Lukas 13:31-35

Datum: 17 Maart 2019

Prediker: Chris Barnardo

Liewe vriende ek sukkel om wakker te bly wanneer ek na ’n film kyk. Carina moet gereeld teen my stamp wanneer ek langs haar begin “visvang”. Maar daar is een film waartydens ek nie een maal aan die slaap geraak het nie. Die 1997 treffer, Ulee’s Gold waarin Peter Fonda die hoofrol gespeel het. Ullee is ’n boekhouer wat die familie se heuning besigheid bedryf. Hy werk lang ure deur byekorwe te skuif, heuning uit die korwe te verwyder en dit dit bottel en te bemark. In sy laat 60’s  is dit ’n uitmergelende besigheid met lang ure omrede hy alles self doen. Hy kan nie ’n ekstra hand bekostig nie. In die film kan mens sien hoe moeg hierdie man is. As dit maar net moegheid was, wat UIee so uitput. Hy is bekommerd oor sy dogter en haar kinders. Rehab in en Rehab uit. Sy het haar kinders by Ulee en sy vrou gelos en die pad gevat. Dalk hoor hulle van die dogter so twee keer per jaar. Ulee se vrou sterf en dit is net Ulee wat oorbly om na die kleinkinders om te sien.

Een van die tonele in die film wat my werklik aangegryp het, was toe Ulee se oudste kleindogter, 16 jaar oud, op die punt staan om saam met haar kêrel, wat baie ouer as sy is, vir die aand uit te gaan. Die atmosfeer kan met ’n mes gesny word. Daar was weereens ’n argument tussen oupa en sy kleindogter. Ulee is bekommerd, die kleinkind ruk hande uit en hy sit met die hande in die hare. Hy weet nie meer hoe om die situasie te hanteer nie. Lewensmoeg sit hy in die sitkamer. Buite hoor mens die toeter van ’n motor. Net voordat die kleindogter die sifdeur oopmaak sê Ulee vir haar. Onthou asb. ons reëling. Twaalf uur vanaand moet jy terug wees.

Sy draai dan om en kyk haar oupa in die oë en met ’n smalende sarkastiese stemtoon sê sy dan:

Ek wil graag sien hoe jy my gaan keer om vroeër as 12 uur terug te wees by die huis.

Toe draai sy om en slaan die sifdeur toe.

Moeg en moedeloos sit Ulee in sy stoel. Hy weet sy is reg.  Hy is magteloos. Hy kan nie haar enigiets laat doen wat sy nie wil doen nie.

Binne baie geloofsgemeenksappe word daar van Jesus gepraat as die Een wat enigiets kon doen. Op waterloop. Met ’n paar vissies en klomp broodjies het Hy vir duisende kos gegee. Hy het selfs mense uit die dood opgewek en goeie wyn uit water gemaak. Dit is ons Jesus. Jesus wat enigiets kan doen.

Vanoggend se teks weerlê eintlik hierdie stelling, dat Jesus enigiets kan doen. Ja, Jesus het indrukwekkende dinge gedoen. Daaroor kan ek nie stry nie.

Maar een ding kan Jesus nie doen nie. Jesus kan ons nie dwing om vir Hom lief te wees nie. Jesus kan nie liefde afdwing of die menslike wil beheer nie.

“hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!”

Jesus het hard probeer om hierdie besondere volk bymekaar te maak, maar kon dit nie regkry nie. Jesus het lewend uit die graf uitgeloop maar kan nie in ons harte sonder ons toestemming instap nie.

“hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!”

