2 Korinthiërs 11:23-12:10 en Romeine 8:8-39

Datum: 16 September 2018

Prediker: Chris Barnardo

PLATGESLAAN EN SWAK – DIS WIE EK IS

Die spreekwoord lui: “Die lewe is nie net maanskyn en rose nie.” Daar is tye in die lewe waar dit voel of jy nie meer verder kan nie, waar jy voel dat die lewe jou flenters slaan en tye waar jy as’t ware platgeslaan op die vloer lê. Hoe nou gemaak? Is daar hoop?

Moenie tou opgooi nie. Paulus leer ons vanoggend dat ons ten spyte van al die teenslae moet opstaan. Al voel dit so, dit is nie die einde van die wêreld nie.

Wat verstaan ons as ons sê dat die lewe iemand platgeslaan het?

Platgeslaan is nie as jy oor hindernissie of ligte klippie struikel nie. Dit is wanneer ‘n buite faktor, uit die bloute, jou ‘n opstopper gee, jou skoon boul. Ons praat nie oor wanneer jy jou eie probleme veroorsaak nie. Alles wat jy gewen het, het jy in een oomblik verloor en met uitgewerkte gereedskap weer probeer om alles terug te kry. En dat jy elke senuwee probeer forseer om nou maar weer aan te gaan en alles van jou sê, hou op, maar daar is iets in jou wat sê gaan aan. Dit is daardie platgeslaantheid wat ons vanoggend wil aanspreek.

Wat gebeur?

As jy n boer is en daar is nie water nie.

Moderamen storie van die boer wat vertel dat hy flenters geslaan is met die droogte. Daar is nie water.

As jy die pa of ma is wie se kind se lyk in Tygerberg Lykshuis uitgeken moet word?

As jy die kind is wie moet toekyk hoe haar pa homself dooddrink.

As jou kind met kanker gediagnoseer is?

As jou kar of jou huis, midde in die onrus situasie in Hermanus uitgebrand word.

As jy skielik gekonfronteer word dat jy met n terminale siekte sit?

As jou besigheid onder jou uitgesteel is?

As jou swaarverdiende pensioengeld in n groot gat verdwyn en jou adviseur trek sy skouers op.

As jy hoor dat jou pasmaat vir iemand anders lief is.

As jy die pas pas afgelope Vrydag hoor dat jy jou werk verloor het? Dominee ek is “retrench”. Twee jaar voor jou aftrede?

Hoe staan jy op en hoe gee jy weer daardie eerste treetjie?

As jy platgeslaan is, is mens se hoop bietjie daarmee heen. Jou lewe skeur uitmekaar. Jy het gehoop op n sekere geprojekteerde toekoms. En dan skielik word die mat onder uit uitgeruk. Jou geprojekteerde toekoms is daarmee heen. Jy kan nie meer saam met daardie persoon oud word nie. Jou plaas word van jou weggevat. Jy het gehoop dat besigheid jou finansieel vry sou maak. Jy het gehoop dat jou pensioen veilig is. Jy het gehoop dat die plaas vir jou inkomste gaan inbring ‘n goeie oes. Die probleem is dat jou hoop weggaan wanneer jy platgeslaan is.

As jy opstaan kan jy nie sonder hoop opstaan nie. Daar is een ding wat mense weer laat opstaan. Dit is daardie spesifieke geloof, dat jy weet nie hoe nie, maar jy weet daar is ‘n toekoms. Hoop is daardie ding om te sê daar is lewe na enigiets. En as jy nie daardie geloof het nie, dan staan mense net nie weer op nie. So, sonder hoop, is die lewe hopeloos. Maar dit wat jou ook weer laat opstaan, is daardie hoop wat jy het nadat jy platgeslaan is. Is daar n stukkie hoop wat oorbly en vir jou sê Ek gaan oorleef, ek weet nog nie nie hoekom nie.

Hoe staan ek weer op?

Die grootste ooreenkoms by mense wat deur sulke situasies gaan is dat wanneer jy op daardie punt kom, jy onmiddellik skadebeheer doen.

As daardie ding met jou gebeur, moet jy oorleef. Jy moet die stukke optel. Jy moet die bloed stop.

Jou eerste stap is om skadebeheer te doen.

Tweedens kry vir jou n grondhouding. Geloof. Dat jy glo daar is lewe na enigiets. Mense wat oorleef is mense wat glo dat daar lewe is na enigiets. Paulus is ‘n getuie hiervan. Dit was nie maklik vir hom nie. Tog het Paulus onwrikbaar onder moeilike omstandighede bly glo. Niks kan God se aardse eiendom ooit van Hom skei nie. Geen dood, gevaar, of slegte gebeure kan ons losruk uit sy hand nie. Vir tyd en ewigheid het Hy Hom aan ons verbind. Dit is ons troos wanneer dit lyk of ons nie toetse van die lewe slaag nie. Hy is nie afwesig as die golwe  oor ons breek en dit lyk of die vloedwaters ons gaan wegspoel nie. God is by ons tot aan die einde. Daarom is ons altyd naby aan Hom omdat ons in Christus geanker is. Niks in hierdie lewe kan ons skei  van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie. Dit is evangelie!Romeine 8 is ons anker. Niks kan my skei van die liefde van Christus nie. Uiteraard moet jy jou emosies onder beheer kry. Hierdie hartseer of woede se energie gaan ek omskep en gebruik om die toekoms in te gaan.

