2 Kor 12 – 3:6

Datum: 13 Mei 2018 (Aanddiens)

Prediker: Chris Barnardo

My reuksintuig is oor-ontwikkel. Daar is sekere redes daarvoor maar wil my nie daaroor uitwei nie. Reuke laat my altyd terugdink aan situasies, plekke of mense. Sommige reuke laat my terugdink aan aangename ervarings of minder aangename ervarings. Reuke neem my terug na plekke en mense vanuit my verlede. Wanneer ek n spesifieke reuk ervaar verplaas dit my terug in tyd en ruimte en voel dit kompleet of daardie persoon of situasie teenwoordig is.

In die antieke tyd en amper in elke geloofstradisie is wierook deel van geloof en spiritualiteit. Dit is deel van ruimtes waar gebed plaasvind. Wierook brand jou oë en jou neus. Die reuk kan oorweldigend en deurdringend wees; dit kruip in elke hoek in. Wierook merk ‘n plek. Dit sê dat hierdie plek ‘n plek is waar iets anders gebeur.

Wierook verteenwoordig die teenwoordigheid van God en die aanbidding van sy mense.Ons is die wierook wat deur Christus gebrand word vir God. Ons is veronderstel om die aangename geur van Christus te versprei. Doen ons dit?

Nuwe lidmate van De Eike het onlangs my vertel van die emosionele pyn wat hulle in hul vorige gemeente beleef het. Hulle dogter, ‘n lesbeen het veroorsaak dat die dominee, die kerkraad en gemeente vir hulle as gesin soveel pyn veroorsaak het. Soveel veroordeling, soveel venyn. So baie haat en teistering. Dinge moes volgens die letter gedoen word. In die oë van die gemeente was hulle dogter “trash” gewees. Totdat dit te veel geword het vir hierdie gesin ...en hulle dogter selfmoord gepleeg het. Watter geure het hierdie sogenaamde Christene mense versprei?

Ek gesels met ‘n lidmaat wat aan ernstige depressie lei. “Ek leef elke dag in vrees”. Sê hy. Ek wag vir daardie afjak, of negatiewe kommentaar van iemand wat my weer in die diep donker gat sal laat beland.  Ek kan nie meer nie. Watter afstootlike reuke ervaar hierdie persoon tans?

Liewe vriende, ons is die wierook wat gebrand word. Ons moet die aangename geure versprei wat in elke hoek intrek, deurdringend en oorweldigend.

Hoe doen ons dit?

AANGEVUUR DEUR DIE HEILIGE GEES

In vers 5 skryf Paulus dat ons bekwaamheid van God afkomstig is.  Die letter maak dood, die Gees maak lewend. Hoor jy dit? Daar waar ‘n doodsheid ingetree het, blaas die Heilige Gees nuwe lewe in. Deur ons optrede, ons manier van dink en doen in die kerk, skep ons soms ‘n doodsheid. Alles moet volgens die letter gedoen word en die Heilige Gees word nie vertrou nie.

Nee, ons moet die Heilige Gees toelaat om ons lewens te verander. Dalk is dit tyd om te te LAAT GAAN. Eerder as om alles nek-om te draai omrede dit nie in die pakkie van De Eike pas nie.

Aangevuur deur Heilige Gees moet wierook elke hoek en kant bereik in De Eike. Elke hoek en kant van elke hart in hierdie gemeente.

Ek bid dat ons die Heilige Gees sal toelaat om Sy werk in die gemeente te doen.

Dan gaan ons liefde nie vals wees nie.

ONS HANDELSMERK IS LIEFDE

Wanneer die Heilige Gees ons aanspoor. Wanneer ons onsself beskikbaar stel dat die Gees deur ons werk sal De Eike se handelsmerk ware liefde wees.

Ware liefde beteken nie dat ons van mekaar moet hou nie. Dis is ‘n keuse eerder as ‘n emosie. Dit beteken dat ek net die beste vir iemand toewens omrede ek die beste ontvang het. Liefde is die grootste geestelike geskenk van God. Is De Eike ‘n gemeente wat liefde uitstraal? Hoe ruik ons vir ander mense? Versprei ons die wierook of is daar ‘n onaangename afstootlike reuk in die lug. Wanneer ons dan sê dat die Heilige Gees ons aanvuur en dat ons handelsmerk liefde is wil ek pleit dat ons boodskap Jesus sal wees.

ONS BOODSKAP IS JESUS

Ons sentrale boodskap moet Jesus wees. Geen kompromieë nie. Geen maars nie. Geen Jesus en...nie. Ons boodskap is nie die NG Kerk nie, alhoewel ek trots en dankbaar is om lid van die NGK te wees. Ons boodskap is nie die Suid Afrikaanse manier van lewe nie. Ons boodskap is Jesus die gekruisigde opgestane Here. Kom ek maak dit nog duideliker. Ons sentrale boodskap nie om mense maniere te leer of om hulle te help om minder te vloek nie. Of om mense te help om meer geduld met mekaar te hê nie. Ons doel is om mense te help om vir Jesus te ontmoet sodat hulle vir Jesus as Verlosser kan aanneem. Vriende as jy as die wierook in mense se lewens wil intrek is daar dus drie dinge wat moet gebeur.

Gee die Heilige Gees kans sodat jy aangevuur kan word.

Ons handelsmerk is LIEFDE

En ons boodskap is Jesus.

Dit is die geur wat ons moet versprei.

Amen