Jakobus 1:19-27

Datum: 10 Junie 2018

Prediker: Johan Morkel

Ek wil graag vir julle vra: Waarvoor gebruik jy ‘n spieël as jy soggens wakker word?  Waarvoor kyk jy soggens in ‘n spieël?  Om te sien hoe ek lyk as ek wakker geword het, om te sien of my gesig skoon is, as ek my hare kam.  Ek kyk in die spieël om te sien as ek skeer(mans) en om te sien as ek grimering aansit(dames).  ‘n Goeie antwoord sal wees: ‘n Spieël vertel vir ons hoe ons lyk

Jakobus vergelyk in hierdie gedeelte die Bybel met ‘n spieël.  Soos ons in ‘n spieël kyk om te sien hoe ons uiterlik lyk, hoe ons gesig lyk, hoe ons hare lyk, so kyk ons in die Bybel om te sien hoe ons voor die Here lyk, hoe ons harte lyk, hoe ons innerlik(van binne) lyk.  Hoe ons verhouding met die Here lyk.  Soos die spieël vir ons wys wat fout/verkeerd isen ook wat reg is; of jou hare deurmekaar of reg is; of jou gesig skoon of is vuil; of jou oë nog half-toe is. so wys die Bybel vir ons hoe ons regtig voor die Here lyk, wat verkeerd is in ons lewens, maar ook waarmee die Here tevrede is; wat die Here van ons vra en wat nie kan voortgaan in ons lewens nie; wat ons moet regmaak en wat die Here se wil is.  Jakobus sê die Bybel werk soos ‘n spieël!  Die Bybel is die Here se spieël waarin ons sien hoe ons harte lyk. en wat sy wil is!

Wat gebeur in die oggend as jy nie betyds wakker geword het nie en jy besef jy gaan laat wees vir skool?  Of wat gebeur in die oggend as jy nie betyds wakker geword het nie en jy besef jy gaan laat wees vir werk?  Dan gaan mens sommer baie vinniger deur die badkamer-dril!  Dan kyk jy sommer so in die verby hardloop in die spieël, trek jy sommer jou vingers vinnig deur jou hare, maak jy net so jou vingerpunte nat en vee jou oë af, sit jy sommer oppad skool toe jou skooldas aan en sit jy oppad werk toe jou grimering aan of skeer jy.  Op die ou end gaan jy skool/werk toe, sonder dat jy jou tande geborsel het, sonder dat jy die stukkie beskuit of graankos aan jou gesig gesien het, sonder dat jy gesien het jou hare is deurmekaar.  Hoekom?  Omdat jy te haastig was!  Omdat jy het nie genoeg tyd en aandag gegee om in die spieël te kyk en te doen wat die spieël vir jou sê om te doen nie!

Jakobus sê ons kan dieselfde met die Bybel doen.  Luister weer na vers 23 en 24: Hy is soos een een wat na sy gesig in die spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.  Dit kan maklik gebeur dat ons op dieselfde manier met die Bybel omgaan.  Ons lees die Bybel gejaagd, ons is haastig, ons is aan die hardloop, ons gedagtes is al op ‘n ander(op die volgende) plek.  Ons doen Bybelstudie sonder om aandag te gee, te konsentreer, te luister, die Here regtig te hoor.  Op die ou end gebeur dieelfde as wat gebeur wanneer ons haastig met die spieël werk!  Ons sien ons nie wat die Here vir ons in sy Woord wys nie, hoor ons nie regtig wat die Here vir ons sê nie, gaan ons so haastig, so oppervlakkig met God se spieël, die Bybel om, dat ons nie die vuilkolle in ons lewe sien wat die Here vir ons wys nie.  Ons sien nie die verkeerde dinge waarop die Here sy vinger lê nie.  Ons sien ook nie wat die Here onder ons aandag bring wat Hy wil hê ons moet doen nie.  Ons sien ook nie wat die Here van ons vra of waarheen Hy ons stuur nie.  Ons(voeg Jakobus by) vergeet sommer dadelik wat ons gesien het.

