Handelinge 3:11 - 4:4

Datum: 18 April 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Morkel

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Hoe reageer jy op die opstandingsboodskap? Hoe reageer jy daarop dat Jesus vir ons sondes gesterf en uit die dood opgestaan het? Mense reageer uiteraard verskillend. Sommige ontken die opstanding van Jesus Christus, ander bly soort van neutraal: trek maar net die skouers op, sê dit raak hulle nie regtig nie. Nog ander besef dit is die belangrikste dag in die kerklike jaar. Hulle sê dit gaan oor Christus wat vir ons verlossing van sonde en die ewige lewe verwerf het, oor die nuwe lewe, die opstandingslewe, wat ons in Christus ontvang het. Dit gaan oor die hart van die Evangelie!

 

Ons kry ook in hierdie gedeelte verskillende reaksies op die opstandingsboodskap. In Hand.4:1-3 vind ons die priesters, die bevelvoerder van die tempelwag en die Sadduseërs se reaksie. Hulle het nie die opstanding van Jesus uit die dood, aanvaar nie, hulle het die opstandingsboodskap verwerp. Ons lees dat hulle op Petrus en Johannes afgestorm, hulle gevange geneem en in die tronk laat toesluit het. Ons kry ook vandag hierdie reaksie op die opstandingsboodskap. Mense ontken steeds die kruisiging en die opstanding van Jesus, bevraagteken die soenverdienste van Jesus, plaas die opstandingsboodskap onder verdenking. Dit is vir my asof mense huidig meer uitgesproke is omtrent hul teenkanting teen die Christelike boodskap. Iemand sê verlede naweek vir my ‘n persoon het, voordat sy met ‘n toespraak begin het, gesê mense moet asseblief kennis neem dat sy ‘n ateïs is.

 

Die opstandingsboodskap kan ook op ‘n meer subtieler manier ondermyn word. Dit kan gebeur dat ons bydra tot die afbreek van die geloofwaardigheid van die opstandings-boodskap. Dit gebeur as daar nie in my lewe iets sigbaar is van die uitwerking van Jesus se kruisiging en opstanding nie. Dat daar niks sigbaar is, aan die eenkant van die afsterwe van my sondige natuur, die agterlaat van sonde nie en aan die anderkant ook geen teken is van die nuwe, opstandingslewe wat ek in Christus ontvang het nie. As hierdie lewensveranderde krag van die opstanding nie in my lewe sigbaar is nie, ondermyn ek tog die krag van die opstandingsboodskap. So wys ek dat my lewe as gelowige nie veel verskil van die ongelowige nie. Ek gee mense rede om te vra: Hoekom is jou lewe nie anders nie? Hoekom sien ons nie die verandering in jou wat die opstandingsboodskap veronderstel is om te maak nie?

 

Ons lees van ‘n tweede reaksie op die opstandingsboodskap. V.11 sê: Die man het vir Petrus en Johannes bly volg, en die mense wat uiters verbaas was, het na hulle toe

gestroom in die Pilaargang van Salomo. N.L.V: Hulle het in verwondering by die Pilaargang

van Salomo saamgedrom. Ons sien ook in die evangelies hoedat mense Jesus gevolg het op grond van die opspraak wat Jesus se wonderwerke verwek het, die sensasie, die bekoring daarvan. Dit kan sekerlik vandag steeds gebeur dat dit vir mense om die sensasionele, die opspraakwekkende, gaan. Mense voed hul geloof deur die voortdurende soeke na wonderwerke, buitengewone gebeure, ekstase. Op die ou end gaan dit vir mense net om emosionele opwekking. Miskien wil jy vra of dit verkeerd is? Dit is verkeerd as dit vir jou net om die gevoelservaring van geloof gaan, as dit net om die sensasie van die oomblik gaan, as die geloofservaring nie tot blywende geloofsgroei of geloofsvernuwing lei nie. In Matt.13:20 sê Jesus die volgende oor hierdie geloof: Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. Hy laat dit egter nie by hom wortelskiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig.

