Matthéüs 11:16 – 19
Datum: 5 Julie 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Morkel
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Ons ken almal die spreekwoorde: Om siende blind te wees - iemand wat kan sien, maar nie wil sien nie. En om horende doof te wees - iemand wat kan hoor, maar nie wil hoor nie.
Aan die begin van Jesus se bediening kry mens die indruk dat Sy bediening ‘n suksesverhaal is. Ons lees in die Bybel, menigtes het Hom begin volg(9:36), mense het hul verwonder aan sy wonderdade, mense sê “So iets het ons nog nooit in Israel gesien nie”(9:33), mense sê “Jesus het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos Skrifgeleerdes nie”(7:29). Maar daar is ‘n tweede reaksie op Jesus se bediening. Die teenoorgestelde van die “suksesverhaal”, die reaksie naamlik van die Fariseërs en Skrifgeleerdes en die mense wat onder hulle invloed was. Ons lees hulle noem vir Jesus Beëlsebul - die aanvoerder van die Bose. Hulle beskuldig Jesus van Godslaster, verkwalik Jesus dat Hy met sondaars en tollenaars meng. En in Mat.12:14 lees ons dat die Fariseërs planne beraam het om Jesus om die lewe te bring. Die skip van Jesus se bediening(die simbool van Koningkrykstyd, die beeld op ons kanselkleed) het al meer in stormsee beland. Ons lees toenemend van vyandigheid en kritiek, die verwerping van Jesus se bediening. Ons lees selfs Johannes die Doper het aan Jesus begin twyfel!
Jesus vra in ons teksvers vir sy toehoorders: Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk - julle vergelyk? Waarmee moet Ek julle wat my Boodskap bly verwerp, veergelyk? Dan vertel Jesus die gelykenis van die kinders op die markplein. Van die kinders wou speel. Kom ons speel “trou - trou”, het hulle gesê. Waarskynlik het hulle rolle uitgedeel: jy kan die bruid wees en jy die bruidegom, julle twee kan die strooimeisie en strooijonker wees, ek sal die rabbi wees, julle kan die troumars op julle fluite speel die res is die gaste, julle kan vrolik saam dans! Maar die kinders, die meerderheid kinders, het bly staan: ons is nie lus vir trou-trou speel nie, dit is te vrolik!
Die kinders kom toe met ‘n tweede voorstel, kom ons speel dan “begrafnis-begrafnis”. Weer is die rolle uitgedeel: ek sal die begrafnisondernemer wees, jy kan die rabbi wees, julle kan die draers wees, die res kan, soos by regtige begrafnisse, roubeklaers wees. Julle loop in 'n stoet agter ons aan, slaan op jou bors en maak of julle huil en sing treurige begrafnisliedere. Weereens het die res van die kinders bly staan: ons is ook nie lus vir begrafnis-begrafnis speel nie, dit is te treurig!
Jesus verklaar self die gelykenis vir sy toehoorders, ons. Johannes die Doper was
“Boodskapper van God” Wat het julle gedoen? Julle het gesê hy bly in die woestyn en dra
klere van vel, hy leef van veldheuning en sprinkane, hy is te ernstig, te lewensvreemd! Julle het jul neuse opgetrek vir Johannes! Die Boodskap van God wat Johannes gebring het, het julle nie geval nie, julle het dit verwerp, sê Jesus. Ook die manier waarop Johannes die Boodskap gebring het, het julle verwerp! Julle is soos die kinders in die gelykenis, julle wou nie saamspeel nie. Julle wou nie begrafnis-begrafnis speel nie. Toe het Ek, gekom, sê Jesus. Die Gestuurde van God, die Seun van God! Ek eet en drink met die mense, Ek meng met sondaars en tollenaars, Ek verkondig die Boodskap van God deur my prediking en my “werke” soos Matteus dit noem – my wonderwerke. Wat doen julle nou? Julle doen dieselfde as met Johannes! Julle verwerp die Boodskap wat Ek bring. Julle vind ook fout met die manier waarop Ek die Boodskap bring. Julle noem My ‘n vraat en ‘n wynsuiper! Julle Skrifgeleerdes, julle Fariseërs en jul meelopers is besig om jul rug te draai op God, Gods Woord, God se wonderwerke, Gods openbaring! Ook met My is julle soos die kinders van die gelykenis: julle speel nie saam nie! Julle wil ook nie trou-trou speel nie. Siende blind en horende doof!
