Matteus 18:15 - 20

Datum: 6 September 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Morkel

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

Provinsiale en Super rugbyspanne het dikwels hulle eie speelstyl. Speelstyle wat oor jare gevorm is, speelstyle waaraan hulle uitgeken word. Mens sou kan sê, hulle kenmerk of waarmerk! Jy kry byvoorbeeld ‘n span wat hoofsaaklik met sy voorspelers speel - met die minste moontlik agterlynspel. Dan kry jy ‘n span wat weer fokus op agterspel, hardloop-rugby en nog een wat “high kick and charge”- rugby speel. Wat is die kenmerk van die kerk van Christus op aarde? Waaraan word ons as gemeente, as lidmate uitgeken? Kom ons laat hierdie gedeelte ons help met hierdie antwoord.

 

Eerstens word ons teksgedeelte omarm deur twee gedeeltes waarin dit oor liefde gaan. Ons teksgedeelte word voorafgegaan deur die gelykenis van die verlore skaap. Dit gaan dus oor Jesus wat nie wil dat een van sy kudde verlore gaan nie, Jesus se liefde vir elke skaap in sy kudde. In die gedeelte wat op ons teks volg, vertel Jesus die gelykenis van die amptenaar wat miljoene rande geskuld het. Die koning kry hierdie man jammer en skryf sy skuld af. Dit gaan weereens oor Jesus se bereidheid om te vergewe, Jesus se liefde. Ons vind dieselfde ook in ons Skrifgedeelte waar Jesus die prosedure verduidelik as ‘n medegelowige verkeerd opgetree het. Hierdie medegelowige se verkeerde optrede word nie summier aan die groot klok gehang nie. Dit word ook nie eers om die braaivleisvure bespreek of op watsapgroepe gesit nie. Nee, vriende, daar word ‘n tydsame, geduldige, liefdevolle pad met hierdie persoon geloop. Hy of sy word deurgaans die geleentheid gegee om tot ‘n sonde-besef te kom, berou te hê en om te draai. Ook as Jesus aan die einde sê die persoon moet as “‘n tollenaar en sondaar” beskou word, word hy steeds die uitgelos nie. Jesus het deurgaans op aarde na tollenaars en sondaars bly uitreik!

 

So vriende, die eerste, die belangrikste kenmerk van ons as kerk van Christus is die liefde!

Die eerste, belangrikste eienskap van ons speelstyl, ons lewenstyl, is die liefde! Is dit so, vriende? Is “liefde” die eerste gedagte wat by mense opkom as hulle aan De Eike dink? Is “liefde” die uitstaande kenmerk van jou lewe? Ons kan gerus in hierdie inperkingstyd vir onsself vra: Hoe kan ons steeds ons onderlinge liefde uitleef? Op watter maniere kan ons liefde teenoor mekaar bewys terwyl ons nie kan saamwees soos voorheen nie? En as ons die pad wat Jesus hier beskryf met ‘n medegelowige moet loop, moet dit in liefde gebeur.

 

Dié gedeelte wys ‘n tweede eienskap van die span van die Here uit. Ons bely Sondae die woorde “ek glo in ‘n heilige algemene Christelike kerk”. Wat gebeur met ‘n span wat op die veld maar net doen, maak soos hy wil? Die reëls ignoreer, nie omgee hoe teenoor spanmaats opgetree word nie? Daar sal natuurlik chaos wees. Niemand sal enige respek vir so ‘n span hê nie, so ‘n span sal ‘n disgrace(skande) vir die klub, vir sy afrigter wees. Ons is nie sommer enige hierjy-span nie. Ons, die kerk van Jesus Christus, is mense wat duurgekoop is deur die bloed van Jesus Christus. Ons is mense wat verlos is van sonde en die greep van die bose, mense wat in Christus ‘n nuwe lewe ontvang het. Ons is mense in wie die H.G. inwoon. Ons is mense van wie Jesus gesê het: wees heilig, soos Ek heilig is. Ons is God se verteenwoordigers op aarde!

 

As ons begin leef soos ons wil, as ons God se wil, sy Woord na willekeur begin uitsluit uit ons lewens, as ons die wêreld, die sonde, Mammon begin dien, sal ons die Naam van die Here soveel skade aandoen. Ons sal geen getuienis hê nie, ons sal ‘n skande(disgrace) vir die Here wees. So al staan dit nie in soveel woorde hier nie, gaan dit in Mat.18 ook om die beskerming van die eer van die Here, die Naam van die Here, die heiligheid van die lewende God! Weereens wil ek dat ons eers voor ons eie deur sal vee. Hoe lyk my lewe, my gedagte wêreld, my optrede waar niemand my sien, van my weet nie? Hoeveel speelruimte gee ek die sonde, die verkeerde, dit wat teen God se wil is, in my lewe? Hoeveel mense, selfs gelowiges, het ek dalk al seergemaak, weggedryf van die Here deur my gesindheid, my liefdeloosheid, my slegte voorbeeld? Laat ons, voordat ons die eerste klip gooi, vra na óns heiligheid, óns toewyding aan die Here!

 

En as dit gebeur dat ons teenoor iemand moet optree soos die Here hier beskryf, moet ons altyd onthou, dit gaan nie daaroor om hierdie persoon by te kom nie, dit gaan om die beskerming van die heiligheid van die kerk van Jesus Christus.

 

Dit bring ons by die laaste eienskap van die kerk wat hierdie gedeelte uitwys. Jesus sê Hy gee vir die gemeenskap van gelowiges die gesag om op aarde toe te sluit en oop te sluit. En dit sal in die hemel so bly. En dan onmiddelik na hierdie groot verantwoordelikheid, sê Jesus: Waar twee of drie in My naam saam is, is Ek by hulle! Jesus verseker ons Hy is by ons, altyd by ons. Hy is teenwoordig as ons saam is, Hy is veral ook teenwoordig as ons moeilike besluite moet neem oor medegelowiges. Hy sal ons lei, ons gebede verhoor. Ons sê somtyds: Mens kan sien daardie span het gees! Met respek gesê - ons as span van die Here, sy kerk, sy gemeente, het Gees met ‘n Hoofletter, die Heilige Gees!  Die Here is deur sy Gees by ons - altyd, oral! Die Here lei ons deur sy Gees. Die Heilige Gees ook by jou waar ons as gemeenskap van gelowiges na sy Woord luister, al is ons nie saam in die kerkgebou nie.

 

En as dit gebeur dat ons ‘n medegelowige moet aanspreek oor sy/haar gedrag soos Jesus hier vra, kan ons verseker wees, ons doen dit nie alleen nie, die Here is by ons, die Here sal ons lei en ons gebede beantwoord.

 

‘n Laaste opmerking: Gaan wees kerk van Jesus op aarde, gaan speel vir die span van Jesus Christus. Ek wou eers sê, en onthou die woorde: liefde, heiligheid, die teenwoordig-heid van God staan op jou bors. Maar toe besef ek hierdie woorde het nie nodig om op ons klere geskryf te staan nie, hierdie woorde moet in ons gedrag, ons lewensstyl as kerk van Christus geskryf staan! Te alle tye, ook ons onderlinge konflik moet hanteer.

Amen