2 Korintiërs 4:1-7
Datum: 23 Julie 2017
Prediker: Chris Barnardo
Gemeentes in ons land sit met groot uitdagings. Lidmaatgetalle is vinnig besig om drasties minder te word. Planne word beraam om hierdie uitdaging die hoof te bied. Interessante en minder interessante projekte word van stapel gestuur om lidmate “te trek”. Bemarking is een van die dinge wat ernstig aangespreek word. Selfs advertensieborde met interessante kennisgewings word gebruik om mense nuuskierig te maak in die hoop dat mense eredienste sal begin bywoon.
Ja, daar sal verseker ‘n paradigmaskuif in gemeentes se bedieningspatrone moet plaasvind. Daar sal anders te werk gegaan moet word om lidmate te bereik.
Ek ry in die week na ‘n lidmaat wat in Brackenfell woon. Hier langs die Bottelarypad. Ek het ‘n beklemming gekry toe ek na al die nuwe huise en woonstelle kyk en besef... HIER BLY MENSE WAT NIE BEREIK WORD NIE.
Selfs De Eike sal drasties moet kyk na sy bedieningspatroon en daar sal planne gemaak moet word. Moet ons ook ‘n groot advertensiebord hier buite op ons terrein aanbring met slagspreuke en interessante uitnodigings sodat mense daarna kan kyk en besluit om te kom inloer? Daar is opsig self niks verkeerd daarmee nie, maar tekens en advertensies sê nie baie wat binne ‘n gemeente gebeur nie.
Ek vermoed dat tekens BINNE ‘n gemeente groter gewig dra en meer sê as wanneer advertensieborde gebruik word. As ek die Woord van die Here reg verstaan is dit waarmee Paulus ons vanoggend wil help. In hierdie Skriflesing is daar tekens waarop ons moet ag slaan wanneer De Eike werklik wil kerk wees.
Wanneer ons vanoggend daarna kyk wil ek mooi vra dat ons twee vrae deurentyd aan onsself sal afvra:
Waar staan ons gemeente in hierdie verband?
En, wat doen ek om hierdie teken ’n werklikheid in ons gemeente maak?
Kom ons kyk na die tekens van ‘n ware kerk van die Here.
AANGEDRYF DEUR DIE HEILIGE GEES
Ons bekwaamheid kom van die Here af. Die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.
As jong seuntjie het ek eendag ‘n skokkende ervaring beleef. Ek het een van my ma se haarknippies in ‘n muurprop gedruk. Daardie dag, na die knal het ek die lig gesien. Vuurtonge het by die muurprop uitgeskiet en my vasgegryp. Dalk verstaan julle nou waarom ek soms snaaks optree. Daardie haarknippie insident sal ek nooit in my lewe vergeet nie.
Die Heilige Gees laat elektrisiteit soos ligte vrugte lyk! Dit laat selfs atoomkrag soos ‘n miswolkie lyk.
Wanneer ons in geloof vra, sal God onuitputbare krag in ons lewens inpomp.
De Eike se dominees saam het nie genoeg talente, of grysstof en energie om De Eike die leiergemeente in die dorp te maak nie.
Maar wanneer ons aanhoudend die Heilige Gees vra om ons te vul, en te bemagtig en ons te gebruik gaan daar haarknippies in goue muurproppe oral in hierdie gemeente gesien word.
Die Heilige Gees is die dryfmiddel wat ons aanspoor om getuies vir Jesus in die wêreld te wees.
Die Heilige Gees is die dryfmiddel wat ons aanspoor om Sy kinders te dien. En om Sy koninkryk te bou.
Wanneer die Heilige Gees in De Eike waai , sal ons aanhoudend aangedryf word om vir die wêreld te vertel waarom Jesus gesterf het.