 

Die laaste reaksie waarop ek wil wys, is v.19: Bekeer julle en kom tot inkeer, dan sal God julle sondes uitwis. Petrus roep sy toehoorders tot bekering. Bekering as die mens se reaksie op die opstandingsboodskap, die mense se antwoord op die boodskap van Jesus se dood en opstanding. Ons lees in die boek Handelinge van vele mense se reaksie op die aanhoor van die opstandingsboodskap van Christus. Ons lees in Hand.2 dat 3,000 mense op Pinksterdag onder die prediking van Petrus tot bekering gekom het en dat hierdie getal aangegroei het tot 5,000; ons lees van die Ethiopiër wat deur Filippus na die Here gelei is en daarna met die doop by die kerk ingelyf is; ons lees in Hand.2:47: En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg en in Hand.9 lees ons van die radikale bekering van Paulus, die vervolger van die kerk. So het mense tot die Here gekom, sommige stil-stil, ander op ‘n aangrypende wyse. Daar is nie ‘n vaste resep van hoe om tot bekering te kom nie, daar is nie ‘n vasgelegde patroon waarop die Here met elkeen werk nie, presiese voorskrifte nie. Joh.3:8 sê: Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is. So sal ook elkeen van ons bekeringsverhale anders wees. Die Here werk nie met elke mens dieselfde, op dieselfde manier nie.

 

Wat hou die woorde van Petrus in v. 11 vir my en jou vanoggend in? Wat is jou reaksie op die opstandingsboodskap? Dit mag wees dat as jy vanoggend die opstandingsboodskap hoor, jy besef(punt 1) dat jy nog nooit werklik reageer het op die oproep van die Here nie, of dat jy besef dat jy nog altyd neutraal of afsydig, teenoor die opstandingsboodskap gestaan het, of besef(punt2) dat jou reaksie nog altyd net maar ‘n emosionele reaksie was. Indien dit so is, dan sou die gepaste reaksie wees, jou antwoord op die opstandingsboodskap wees om “ja” te sê vir die Here, in Petrus se die woorde, jou te bekeer! Om in  ontvangs te neem dit wat Jesus deur sy dood en opstanding vir jou verwerf het!

 

As jy reeds aan die Here behoort, beteken dit egter nie dat vanoggend se boodskap nie vir jou en my is nie. Bekering het ‘n beginpunt, maar ons bereik nie ‘n punt op aarde waar ons kan sê “nou is ek klaar bekeer nie”. Bekering is ‘n voortgaande proses, ‘n proses waarin ek regdeur my lewe vir die Here “ja” sê en vir die sonde, vir my sondige natuur, “nee” sê! Ons moet in hierdie sin daagliks tot bekering kom, elke dag opnuut reageer op die opstandings-boodskap! Ons antwoord op die opstandingsboodskap, sou dan vanoggend wees om onsself te ondersoek, om vir die Here te vra watter terreine van my lewe nog “onbekeerd” is, watter terreine nog nie aan Hom behoort nie, maar aan myself? Of watter dele van my lewe het ek weer teruggeneem vir myself? En onsself opnuut toewy aan die Here. So  groei ons in die geloof. So dra ons lewens almeer die vrug van die opstandingsboodskap. So kring die opstandingsboodskap, soos in die boek Handelinge, al wyer en wyer uit!

 

Ons doop ook vanoggend ‘n baba, ‘n verbondskind, ‘n kind van gelowige ouers. Deur die Doop kom die Here ook vanoggend na klein Handré. Die Here kom bied deur die doop ook vir hom die opstandingsboodskap aan. Die Here sê vir hom: Ek het op Goeie Vrydag ook vir jou sondes gesterf, Ek het deur my opstanding uit die dood ook vir jou die nuwe lewe verwerf. Natuurlik verstaan hy dit nog nie, kan hy nog nie reageer op hierdie aanbod van die Here nie. Maar julle as ouers het die geleentheid om hom groot te maak, om hom te begelei op die geloofspad, om hom te vertel wat die Here vandag vir hom aangebied het. So kry hy ook die geleentheid om te antwoord op die opstandingsboodskap!

AMEN