Lukas 13:1-9
Datum: 20 Maart 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
INLEIDING
Verbeel jouself dat jy en jou gesin ’n rustige aandjie in die veiligheid van julle woning saam beleef. Die televisie is aangeskakel maar daar word nie veel aandag aan die nuusprogram gegee nie. Jou vrou is besig om aandete voor te berei terwyl jy en jou kinders op die mat speel. Ouma is besig met haar breiwerk terwyl oupa die koerant lees. ’n Heel normale gelukkige gesinsaand in Kiëv, hoofstad van Oekraïne. Jou oog vang die beelde op die televisie met opskrifte dat Rusland jul land gaan aanval. Landsburgers word gewaarsku om voorbereid hierop te wees. Slaan ag op die sirens wanneer julle oor ’n lugaanval of ’n bombardement gewaarsku word.
Hoe gaan jy op hierdie noodberig reageer? Hoe dink ’n mens hieroor? Sê ons in sulke omstandighede dalk vir onsself: “Ons moenie nou die bobbejaan agter die bult gaan haal nie. Die Russe sal nie tot hier kom nie. Ons is vir eers veilig. Môre is nog ’n dag. Ons sal skotvry daarvan afkom want daar is baie ander mense wat kanonvoer sal word voordat ons stad bereik word. Poetin sal nie sovêr gaan nie.”
Nee vriende, met sulke nuus vermoed ek dat ons baie vinnig die bomskuiling onder die huis sal uitpak wat tot nou toe vir ’n stoorkamer gebruik was. Sonder om paniek onder die gesin te saai sal ons voorbereidings tref sodat ons veilig kan wees.
Vanoggend hoor ek loeiende sirenes terwyl Jesus ook met ons praat en sê: “Bekeer julle!” Moenie na buite kyk en oordele fel nie. Hou op om te rasionaliseer en kry jou huis in orde eerder as om te sê: Môre is nog ’n dag. Want vriende, ons almal kom een of ander tyd onder die spervuur van die lewe. Die vraag is: Hoe reageer ons onder die spervuur van die lewe?
HOE REAGEER ONS ONDER DIE SPERVUUR VAN DIE LEWE?
Liewe vriende, ons word nie van die spervuur van die lewe gevrywaar nie. Ons kan nie ons koppe in die sand druk en dink dat slegte dinge nie met ons as christene sal gebeur nie. Die vraag is, hoe staal ’n mens jouself vir die lewe se krisisse? Deur te rasionaliseer, of te vermy, of te ontken, of te blameer? Dit is alles maniere om die morsige lewe van jou voorstoep af te hou.
Ons almal soek wysheid in ’n tyd soos hierdie. Covid se tande is nie getrek nie, Rusland se magsbeheptheid gaan ons aan ons lywe voel. Brandstofpryse gaan ’n domino-effek veroorsaak. Vriende, beproewing het oor die hele aarde gekom.
Destyds is daar algemeen aanvaar dat slegte dinge die gevolg is van die een of ander persoonlike sonde waarvan ’n mens dalk nie eens bewus is nie. Wie vrykom, is met ander woorde sonder skuld.
Jesus weet dat die mense so oor die gebeure dink. Pilatus se wrede en onmenslike handeling teenoor onskuldiges en die Siloam tragedie het in alle waarskynlikheid sulke vrae laat ontstaan.
Jesus sê dat ons moet ophou na buite kyk en oordele fel. Kyk vir ’n slag na jouself met alles wat ook al gebeur, en omarm die moontlikheid van inkeer. Dit is wat Jesus die mense wil leer: om oop te wees vir die oomblik, om te verander (te bekeer), om nuwe perspektiewe te ontdek. Op hierdie manier gee Jesus nie net antwoorde op die “waarom?”-vrae van ons bestaan nie, maar veral rigting aan die “hoe nou gemaak?”-vrae.
’n Mens kyk wel terug na die verlede wanneer die bomme rondom jou ontplof en jy onder die spervuur kom, maar jy moet ook vorentoe kyk, na die einddoel, om nuwe rigting te kry.
Maar vriende, ons het nie aandag in die Sondagskoolklasse gegee nie, want die krisisse van die lewe word nie altyd goed gebruik nie. Soms word ons stukkend gebreek sodat daar niks oor is nie. Dan word ons kwaad vir alles in die lewe. Ons gee selfs die Here al die skuld. Ons sukkel om betekenis te vind en is nie meer vatbaar vir bekering of verandering nie. Maar vriende daar is ook ’n ander keuse wanneer ons onder die spervuur vasgepen word: om toe te laat dat iets wat jou stukkend maak jou weer kan laat leef! En dit bring ons vanoggend by die vyeboom.
DIE VYEBOOM
Die gelykenis het twee kante, naamlik die noodsaaklikheid dat daar vrugte aan die boom moet wees, en die onbeskryflike geduld wat die tuinier aan die dag lê en die moeite wat hy met die boom doen.
Dit is mos vanselfsprekend dat die vyeboom vrugte moet dra. Dit is die eienaar se goeie reg om vrugte te verwag, want dit is die rede waarom die boom in die eerste plek geplant is. Wanneer daar nie vrugte gedra word nie, raak die boom ’n las wat net die grond uitput. Dan moet die boom summier uitgekap word. Daar is ’n opvallende verskil tussen die eienaar en die tuinier se hantering van die vyeboom. Die kanse is bitter skraal dat die boom in hierdie laat stadium sal begin vrugte dra, nogtans dring die tuinier daarop aan om dit nog ’n kans te gee en onderneem om dit asof van nuuts af te versorg en te bemes. Genade kan nie duideliker uitgebeeld word nie! Die uiteindelike doel bly die vrug.
Onder die spervuur van die lewe gebeur dit maklik dat mense hulle teen die impak van die lewe verskans, in plaas daarvan om oop en vatbaar te bly vir verandering en groei. Eerder opstand en woede, beskuldiging en selfregverdiging, vyandskap en verdeeldheid as inkeer en lewe met die nuwe perspektiewe van God se koninkryk. Eers dan kan ons begin vrugte dra wat by die bekering pas, en lééf ons in plaas daarvan om bloot inhoud aan die dood te gee.
SLOT
Ons kies ons reaksies onder die spervuur en ons soek wysheid om die tyd te lees – as ’n geleentheid vir verandering en groei! Ons soek wysheid om oop vir die oomblik te wees.
Waarheen wil ons terugkeer ná die pandemie? Wat is die sogenaamde “nuwe normaal” waarna ons streef? As ek vanoggend vir Jesus reg verstaan wil Hy hê dat ons as ’n gemeente moet groei. Dit beteken dat ons moet lewe. As De Eike se lidmate nie vars, lewendig en oop vir Jesus is nie, gaan ons in ’n sorgeenheid verander en dít mag nie gebeur nie.
Kom ons blameer niemand nie. Kom ons groei, kom ons lewe, kom ons bekeer onsself. Dit is wat Jesus van ons vra.
AMEN