Laat dit ons daaglikse gebed wees. Here, ek het nie die krag om in geloof as ’n wenner te leef nie. Ek kan nie op my eie energie staatmaak nie. Ek nooi u uit Heilige Gees, om my lewe oor te neem. Deurdrenk vir my en De Eike met u krag, in die naam van Jesus my Here. Amen
Die tweede teken is
DIE KERK SE HANDELSMERK IS DIE LIEFDE
Dit beteken nie dat ons van mekaar moet hou nie. Dit is keuse en nie ‘n emosie nie. Dit beteken om die beste vir iemand toe te wens omrede ons die beste van Jesus ontvang het.
Paulus vertel ons dat LIEFDE die grootse van alle geestelike gawes is. Geloof, hoop en liefde, en grootste hiervan is die liefde.
Ek onthou toe ek een Sondag-oggend baie jare gelede ‘n oproep van ons Sorgeenheid ontvang het en die verpleegster vir my gesê het, dat hulle my ma nie kan wakker kry nie. Ek het myself daarheen gehaas, net om uit te vind sy is nie meer saam met ons nie. Daardie oggend het nog in De Eike gepreek.
Ek onthou die liefde wat ek van lidmate ontvang het. Egte Jesus liefde.
Ek onthou die oggend toe ons kinders op die Bottelarypad in ‘n motorongeluk betrokke was.
Ek onthou die liefde wat ons van lidmate ontvang het.
Ek onthou my kollegas wat gesê het dat ek nou ‘n gesin het om na om te sien. Hulle sal instaan vir my.
Die vraag is. Is ons almal deel van hierdie groep in De Eike wat onvoorwaardelik Jesus se liefde uitleef teenoor almal wat ons paaie kruis. Of is ons selektief in die liefde-uitdeel-besigheid. Is hierdie liefdes-teken sigbaar na buite?
Die derde teken is van ‘n ware kerkwees is...
DIE BOODSKAP IS JESUS
Ons lees vanoggend : Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here,
Die sentrale tema van ons prediking is nie die NGK nie.
Ons primêre boodskap is nie die 10 gebooie nie alhoewel ons heeltyd ons daarteen spieël .
Ons boodskap is nie die Suid-Afrikaanse Weg nie.
Ons verkondig Jesus, die gekruisigde opgestane Here!
Die enigste Weg tot Verlossing. Die enigste Weg waardeur ons hier en in die ewige lewe ’n lewe in oorvloed kan hê.
Kom ek wees meer spesifiek. Ons sentrale tema is nie om mense op hulle foute en sonde te wys nie.
Ons doel is om mense te bemagtig sodat hulle vir Jesus in oorvloed kan beleef.
Tydens my verlof het ons kinders ons verlede Sondag dinge laat beleef wat ek vir baie lank nog sal koester.
Hulle het vir my en Carina plekke in Kaapstad laat beleef. Eerste op die lys was Honest Chocolate en daarna was ons in Truth Coffee.
My mond het oopgehang van verbasing en nie as gevolg van ’n haarknippie in ’n muurprop nie.
Die plek was volgepak met mense. Tien uur op ’n Sondagoggend. Jonk en oud het saam gesit en koffie drink.
Daar was ’n gemeenskaplikheid. ’n Saam wees.
Ek het eenkant gestaan en met een van die bestuurders begin gesels.
Almal kom hierheen vir een doel. Om goeie koffie te drink.
Mense ervaar die gevoel dat almal welkom is.
Ek het op ’n vreemde manier iets beleef waarna mense in gemeentes smag.
Samesyn.
Liefde
Deernis vir mekaar
En natuurlik goeie koffie.
En mense ry stad toe om dit te beleef.
SLOT
Vriende die tekens van ware kerkwees is maklik om te lees.
Ware kerkwees word aangedryf deur die Heilige Gees.
Ware kerkwees se handelsmerk is liefde.
En die Meester is Jesus alleen.
So lank mense aanhoudend die Rabbi hier in De Eike ontmoet, in hierdie kerkbanke, in die kinderkerk, by ons huise en by die werksplek, sal hierdie gemeente ware kerk van Christus wees.
Waar staan ons gemeente in hierdie verband?
En, wat doen ek en jy om hierdie tekens ’n werklikheid in ons gemeente maak?