Psalm 116
Datum: 6 Oktober 2019 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
INLEIDING
By die afdraai op die grondpad na Ai Ais sê ons vir mekaar: “ Ons vakansie het begin. Dit is stil, doodstil. Af en toe loop daar ’n gemsbok oor die pad. Carina merk op dat ons vir die afgelope tyd geen motor of mens gewaar het nie. Net die woestyn en sy onvernielde prag is sigbaar.
Skielik sien ek iets in die pad. Ongeveer ’n kilometer voor ons op die grondpad is daar iets of iemand. Ek begin stadiger ry en Carina sê dat dit iemand op ’n fiets is.
Ek wonder of ek moet stilhou. Ek is nou met verlof. Ek wil nie nou betrokke raak in ’n ander persoon se moeilikheid nie. Maar my skuldgevoel laat ons tot langs hom tot stilstand kom. ’n Sterk wind van voor het vir Bart laat tou opgooi. Bart soek ’n geleentheid saam met ons na Ai Ais.
Hoekom dit? Ek is dan nou met verlof. Baie verskonings maal deur my kop. Maar dan hoor ek: “ Kinders van die Here is nooit met verlof as dat oor koninkrykswerk gaan nie.
Ons maak Bart se fiets vas op die “nose cone” en laai al sy sakke en tassie in die boswa.
Ons begin gesels. In Engels. Ons beur voort deur al die “is en are’s.”
Laatmiddag bereik ons Ai Ais, parkeer die boswa en geniet die warmwater-swembad.
Daardie aand kuier Bart by ons. Ek braai vir ons heerlike lamsvleis en geniet iets koel vanuit die Bottelary.
Ons gesels land en sand. Dit raak laat en ek vra vir Bart of hy ’n testament het. Ja, sê hy. “Wanneer mens so ’n lang toer deur Afrika onderneem moet met mens ’n testament hê.”
Het jy ’n ou of nuwe Testament? Vra ek. Hy verstaan nie. Bart is vyf en veertig jaar oud. Ek staan op en gaan haal ’n Engelse Nuwe Testament met Psalms uit die boswa. Ek gee dit vir hom en sê dat hierdie Testament vir hom baie kan beteken op sy reis deur Afrika. Carina neem die Bybeltjie by hom en daar, langs die kampvuur, in Ai Ais, lees sy in Engels vir hom Psalm 23.....En Bart raak bewoë. Bart het nog nooit in sy lewe ’n Bybel besit nie.
Vir vyf en veertig jaar het Bart die belangrikste deel van menswees nie gehad nie.
Bart was fondamentloos.
Bart was eintlik alleen.
Bart het nie die Here as toevlug geken nie.
Bart het tot op daardie aand, net soos sy alleen fietsry-toer deur Afrika, alleen gelewe, vreugdeloos, ’n enkeling sonder ’n die Here as vaste fondament
Die digter van hierdie Psalm kom wys vir al die Bart’s en Chris’s dat die lewe nie vir sussies is nie. Elkeen van ons is daarvan bewus. Die digter het ook die wind van voor gekry. Hy het ook soos ons moeilike tye op die grondpaaie van die lewe ervaar. Ontberings beleef. By die dood omgedraai. Die lewe het hom nerf-af gelaat. Al die skoenlappers het nie heeltyd vir die Psalmdigter in formasie gevlieg nie. Hy moes ook homself staal teen krisisse en teleurstellings.
Maar van een ding is hy verseker. Hy behoort. Hy is nie alleen nie. Hy plaas nie die skuld vir alles wat verkeerd loop op die Here se voorstoep nie. Deur God se genade maak hy dit, hy oorleef, en die ondervinding wat hy opdoen leer hom die dieper betekenis van ’n sterk persoonlike verhouding met die Here, en hoe so ’n lewe uitmond in ’n lewe van eindelose dankbaarheid en lofprysing.
