Lukas 13:1-9
Datum: 18 Junie 2017
Prediker: Chris Barnardo
Kom ons verbeel ons dat Jesus en die twaalf dissipels besig is om televisie te kyk.
Hulle ontspan na ’n dag se onderrig en genesings, hulle vat dit rustig in Petrus se se skoonma se TV-Kamer.
Hulle hop deur die kanale van die dekodeerder. Die manne ontspan na ’n dag met van vele uitdagings.
Skielik land hulle op PLAASLIKE NUUSKANAAL aangebied deur ’n aanvallige Jodinnetjie. Hulle sit die springmielies neer en luister aandagtig na die tragedies wat die onderpunt van Afrika getref het.
Kaapstad is deur die moeder van storms getref. Mense is dakloos gelaat, daar is lewensverlies, skade aan eiendom. Self die kinders is vir ’n dag uit die skole gehou. Chaos heers op die paaie, bome is ontwortel, dakke het afgewaai. Menseverleis.
Een dissipel sê toe vir Jesus: Jesus, hierdie storm wat die Wes Kapenaars getref het, is verskriklik. Dink u dat die swaarkry wat sommige van hulle tans beleef die gevolg is van hulle groot sondigheid?
Dink u dat hulle groter sondaars is as die res van die mense.
Dit was ’n gewilde vraag in Jesus se dae. Dit is vandag nog net so ’n gewilde vraag.
Wanneer iets slegs gebeur moet daar mos met ’n rede wees?
Jesus vryf so aan sy baard vir ’n oomblik sê: “Nee, die wat in die storm gesterf het, het nie gesterf as gevolg van iets wat hulle verkeerd gedoen het nie.
Maar kom ek lig julle net in. Kyk darem ?’n slag na julleself. Julle is reguit op pad na die doderyk toe. Kom dadelik tot bekering. Julle sal net so tragies sterf.
Die manne in Petrus se skoonma se TV kamer mompel onder mekaar en sommige wonder of Jesus vergeet het om sy medikasie te neem.
En terwyl twee van die dissipels besluit om ‘n draai te gaan loop is daar ‘n volgende nuusflits.
Die nuusleser rapporteer nog ‘n katastrofe. KNYSNA BRAND! Tonele op die TV is skrikwekkend. ‘n Vlamme hel bedreig hierdie pragtige dorp.
Die vuur is buite beheer, aangejaag deur ‘n stormsterk-wind. Verskriklik.
Jesus roep na die manne: Kêrels daar in Knysna lyk dit rof. Mens en dier se lewens word bedreig.
’n Vrywillige brandslaner is dood.
’n Gesin het dood verbrand.
Mense het alles verloor. Net die klere aan hulle lyf is hulle gespaar.
Wat van hulle? Dink julle dat die mense van Knysna is groter sondaars as hulle bure in George?
Jesus wag dat die vraag by die manne moet insink.
“Nee, hierdie tragedie het niks met hulle morele waardes te doen nie.
Hierdie mense het in die pad van die vuur gekom.
Die dissipels slaak ’n sug van verligting en is dankbaar dat die Here nie op daardie manier te werk gaan nie.
Maar dan kyk Jesus hulle almal in die oë en sê: Hou op om allerhande uitsprake oor ander se lewe te maak. Kry liewer julle eie lewe in orde. Binnekort is julle ook dood. Dan is dit vir altyd te laat.?”
KRISISSE TREF DIE ONSKULDIGES
Vanuit Ons Skrifgedeelte beleef ons twee hoofopskrifte wat ons alledaagse lewens gereeld konfronteer.
Nuusgebeure wat die lyding van mense aan ons rapporteer.
’n Slegte persoon wat mense se lewens skade berokken of iemand wat op die verkeerde plek en tyd was.
Opset of ongeluk. Jy kan kies.
Wat ook al jy kies, navolgers van Jesus probeer gewoonlik sin maak uit omstandighede van lyding.
’n Gewilde reaksie is om altyd te probeer om ’n rede vir die oorsaak te gee.
Was die mense sondaars Jesus?
Agter hierdie vraag is daar gewoonlik ’n onderliggende aanname: “Hierdie mense moes iets verskriklik verkeerd gedoen het wat veroorsaak het dat die Here hulle op so ’n manier verlaat het. “
Sulke aannames is deel van sommige mense se verstaan van die lewe.
Christene met goeie bedoelings is ongemaklik om die volgende sê:
“Ek weet nie,”
Hulle moet ’n rede kan gee vir alles wat gebeur. Oorsaak lei tot gevolg.