Ek vermoed dat Ulee presies weet hoe Jesus moes gevoel het. Ek vermoed dat meeste van ons daardie gevoel al beleef het wanneer jy iemand innig lief het en jy kan daardie persoon nie van teenspoed of seer weerhou nie. Dis hoe Jesus oor Jerusalem se mense gevoel het. Jesus kan wonderlike dinge doen. Maar Hy kan net toekyk wanneer Sy kinders die sifdeur oopmaak en uitstap terwyl Hy sê: Ek wil graag hê dat jy soos ek moet wees. Maar Jesus gaan jou nie dwing nie. Jesus sal nie Sy wil op jou afdwing nie. Jesus wil nie jou reg ontneem om vir jouself te besluit nie. Onbeantwoorde liefde maak seer. Jesus kry seer wanneer Hy hierdie woorde uiter. Dalk maak dit vir Jesus vandag nog seer.

“hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!”

Wat is die kans dat ’n hen haar kuikens teen ’n jakkals soos Herodus kan beskerm? Dit was destyds die bedreiging. Maar dit is ook die wêreld waarin ons leef. ’n Wêreld vol geslepe jakkalse. Herodusse om elke hoek en draai. Jakkalse het die vermoë om maklik vriende te maak met God se kinders. Hulle is dalk nie so gevaarlik en wreedaardig as die Herodus wat ons in die Bybel leer ken het nie, maar op ’n subtiele wyse word kinders van die Here deur hierdie Jakkalse geinfiltreer.

En dit is die probleem. Jesus kan dit nie keer nie. Jesus kan op water loop en dooies lewendig maak,  maar Jesus kan jou nie dwing om vir Hom lief te wees nie. Hy smag na jou liefde maar Hy kan dit nie afdwing nie. Jesus kan nie verhoed dat die sifdeur in Sy gesig toegeklap word nie. Weerloos staan Hy en toekyk wanneer die Herodusse in die donker op ons wag.

Dus, wat is Jesus se plan? Wat gaan Hy doen? So vreemd as dit mag klink. Jesus sal altyd beskikbaar wees om sy liefde en beskerming soos ’n hoenderhen vir ons aan te bied. Met uitgestrekte vlerke is Jesus altyd beskikbaar. Hy sal sy lewe namens ons vir Herodes aanbied. Hy sal ons in die donker wat ons vir onsself gekies het, volg. Weer en weer en weer. Jesus sal homself tussen ons en die donker plaas. En as jy mooi kyk sal jy Sy uitgestrekte arms sien aan die kruis. Die uitgestrekte arms wat soos die vlerke van ’n hoenderhen lyk. Die hoenderhen wat haar kuikens in liefde beskerm. Liefde wat nie sin maak nie. Maar liefde wat ons harte breek wanneer ons lank genoeg na die kruis kyk.
Jesus verwag nie van die die wêreld om sulke liefde ooit te verstaan of te begryp nie. En selfs al hang Hy daar met vlerke wat aan die kruis vasgespyker is, kan Hy  ons nie dwing om vir Hom lief te wees nie. Hy kan ons nie verplig om Sy liefde te aanvaar nie.

Maar Hy smag daarna. Altyd en ewig, met uitgestrekte arms.

“hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!”

Dit het Jesus 2000 jaar gelede gesê. Jesus sê dit ook vandag.

Daar is een klein dingetjie wat Jesus van jou vra. Een ding waarna Hy smag. Dit is Sy wens vir ons. Iets wat Hy nie kan beheer nie. Jesus roep na jou. Jesus wil jou hart, jou lewe onvoorwaardelik hê.

Jou trots en uitdagende beheer oor jou eie lewe en toekoms moet jy laat vaar. Dit is een van die moeilikste maar lekkerste dinge wat ons ooit sal kan doen. Elke dag moet ons oorbegin. Elke dag moet ons Lukas 14:26-27 leef. Eintlik moet hierdie deel saam met Lukas 13 gelees word. Die eise van dissipelskap 26“As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders, en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. 27Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie.”

Kom ons verander daardie strepie tussen ons twee datums in ‘n hart. ‘n Omgee hart wat leef in die spore van Jesus. Hy roep jou. Kom ons vat hande en stap saam kruis toe. Dit sal nie altyd maklik wees nie. Maar vriende dis die moeite werd! Om te kies kos iets. Hoe klop jou hart vir Jesus?

AMEN