Daar is ook ‘n ander manier hoe ons ‘n spieël kan hanteer.  Ons kan baie tyd voor die spieël deurbring.  Ons kan tyd neem om te sien hoe ons lyk.  Ons kan lank voor die spieël sit om te sorg dat ons hare perfek reg is, dat ons op ons beste lyk, dat die grimering honderd present is, dat ons op ons mooiste en op ons beste lyk!

Jakobus sê mens kan ook op dié manier met die Bybel omgaan.  V.25 sê: Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie.  In Jakobus se tyd was daar nog nie sulke goeie spieëls soos ons vandag het nie.  Die mense het hulself in blink gevryfde plate gespieël.  As jy 'n goeie beeld van jouself wou hê, moes jy bereid wees om moeite te doen.  Om die beste beeld van jouself te kry, moes jy die plaat(spieël) blink vryf, oorbuk oor die spieël, van verskillende kante kyk.  Jakobus sê ons moet só met die Bybel, die spieël van God, omgaan.  Ons moet moeite doen met die Bybel.  Ons moet buk oor die Woord as God se spieël sodat ons sien hoe ons voor die Here lyk.  Sodat ons kan sien wat die Here van ons vra, waarop die Here ons wys!  Ons moet van verskillende kante kyk om te sien/hoor wat God vir ons sê.  Ons moet tyd maak vir die Woord van die Here elke keer as ons daarmee besig is: of dit is wanneer jy persoonlik met jou Bybelstudie besig is, of wanneer julle as gesin saam die Woord van die Here oopmaak, of in jou Bybelstudie-groep, of wanneer jy na die verkondiging van die Woord luister, of in die Kinderkerk.  Die vraag aan elkeen van ons is: Watter plek gee ek/ons vir die Bybel, God se Woord, die spieël van God in my/ons lewe?

Het julle kinders geweet ‘n spieël kan praat? Het julle geweet ‘n spieël praat met ons, sê vir ons wat om te doen?  Dit werk só.  As my hare deurmekaar is, sê die spieël vir my: kam jou hare! As daar ‘n merk op my gesig is, sê die spieël vir my: was jou gesig!  As my hare gekam is en alles verder mooi en reg lyk, sê die spieël vir my: jy kan maar skool toe gaan/werk toe gaan.

God se spieël, die Bybel. werk ook so!  God se spieël praat ook met ons, nog meer so as ‘n gewone spieël want God praat deur sy spieël met ons.  As Jakobus praat oor die eerste manier van Bybellees(die verkeerde manier) - om vinnig en haastig te lees - sê hy in v. 23: so iemand vergeet wat daar staan en hy doen nie wat dit sê nie.  Dit beteken as ons vinnig en haastig met die Bybel werk, as ons oppervlakkig ons Bybellees aframmel, dan sal ons nie regtig hoor wat God se spieël vir ons sê nie.  Daarom sal ons ook nie doen wat die Here vir ons vra nie.  Ons sal ook nie leef soos wat die Here se spieël vir ons vra nie!  As Jakobus praat oor die tweede manier van Bybellees(die regte manier) - om moeite te doen met die Bybel - sê hy in v.25: hy sal nie vergeet wat hy hoor nie en hy sal dit doen en gelukkig wees.  Dit beteken as ons erns maak om onsself in God se Woord te spieël, as ons die Bybel die plek gee wat hom toekom, dan sal ons hoor wat God se spieë en God self vir ons sê.  Dan sal on sook kan doen wat God se spieël vir ons sê.  Dan sal ons gaan leef soos wat God se spieël vir ons sê om te leef!  Dan sal ons as de Eike familie leef in die voetspore van Jesus.

Laat ons vanoggend by die gesinsdiens weer die belangrikheid van die Bybel besef, sodat ons as gesinne die Bybel sal hoor en sal doen wat dit vra en sal leef volgens God se wil.  Laat ons weer vir mekaar as verbondsgesinne sê: ons gaan die Bybel sy plek in ons gesinslewens gee.  En laat ons vir julle twee, Daniël en Roelien op die doopdag van klein Lisa sê: dit is God se wil dat julle haar sal grootmaak met die Bybel, God se Woord.  Ons gee ook dan vanoggend vir haar ‘n Bybel, God se spieël!

Amen