Galasiërs 4:1-7
Datum: 29 Julie 2018
Prediker: Jandré Viljoen
Vanoggend se Skriflesing kom vanuit Galasiërs 4: 1 - 7 (1933 vertaling). Ek moet nou regtig eerlik met julle wees en sê dat hierdie teksvers en vanoggend se tema, my weerloos gelaat het in hierdie week. Miskien is dit omdat ek dalk self sukkel met vanoggend se tema.
Wat ek die week agter gekom het, is dat hierdie die derde metafoor is, wat Paulus gebruik om iets te illustreer rakende ons erfenis. Die eerste twee metafore is die van ‘n tronk (vers 23) en die van ‘n wetstoepasser (24-25). Die laaste metafoor is die van ‘n jong seun – vanoggend se teks.
Voordat ons na die tema en teksvers gaan kyk, kom ons lees die teks.
1 MAAR ek sê: So lank as die erfgenaam ’n kind is, verskil hy niks van ’n dienskneg nie, al is hy heer van alles;
2 maar hy staan onder voogde en bestuurders tot op die tyd tevore deur die vader bepaal.
3 So was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld.
4 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet,
5 om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.
6 En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!
7 Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.
Ons lees to sovêr.
Inleiding
As jy ‘n skoon skilderdoek kry en iemand vra jou, “teken jou identiteit!” Wat sou jy teken? Hoe sou jy jouself aan ander mense teken? Sou dit baie lyk soos die selfportrette van ander kunstenaars? – soos die foto’s op die bord.
Die vraag en soeke na ‘n ware identiteit is ‘n groot realiteit in baie mense se leefwêreld. Die boekrakke in winkels wys dit. Advertensie veldtogte bevestig dit en die samelewing beaam dit.
Jy hoor dit ook in argumente tussen mense – terwyl al twee partye die heeltyd hulself probeer verdedig. Het jul al geluister na ander mense wat argumenteer. Die een veg harder as die ander een om net te wys dat ek reg is. Hoekom wil ons altyd reg wees? Jy hoor dit ook in mense se opinies oor ander mense. Jy sien definitief iets daarvan op sosiale media.
Jy sien dit ook aan die motors, kleure, en toebehore van mense. Jy sien dit definitief by my. Daar is niks wat my so goed laat voel soos ‘n mooi baskitaar nie. Ek het altyd gedink ‘n beter baskitaar sal my beter laat speel. Tot ek een gekoop het, toe besef ek maar ek speel maar eintlik nog dieselfde.
Ek het ook al baie mense gehoor wat sê, “ek weet nie wie ek regtig is nie, OF dit was nie regtig ek nie!”
Paulus kom gee vandag vir ons ‘n groot stuk waarheid oor identiteit, terwyl die wêreld vir ons iets anders sê.
Die wêreld se skilderdoek…
- Skets ‘n wêreld vol beloftes – As jy hierdie verslankings middel gaan gebruik, dan gaan jy in een maand 10 kilogram verloor. As jy hierdie skoene gaan aantrek, dan gaan jy nooit moeg raak nie. As jy die CEO van hierdie maatskappy gaan raak, gaan jy nooit weer hoef te sukkel nie. Ek het die hele week gewonder hoekom ons so vasklou aan die wêreld se beloftes / identiteit? Hoekom bemagtig hierdie beloftes mense se identiteit?
- Skets ‘n wêreld vol vrees – Ek wil glo dit is omdat ons samelewing gebou word op vrees. Ons politieke omgewing, ons Afrikaner identiteit, ons vrees dat alles gaan verlore wees. Jy hoor dit ook in baie mense se reaksie van, “toe ons nog jonk was.” Ek lees die vakansie ‘n boek met die titel, “being wrong!” In die boek skets die skrywer die realiteit van mense se angs om verkeerd te wees. Ons is die heeltyd besig om te veg, want ons is reg. Ons het hierdie absolute identiteit merker van, “ek is reg en net ek is reg!” So is ons almal bang om verkeerd te wees, wat eintlik ‘n emosie is wat gedryf word deur vrees. Hoekom is ons so vrees bevange?
- Skets ‘n wêreld van twyfel – Deur hierdie in te verf in ons identiteit lewe ons gedurig met twyfel oor wie ons is. Ons is so vas gevang in die verlede dat ons nooit toekoms gerig fokus nie. Twyfel in God en God se bestaan raak al hoe meer ‘n werklikheid vir baie mense. Juis omdat ons identiteit gevestig word op “wettiese” werklikhede. Ons lewe vasgevang onder die voogskap van die wêreld se leë beloftes, vrees, en twyfel. Die gebruik van die tyd was, dat die seun in die verhaal, eers sy erfporsie kon kry op ‘n sekere ouderdom. So in retrospek was die seun vasgevang in die werklikheid dat hy eintlik ‘n slaaf was van sy omstandighede – wette. As dit ‘n Joodse seun was, sou hy eers die erfporsie op die ouderdom van 13 ontvang. ‘n Griekse seun – Romeinse wet - op die ouderdom van 25. Ek glo ons twyfel weerspieël eintlik die gevoel van “ek is vasgevang in my omstandighede en ek kan niks van my erfporsie ervaar nie.”