Wat is ons reaksie op God se openbaring aan ons? Miskien moet ons eers vra op watter maniere God Hom vandag aan ons openbaar? Die voor-die-handliggende antwoord is natuurlik deur sy Woord, God openbaar Hom aan ons deur sy Woord. God praat met ons deur die Woord wat ons lees, die Woord wat ons in ons stiltetyd hoor, die gepredikte Woord, die Woord in die oordenkings wat ons in tydskrifte of koerante lees, boodskappe wat ons in hierdie dae so baie op sosiale media kry. Nou is die vraag: reageer ons op die Woord wat ons hoor? Reageer ons op die Boodskap van God? Of is ons soos die kinders op die markplein, die Fariseërs en hul gevolg? Ons woel onsself uit die hoor van die Woord, ons draai ‘n dowe oor vir die Woord van God: ek wil dit nie só hoor nie, ek verstaan dit nie só nie, daar is ander maniere om dit te verklaar, ek verkies ‘n ander resep vir ‘n boodskap/die prediking? Só ontwyk ons die Boodskap wat God vir ons gee. Ons speel nie saam nie, dankie! Horende doof!
Maar God praat ook op ander maniere of op wyses met ons. Dink bietjie saam met my. Praat God nie ook met ons deur dinge wat met my gebeur, ervarings wat ek beleef nie? Dinge soos siekte, ‘n motorongeluk, iets wat my kind oorkom, die dood. Praat God nie ook met ons deur ander mense nie? Mense wat my lewenspad kruis, mense se getuienis van wat die Here in hul lewens gedoen het, mense wie se nood onder my aandag kom. Ek dink nou maar aan die nood van skoolverlaters in die sateliet-huis van Durbanville Kinderhuis in Kraaifontein wat onder ons aandag gekom het. Ek dink ook aan Jesus se woorde dat Hy na ons kom in die gestalte van mense wat dors is en honger is, en ‘n vreemdeling is of nie klere het nie, siek is en in die tronk is. En, sluit Jesus later af: Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers gedoen het, het julle dit aan My gedoen. God praat ook met ons deur ander mense. Praat God nie ook dalk met ons deur die Covid 19 pandemie nie? Ek sê nie die pandemie kom van God nie, ek vra of God nie ook hierdeur met ons praat nie? Sê God nie dalk iets vir ons nie? Iets oor ons lewenswyse? Iets oor ons lewensinstelling? Hoor of sien ons die Boodskap van God raak wat ook op hierdie maniere tot ons kom? Reageer ons hierop? Of ontwyk ons ook hierdie spreke van God: ons ontken dit: dit is die noodlot, die toeval, dit is ”meant to be”. Ons sien dit nie raak nie omdat ons nie wil sien nie, ons verwerp dit! Weereens: Ons speel nie saam nie. Hierdie keer: siende blind! Natuurlik kan ons ook anders reageer op die Boodskap van God. Natuurlik kan ons die Woord van God as ons dit hoor, dit ontvang, aanvaar en daarvolgens begin leef. Natuurlik kan ons God en God se werk in die lewe raaksien, erken en aan God die eer en die erkenning gee wat Hom toekom.
Ek wil ten slotte vra: Hoe gaan ons dit regkry? Ek gaan dit alleen regkry deur die Here te vra om my meer sensitief te maak vir Sy Woord en Sy werke in my lewe. Ek gaan dit regkry deur die Here te vra dat ek meer ingestel sal wees om dit wat Hy vir my sê, sy Boodskap raak te sien! Om te sien, te hoor hoe Hy ookal tot my spreek, Homself aan my openbaar. En natuurlik deur dan te reageer op wat die Here vir my sê, wat ek sien en in gehoorsaamheid aan Hom en sy Woord te leef! Miskien help die volgende beeld ons. Ek het aan die gesigs-maskers gedink wat ons in hierdie dae dra. Ons moet tog probeer om hierdie maskers te alle tye te dra! Maar nou het ek aan ander maskers ook gedink. Mens kry mos ook ‘n masker wat jou oë toemaak sodat jy nie kan sien nie - mense dra dit gewoonlik in vliegtuie as hulle wil slaap. En mens kry “maskers” wat jou ore toemaak sodat jy nie kan hoor nie - mense dra dit gewoonlik op die skietbaan om hul ore te beskerm. Dalk dra ons dalk te veel hierdie oë- en ore-maskers? Hierdie maskers wat maak dat ons die Boodskap van God nie hoor nie en nie sien nie. Horende doof en siende blind! Kom ons haal hierdie maskers af sodat ons die Boodskap van God kan sien, kan hoor en daarop kan reageer.
AMEN