ingesteldheid deur die lewe gaan?

 

Ons sou ook op ‘n tweede manier oor ons lewens kon nadink. Ons sou selfvoldaan oor ons

lewens kon nadink. Onsself is in die hoofrol! Josef sou byvoorbeeld kon sê, al moet ek dit nou self sê, ek het uitgestaan bo my elf broers! Hulle kon dit nie vat nie, hulle was jaloers op my en al my talente. Op ‘n dag wou hulle my doodmaak, het my op die ou end aan slawehandelaars verkoop en ek het as slaaf in Egipte beland. Voor jy jou oë kon uitvee, het ek ook in Egipte gewys wat in my steek. Ek het my opgewerk tot hoof van Potifar se hofhouding. Ek was ‘n fris geboude en aantreklike jongman, ek was gewild onder die meisies. Selfs Potifar se vrou kon ook haar hande nie van my afhou nie! Maar ek het nie vir haar geval nie – dit sou dom wees. Die uiteinde van die storie is dat Potifar my in die tronk gegooi het! Maar hoe sê hulle in Engels “You can’t keep a good man down!” In die tronk was ek sommer gou-gou in beheer van al die gevangenes. in die tronk het ek die bakker en die skinker se drome uitgelê en dit het presies so gebeur. Twee jaar later het die Farao my uit die tronk laat kom en my gevra my om sy drome uit te lê. Ek lê toe sy drome uit en ek was weer in die kol. Ek was maar 30 jaar oud toe die Farao my aangestel het oor die hele Egipte!

Julle sien, waar ek gekom het, het ek my merk gemaak: onder my broers, in Potifar se hofhouding, in die tronk en as tweede in beheer van Egipte! Tans sorg ek in hierdie hongersnood dat daar koring is vir die hele wêreld, so staan dit in Gen.41:57. Dit is ‘n tweede manier waarop Josef oor sy lewe sou kon nadink.

 

Ek en jy sou ook deur hierdie bril na ons lewe kon kyk of nadink. Ons kan elkeen hom-/haarself gerus afvra: Gaan dit meestal in my lewe net oor myself? Oor wat ek in die lewe bereik het? Oor hoe goed, hoe belangrik, hoe vernaam ek is? Is my lewensleuse, “I, me and myself” - vol van myself? Neem ekself soveel spasie in my lewe op dat daar nie plek vir die Here is nie?  Dan sal ons weer vir mekaar moet sê dit is verseker nie die Here se wil nie,

Dit is nie hoe ons as verteenwoordigers van die Here op aarde moet lyk nie, dit is nie hoe ons getuies vir die Here gaan wees nie, dit is nie hoe ons bruikbare instrumente in Gods hand gaan wees nie!

 

Daar is ‘n derde manier waarop ons oor ons lewens sou kon nadink.  En dit is deur die bril van die geloof. Dit is hoe die Josef-verhaal vir ons in die Bybel opgeteken is. In retrospek sou Josef sy lewensverhaal so vertel: Ek was ‘n verwaande klein skepsel wat gedink het ek is belangriker as my broers. Daarby was ek nog ons Pa se witbroodjie, wat my nog ‘n groter dunk van myself gegee het. As ek terugdink, was dit eintlik ‘n goeie ding dat ek verkoop is en as slaaf in Egipte beland het - op dié manier is ek gestroop van my eiewaan. Hier in die vreemde land was die Here by my in Portifar se hofhouding. Lees Gen.39:3, “Die Here het alles wat ek aangepak laat slaag”. Die Here was so goed vir my - Hy het selfs vir Potifar geseën omdat ek in sy diens was. Toe Potifar se vrou my probeer verlei het, het die Here my die genade gegee om staande te bly, ek onthou dat ek vir haar gesê het: “Hoe kan ek so ‘n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig?”

 

Ook in die tronk was die Here by my. Ek het sy troue liefde in daardie slegte omstandighede ervaar. Hy het gesorg dat ek in beheer v/d ander gevangenes geplaas is. “Wat ek ookal aangepak het, het die Here laat slaag”(Gen.39:23). Julle wil seker weet oor die drome-storie: - dit was nie ek wat so goed was nie! Vir die skinker en bakker het ek gesê “God ken julle drome se uitleg, God vertel die drome vir my!”(Gen.40:8). En vir die Farao: “Nie ek nie! God gee die goeie antwoord vir u - die uitleg kom van God!” Kan julle sien dat letterlik alles in my lewe in God se hand was: my broers, die Midianiete, Potifar, die tronkbewaarders, die skinker, die gawe om drome uit te lê en die Farao self. Met my seuns se name het ek ook probeer sê hoe goed die Here vir my is. Manasse beteken “om te vergeet”. God het my al my swaarkry,ook wat my familie my aangedoen het, laat vergeet. En Efraim beteken “vrugbaar maak”. God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is. My woorde aan my broers hier in Egipte was ook: God het my voor julle uitgestuur om lewens te red.(v.5)

 

Josef se verhaal is eers nadat die Israeliete teruggekeer het van ballingskap, op skrif gestel.

Die verhaal moes die Israeliete help om die trauma van hul ballingskap te verwerk, om te sien dat wat met hulle gebeur het, ook deel van God se plan was, om sin en betekenis uit te maak van hul ballingskap-ervaring. Die verhaal van Josef se lewe is egter nie net vir die Israeliete bedoel nie. Dit is ook vir ons, bedoel! Die Here wil dat ons, as ons vanoggend oor ons lewens nadink, ons sal besef: God laat vaar nie ‘n goeie werk wat Hy begin het nie. God se hand is regdeur my lewe te sien. God was daar vir my die tye wat ek gevoel het die hele wêreld is teen my, alles wat sleg is, gebeur met my, ek is ‘n mislukking! God was ook daar vir my toe ek gevoel het  ek is in ‘n diep put, of donker hool. God was en is steeds in beheer.

 

God was ook met my die tye/kere wat ek so vol van myself was, dat ek dit nie kan glo as ek vandag terugdink nie! God was ook met my toe ek so selfvoldaan, so selfgesentreerd was. God het nooit moed opgegee op my nie! God het nie geduld verloor met my nie! Maar ook as jy terugkyk oor ‘n suksesvolle lewe, ‘n lewe wat getuig van prestasies en hoogtepunte,

moet jy (soos Josef) ook besef dit is nie in eie krag dat jy dit vermag het nie. Jy sou dit nie sonder die Here se genade, se seën vermag het nie! Die Here is in beheer van ons lewens. Kom ons besef vanoggend opnuut: Ons is besig om ons lewensverhaal saam met die Here te skryf. Die wonder is Hy hou ons vas, Hy hou ons vas in die goeie en in die slegte tye. Hy gebruik ons in sy Koninkryk selfs al besef ons dit nie altyd nie.

AMEN