Herbesin is die derde stap. Ek begin planne maak om uit hierdie krisis uit te stap. Moenie net jou planne herbesin nie. Jy moet jou spesifieke lewenshouding her-bedink. Moet ek nie dalk begin om ‘n verskil in die gemeenskap te maak nie? Ek moet my rol op aarde her-bedink. Ek moet my lewensdoel her-bedink.

Vierdens moet ek hierdie nuwe planne implementeer. Jy moet terugkom op die veld. Jy moet op daardie perd klim wat jou afgegooi het anders gaan jy nooit weer kan voortgaan nie. So jy moet aksie neem. En al is daardie stappe nie meer n tien jaar plan nie. Jou tien jaar plan word ‘n tien tree plan, maar dis nog steeds ‘n plan. Sê dit spesifiek vir jouself dat dit is die eerste stappe nadat ek weer op die veld gekom het.

Wanneer dit gebeur is mense gewoonlik beter af. Jy floreer beter op ‘n ander vlak nadat jy platgeslaan is.

Na so ‘n tydperk moet jy terugkyk en soek na die lesse wat jy geleer het. Jy leer om jou prioriteite reg te kry. Jy leer om sin in jou lewe te kry. Dalk verloor jy jou van jou vriende, maar jy ontdek vriende wat weet waarop dit regtig aankom.

Vier stappe om op die veld te kom. Weer te begin deelneem.

Wat vra dit van ons? Ons wat in die spore van Jesus leef. Dit vra meer sensitiwiteit. Dit vra dat ek gaan stilstaan by daardie persoon wat platgeslaan is.

Dit vra dat ek af buk, dat ek selfs op my hurke langs daardie persoon gaan sit, en ‘n hand uitsteek en daardie persoon ophelp. Soos wanneer ‘n rugbyspeler sy maat ophelp wat ‘n harde duikslag van die opponente gekry het.

Maar dan is daar die ander hand. Die Here se hand. Die Here wat vir Paulus SY hand uitgesteek het, steek ook Sy hand vir jou uit.

Ons Here wat die reën skenk terwyl doem profete oor en oor gesê het dat die Theewaterskloof-dam nooit weer so sal lyk nie.

Weerkundige wat in die begin van die jaar gese het dat hulle nie meer die weerpatrone verstaan nie. Geleerde mense het vir ons vertel dat daar nie reën gaan val nie. Maak julle reg vir dag ZERO. Die seisoene verander drasties. Reënpatrone is besig om te verander.

En wat gebeur? Die Here maak die sluise van die hemel oop. Damme is op die huidige oomblik besig om vol te loop. Waterbeperkings word afgeskaal.

Wat het ons hieruit geleer? Die vier stappe wat ek so pas aangespreek het, het ek in my persoonlike lewe ge-integreer.

Ek het geleer dat ek wel met minder water kan klaarkom. Vyftig liter water per persoon kan werk.

Ek Het geleer om water te spaar. Ek het geleer om my prioriteite agtermekaar te kry. Ek het planne begin maak. Watertenks geïnstalleer en reënwater begin oes. My watertenks is boepens - vol.

Ek het geleer om die Here te vertrou. Om die Heilige Gees vastrapplek in my lewe te gee.

Ek het geleer om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie. Alles is net genade.

Ek het geleer om elke dag ‘n lewe te leef waarin ek swak is, sodat die Here se krag tot volle werking kan kom. Ek het niks om oor te roem nie.

Ek het geleer om dankbaar te wees. Om elke dag al die eer aan die lewende almagtige God te gee. Die Here het almal verras. Hierdie reën val soos genade water op ons neer.

Dit is hoekom ons hier is vanoggend. Om te hoor dat NIKS ons van die liefde van die Here kan skei nie. Daar is net een maatstaf, en dit is of Christus verkondig word, al gaan dinge nie altyd soos jy graag dit wil hê nie. Die almagtige God werk op n vreemde manier. Hy werk in swakheid. Sy genade is bedoel vir swak mense wat bereid is om met hulle paar talente te werk, afgesien van die sigbare resultate wat dit oplewer. Juis wanneer ons swak is, is ons sterk.

Kom ons tel ons seëninge. Een Vir Een.

Kom ons sê dankie vir die reën.

AMEN