Die wêreld se leë beloftes, ons vrees, en ons twyfel, laat ons lam. Dit verbreek verhoudings. Dit gee ons nie die vermoë om na ander te luister nie, en los ons met die soeke na mag en beheer. Dit alles omdat leë beloftes, vrees en twyfel ons beheer.
Paulus kom skets egter ‘n ander werklikheid. Paulus kom skets God se skilderdoek. Hoekom, want Paulus het dit ervaar. Hy het die wettiese wêreld as Saulus ervaar, en God se wêreld as Paulus ervaar.
God se skilderdoek..
- Skets ‘n belofte - ‘n Belofte waar God sê, “Jy is my erfgenaam.” Almal van julle wat hier sit, is my erfgenaam. Dit is nie ‘n leë belofte nie, maar ‘n werklike nuwe identiteit. In vers 4 verduidelik Paulus dit so mooi as hy sê, “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.” In Woensdag se Alpha kursus was dit net weer bevestig. God het ons erfgename gemaak deur middel van Jesus Christus. Dit is waarin ons identiteit lê. Ek lees hierdie beskrywing oor hierdie werklikheid die week, “If personal identity has to do with each person’s unique story, then the Christian identity has to do with how our own life stories are intersected and reshaped by the Christian Story.” God se belofte moet ons identiteit hervorm sodat ons meer soos Jesus kan leef.
- Skets ‘n toekoms verwagting – Deur hierdie leef, skets ons identiteit ‘n toekoms verwagting. Hannes het in die week dit vir my so mooi kom beskryf toe hy sê, “die gedagte van ‘n erfgenaam is dan juis om die erfporsie te leef.” Ons Christelike identiteit was nog nooit om vas te klou aan die verlede nie, maar om soekend, in opgewondenheid, so te leef dat Jesus se koms ‘n werklikheid raak vir ander. Met hierdie wete, hoef ek nie myself te verdedig nie, want God het dit reeds vir my gedoen. Ek hoef nie die dood te vrees nie, want Jesus het dit klaar oorwin. Ek hoef nie te twyfel in wie ek is nie, want ek is ‘n erfgenaam van God. Ek het Jesus as erfenis ontvang. Dit is my erfporsie.
- Vra ‘n her-oriëntasie – God se skilderdoek kom vra van my ‘n her-oriëntasie van myself. Die her-oriëntasie lê daarin dat niks in hierdie wêreld gaan oor my nie. As niks oor my gaan nie, gaan ek nie bang wees om te sê:
- ek is jammer, ek het ‘n fout gemaak;
- ek kan dit nie alleen doen nie, ek het help nodig;
- hoe kan ek help;
- kan ek ‘n koffie gaan drink, ek het nie verstaan wat jy sê nie;
- help my om te verstaan hoe jy voel nie.
Hierdie wêreld en God se mense behoort nie aan my of jou nie. Dit word aan ons geleen om die erfporsie se identiteit te bevestig. Nie af te breek nie. Ons moet vanuit hierdie erfporsie funksioneer. Dit is ons identiteit.
Kom ons hou op om vanuit leë beloftes, vrees, en twyfel te leef. Kom ons her-orienteer onsself en leef vanuit die waarheid dat almal van ons wat vanoggend hier sit, dieselfde erfporsie ontvang het. Niemand het meer of minder ontvang nie. Ons het presies dieselfde ontvang – Jesus Christus. Dit is ons identiteit. Ons het dit ontvang met ons doop.
Die nagmaal kom bevestig dan juis vandag ons identiteit. Jesus het nie aan die kruis gehang om te ontvang nie, maar om sy lewe vir ons te gee – ons erfporsie – ons identiteit. Hierdeur kom herinner Jesus ons, dat ons dieselfde liefde moet terug gee / herbevestig in ander mense se lewens - want deur hierdie liefde aan ander te gee bevestig ons, ons identiteit in Christus.
Formulier
Dit is vir my so mooi hoe die nagmaal ons kom herinner aan kerngedagtes oor ons identiteit in Christus.
1) Nagmaal kom herinner ons aan God se genade en vergifnis – En deur hierdie genade en vergifnis te leef teenoor ander, leef ons, ons nuwe identiteit.
2) Nagmaal kom herinner ons aan koinonia (gemeenskap) – En deur hierdie gemeenskap te leef, uit te bou, verheerlik ons God se naam. Ek lees hierdie in die week in ‘n boek, “...in the relational understanding of man, my basic identity is ultimately determined not by the qualities I independently possess but by my relationship with another person.”
3) Nagmaal kom herinner ons aan vrede – En deur hierdie vrede te leef bevestig ons, ons identiteit in Christus.
4) Nagmaal kom herinner ons aan dankbaarheid – En deur hierdie dankbaarheid te leef bevestig ons dat ons dankbaar is vir ons erfporsie – Jesus Christus.
Kom ons antwoord op hierdie kerngedagtes, deur saam hardop ons geloof te bely. Kom ons bevestig hierdeur ons identiteit.
Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees en 'n ewige lewe.
Amen.