Romeine 11:33-36
Datum: 22 Oktober 2017
Prediker: Jandré Viljoen
33) o, DIEPTE van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele onnaspeurlik sy weë!
34) Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?
35) Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?
36) Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
33) Niemand in die hemel of op die aarde het soveel wysheid en insig soos God nie. Wie kan dit waag om God se oordeel te bevraagteken? Wie is in staat om sy optrede te verklaar?
34) Wie ken God se planne? Is daar iemand wat vir Hom kan voorskryf wat om te doen?
35) Is daar iemand wat vir God ’n guns bewys het, sodat Hy iets aan hom moet terugdoen?
36) Van God af kom alles wat bestaan. Hy hou alles in stand. Alles is daar om sy Naam groot te maak. Vir altyd. Ja en amen!
Het julle al ooit gewonder hoekom kom ons kerk toe? Hoekom sit ons hier? Hoekom sing ons? Hoekom bid ons? Hoekom dien ons ander? Hoekom gee ons om? Hoekom gee ons tiendes?
Dit is ‘n vraag waarmee ek baie gekonfronteer word. Die vraag laat my wonder of ons regtig verstaan hoekom ons kerk toe kom? Miskien oor vriende... Miskien oor my ma so gesê het... Miskien uit gewoonte... Miskien omdat daar goeie musiek is...
Ek hoor egter baie keer mense sê ons gaan kerk toe “om te ontvang.” Die ironie van die saak is dat as mense nie enige iets ontvang nie, is hulle gewoontelik krities. Gee almal die skuld. Die musiek is swak. Die ds. preek swak. Die kerk is vervelig.
Toe ek ‘n jeugwerker was het ek baie agter die skerms gewerk. Partykeer goed gesien wat ek nie moes nie. Een van my slegste ervarings was een Sondag oggend. ‘n Man en vrou het kerk toe gekom. In die voorportaal ingestap. Die aankondigings geneem en gesien wie preek. Dadelik omgedraai en uit gestap. Hulle verskoning. Die ds. is boring.
Hoekom doen ons dit? Hoekom kom ons kerk toe? Hierdie is ‘n komplekse vraag met ‘n eenvoudige antwoord. Iets wat die kerk in Martin Luther se tyd glad nie verstaan het nie. Ek dink dit is iets wat baie gelowiges ook vandag glad nie verstaan nie.
Vir lank was die kerk en sy mense gemaklik met die gedagte van die skrif, genade, geloof en verlossing, maar vir lank was die kerk en sy mense nie gemaklik met die woord “alleen” nie.
Alleen geloof
Alleen genade
Alleen Christus
Alleen God verheerlik
Volgens die kerk van daardie tyd kon God nie alleen die eer kry vir hierdie verlossings gedagte nie, want ons maak dan die besluit. Ons is dan deel van die besluit en die keuse tot verlossing. Die kerk was ook vasbeslote dat werke 'n noodsaaklike deel van verlossing was, nie net 'n uitvloei daarvan nie.
Die reformasie kom leer ons dat Luther juis teen dit kom veg het, want volgens Luther gaan dit oor een ding alleen. God moet ten alle tye alleen verheerlik word. Selfs ‘n moeilike gedagte in ons moderne tyd. Ek dink regtig ons sukkel met die gedagte dat alles wat ons hier doen gaan net om een rede en dit is om God te verheerlik.
Ons kom kerk toe omdat dit alleenlik gaan oor God. As dit anders was sou Paulus en Jesus dit anders gebid het. Hulle sou dit anders vir ons gesê het. Paulus gebruik drie verse om ons aan ons sentrale roeping te herinner. Ons roeping is eenvoudig. In alles wat ons doen moet ons God verheerlik. Paulus skryf dit verder in Romeine 12: 1 as hy ons uitdaag met die volgende woorde:
“Ek doen dan ‘n beroep op julle, broers en susters, deur die ontferming van God, om julle liggame te gee as ‘n lewende, heilige, welgevallige offer aan God – julle egte Godsdiens.
Dit is vanoggend se uitdaging. Kerkwees, geloof, liefde, het nog nooit oor ons gegaan nie. Dit het nog altyd gegaan oor God se verheerliking – ons sentrale roeping.
Ons verheerlik God want…
… Sy genade is genoeg.
… Geloof is genoeg.
… Jesus is genoeg.
En as dit nie vir jou genoeg is nie, moet jy dalk jou eie hart, siel en denke deursoek. As dit nie vir jou genoeg is nie, gaan geen ds., orkes, klank sisteem, gebou, kursus, organisasie, beweging, ooit vir jou genoeg wees nie.
Kerkwees gaan nie oor ontvang nie, maar om God se genade, liefde, geloof, geduld, te gee. Want as ons dit gee verheerlik ons God.
Die realiteit is ook, dat dit nie in die kerk eindig nie…
Hierdie gedagte is groter as die kerk. Hierdie gedagte eindig bloot nie in die kerk nie. Dit begin ook nie wanneer jy hier instap nie. Dit eindig ook nie wanneer jy hier uitstap nie. Dit hou aan, want God se verheerliking lê in…
die manier hoe ek my werk doen,
die manier hoe ek sport doen,
die manier hoe ek my verhoudings hanteer,
die manier hoe ek ry,
die manier hoe ek praat oor ander,
die manier hoe ek huiswerk doen,
die manier hoe ek my tiende gee,
die manier hoe ek met my vrou, man en kinders praat.
Wat hierdie teks en gedagte ons vanoggend aan kom herinner is dat alles wat ek doen is tot verheerliking van God.
Dit is dan juis wat ek dink baie mense nie verstaan nie. Ons roeping is om God te verheerlik, want alles is uit God en alles is deur God en daarom juis is alles tot Hom.
Julle sal sien dat vanoggend se preek skets het een vraag op. Daar is geen liedere, teksgedeeltes of ander woorde op nie. Paulus kom herinner ons vanoggend aan ons roeping. Ek wil almal vanoggend uitdaag. Voltooi vanoggend jou eie lewens liturgie. Dink aan plekke, maniere, ruimtes, en verhoudings waar jy God kan verheerlik. Dink oor jou eie roeping vanoggend.
Ek gaan so twee minute se stilte gee. Skryf vanoggend jou preek skets neer. Vul daai blad in met moontlikhede waar jy God die week kan verheerlik.
Die nagmaal kom herinner ons dan juis vandag dat Jesus sy lewe vir ons gegee het. Jesus het nie aan die kruis gehang om te ontvang nie, maar om sy lewe vir ons te gee. Hierdeur kom herinner Jesus ons dat ons dieselfde liefde moet terug gee, want deur hierdie liefde aan ander te gee verheerlik ons sy naam.
Dit is vir my so mooi hoe die nagmaal ons kom herinner aan kerngedagtes oor hoe ons God kan verheerlik.
1) Nagmaal kom herinner ons aan God se genade en vergifnis – En deur hierdie genade en vergifnis te leef teenoor ander, verheerlik ons God.
2) Nagmaal kom herinner ons aan koinonia (gemeenskap) – En deur hierdie gemeenskap te leef, uit te bou, verheerlik ons God se naam.
3) Nagmaal kom herinner ons aan ‘n tafel van vrede – En deur hierdie vrede te leef verheerlik ons God se naam.
4) Nagmaal kom herinner ons aan dankbaarheid – En deur hierdie dankbaarheid te leef verheerlik ons God se naam.
Kom ons antwoord op hierdie kerngedagtes, deur saam hardop ons geloof te bely:
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees en 'n ewige lewe.
Amen.