Soos Bossie van FACEBOOK wat sê dat die brande die oorsaak is van die feit dat GAYS in die kerk in Knysna welkom is.
Knysna word gestraf as gevolg daarvan. Bossie sê dat Knysna se mense brand omrede GAYS welkom is.
Of die gesinnetjie wat in die brande gesterf het, was die Here wat hulle huis toe geroep het.
Of dit wat nou met jou gebeur is dit wat jy 30 jaar gelede gedoen het.
Christene is soms ongemaklik wanneer dinge onduidelik is en gee dan belaglike redes om sekere dinge te verduidelik.
Dankie, tog dat Jesus se paaie skei met hierdie geklike aannames.
Was hierdie mense sondaars Jesus? Twee keer se Jesus NEE.
Maar kyk wat doen Jesus! Jesus se paaie skei inderdaad met hulle wat sê dat slegte dinge net met slegte mense gebeur.
Nee, sê Jesus. Dit werk nie so nie. So ook mors Jesus nie tyd met die veelbesproke “verligte” vraag van mense wat vra: Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense, nie?
Dit is nogal ’n vraag waarmee ek die afgelope tyd baie konfronteer word.
Ons kyk na die nuusflitse, lees die koerant en vra, Waar is God?
Kon die Here nie hierdie tragedie verhoed het nie?
Was God aan die slaap? En dan daardie vraag wat ons nie hardop vra nie: Is God regtig teenwoordig in die wêreld?
En Jesus gee nie eers aandag aan hierdie gewilde vrae van mense in ons Skrifgedeelte nie.
Hy kon, maar Jesus doen dit nie. Dit sal darem goed gewees het as Jesus bietjie kon saampraat.
Want hierdie is ’n fantastiese geleentheid om met ons te gesels oor die vraag wat op meeste mense se lippe is: Waar is God?
Hoekom gryp God nie in nie? Eindelose interessante vrae vir meeste van ons. Maar Jesus doen iets anders.
Op meesterlike wyse verskuif Jesus die gesprek vanaf God se verantwoordelikheid na die mens se verantwoordelikheid.
Ons is mos lief vir die God vraag. Waar was God toe dit gebeur het?
Dis mos maklik om na die nuus te kyk en na voorbeelde te wys van bose mense en bose gebeure.
Ons kan weer asemhaal. Een minder “useless” mens in die samelewing.
Toe Hanah se verkragters en moordenaars gevang is, het ek diep binne myself lekkergekry. Ten minste is ons binnekort vir ’n lang tyd van hulle ontslae.
Maar ek is nie regtig ongemaklik wanneer ek deel is van ’n gesprek waar my eie rol in die lyding en onreg van mense bespreek word nie.
Dis maklik om vingers na mense te wys maar ons sukkel om na onsself te kyk.
Dis makliker om kommentaar op die 7uur nuus te gee as om vir ’n slag na myself te kyk en te vra:
“Is ek getrou aan die Woord van die Here?
Doen ek Sy wil?
Is ek nie dalk ook deel van die probleem nie?
Jesus laat nie toe dat ons ander mense of vir God blameer nie. Jesus gooi die bal terug na ons.
Vriende dit is so maklik om binne ’n vakuum te leef en oordele uit te spreek teen die wêreld.
Dis baie maklik om kommentaar te lewer op die wêreld se probleme.
Dis baie moeilik om oor ons eie sondes te praat.
Jesus weet iets wat ons so gemaklik vergeet.
Dis nie die hoofberigte wat die wêreld se probleme definieer nie.
Ons, die mense van hierdie wêreld is die probleem.
Vir drie jaar het ek kom kyk of daar vrugte aan die boom is en steeds het ek niks gekry nie.
Ons obsessie oor die hoofopskrifte is ’n afdraaipad van die landskap waarin Jesus wil hê ons moet wees.
Daagliks is daar tragedies dwarsoor ons land.
Ek wil dit nie ontken nie.
Maar dalk behoort ons fokus te draai na die bloedbespatte kruis wat in ons lewens ingebrand is.
Daar word meer vrugte geoes as om na die hoofopskrifte te kyk.
Dit is wat Jesus in vanoggend se teks van ons vra: Die tyd wat ons gebruik om oordele te fel en antwoorde op alles uit te werk, moet ons eerder gebruik om tyd te maak by die Here. Jesus vra: Bekeer julle, elke dag, ons eie dood is dalk nader as wat ons dink.