Hierdie digter wonder egter oor iets. Hoe kan ek die Here terugbetaal? In die lig van al hierdie seëninge wat ek ontvang; wat kan ek wees of wat kan ek doen om gelyk te breek met die Here?
In hierdie psalm sien ek drie stappe wat die digter neem...
- Ek aanvaar Sy liefde (v13a) Dit is die beste manier om vir die Here dankie te sê. Wat die Here vra, is om eenvoudig net Sy liefde te ontvang en te aanvaar. Net dit. Ons begin terugbetaal deur dit te aanvaar wat die Here vir ons gee. Ons is leeg.
Om te wees wat die Here wil hê ons moet wees beteken dat ons onsself sal oopmaak vir Sy liefde in ons lewens. Dit is hoe ons die Here se wil in ons lewens uitvoer.
Dit is so dat ons geroep word om te gee. Maar dit is net so belangrik om te leer om dit wat ons van Hom ontvang, te aanvaar. Die Here se liefde en genade is ’n gratis geskenk vir ons.
Ons betaal terug deur van Hom te ontvang want ons het niks om te gee nie. Alles behoort in elke geval aan die Here.
- Die digter neem ’n tweede stap. Ek sal die Here se Naam aanroep. Dit beteken ek tree met die Here in gesprek. Dit beteken gebed. Dit is ons lewenslyn. Dit vra dat ons nie aan onsself sal dink nie. Dit vra dat ons onselfsugtig en eerlik in ons gebede sal wees. Dan sal vensters en deure oopgaan in ons verhouding met die Here. Dan gebeur daar iets in jou geloofslewe. Maar dis mos makliker om ons lewens rondom ons eie behoeftes te organiseer. Soms klink dit asof ons vir die Here ook wil voorskryf. Dis nie wat die Psalm doen nie. Hy roep die Here aan. Hy wil dit selfs in die teenwoordigheid van ander mense doen. Hy is nie skaam nie. Hy wil die Here aanroep binne sy geloofsgemeenskap.
Maar dan beweeg die digter na die derde stap.
- Ek wil ’n offer bring. (v 17). Uit dankbaarheid wil ek ’n offer bring. Sommige mense kan sê dat dit maklik is. ‘n Roetine saak. Iets alledaags. Ja ons kan drievoudig offers met die mond bring of ’n tjek in die kollektebord gooi of ’n vinnige internetoorplasing maak. Die digter dink anders daaroor. Offervaardigheid is baie meer as net los woorde. Dit beteken dat ons iets uit liefde vir ons lewende almagtige Here moet op-offer. En wanneer die digter sê dat hy lief is vir die Here beteken dit dat hy afsien van alle selfliefde. En dit beteken offervaardigheid. Om die Here terug te betaal vir SY liefde en seëninge op hierdie manier, beteken dat ek myself ondergeskik stel aan die Here. Dit is duur. Dit vat moed.
SLOT
Bart lê vlak in my gemoed. Bart se lewe het waarskynlik ook krake, gate in die dak, en uitgebreekte vensters gehad. Die lewe het ook sy lewe verniel. Maar vir vyf en veertig jaar het hy nie ’n vaste fondament gehad nie. Die eer kom die Here toe dat Bart ’n nuwe mens is.
En jou lewe? Dalk is jou ook verniel. Gate in jou lewe, krake in jou mure. Maar jy het die Here in jou lewe. Jou lewenshuis se fondament is vas en stewig. Soos die Psalmdigter is jy ook hartstogtelik lief vir die Here. En jy vra jouself: Hoe kan ek dankie sê.
Moenie vir jouself leef nie. Gee jouself. Stel jou onvoorwaardelik beskikbaar.
Lukas 9:24 As jy egter kies om vir jouself te leef, gaan jy op die ou end alles verloor. Maar as jy bereid is om alles prys te gee ter wille van My, sal jy vir altyd lewe.
AMEN