Psalm 31

Datum: 2 April 2023 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Morkel

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Verbeel jou jy sit in ‘n eksamenlokaal en jy moet eksamen skryf en die vraestelle word uitgedeel. Die eerste vraag is jy moet ‘n  opstel oor enige onderwerp skryf. Daar is egter een voorwaarde: dit moet ‘n ware gebeurtenis wees. Jy moet vertel van iets wat jy oorgekom het, ‘n ware ervaring wat jy beleef het. Vir Dawid was dit nie ‘n probleem nie. Hy het sommer dadelik begin skryf. Die opstel vind ons in die Bybel, om presies te wees in Psalm 31. Jy sou opgemerk het Dawid skryf die opstel in gebedsvorm - as ‘n gebed tot God. As ek Dawid se vraestel moes nasien, sou ek hom wel afgemerk het omdat hy nie net oor een ervaring skryf nie, maar twee vertellings skryf - die een na die ander. Die eerste vertelling is vanaf v.2 tot v.9 en die tweede vanaf v.10 tot v.25.  Altwee vertellings volg dieselfde patroon.

 

Dawid begin albei sy vertellings deur oor ‘n nood waarin hy was, te skryf. ‘n Erge nood of gevaar, ‘n nood waarin hy nie ‘n uitkoms gesien het nie. Hy sê nie in watter nood hy was nie, maar hy skryf wel van vangnette van die vyand, planne om hom dood te maak, verwerping en spot en hoedat sy krag geknak het. Nadat Dawid oor sy nood geskryf het, skryf hy in altwee vertellings oor hoedat hy in sy nood na die Here geroep het om uitkoms. Dawid smeek die Here om uitredding, bevryding. Hy skryf “ek vertrou op U”, “Here, verskyn tot my redding!”  Ons verstaan maar te goed wat Dawid hier skryf. Ons doen dit ook, ons doen dit dikwels. Ons het mos ook die uitdrukking “nood leer bid”. Of soos ‘n tannie destyds in George vir my gesê het “as jy op jou rug lê, kyk jy op”. Dat Dawid in sy nood tot die Here roep, is sekerlik nie verkeerd nie. Dat ek en jy dieselfde as Dawid doen, is ook nie verkeerd nie. Om God in nood aan te roep (wat die aard van jou nood ookal mag wees) is as sulks ‘n geloofsverklaring, ‘n geloofsbelydenis, die erkenning van jou afhanklikheid van die Here. Dit is die bewys dat jy jou verwagting, jou hoop op die Here sit, dat jy die Here in jou nood vertrou om uitkoms.

 

Ek herhaal, dit is nie verkeerd nie. Natuurlik kan ons in ons nood soos Dawid, die Here ons toevlug maak, ons rots maak. Ons kan die Here smeek om uitkoms(om Dawid se woorde te gebruik). Dit sal natuurlik nie reg wees as ons net as ons in die nood is, God ons Toevlug maak nie. Dit sal nie reg wees as ons gebedslewens net maar bestaan uit gesprekke met God as ons in die moeilikheid is nie, as ons net maar as die nood druk, na God hardloop nie. Dan maak ons van die Here ‘n noodwiel - iets of Iemand wat ons byderhand hou maar slegs gebruik as ons in die moeilikheid is.

 

Dit is in Psalm 31 duidelik dat Dawid se gebedslewe uit meer as net gebed in nood, bestaan

het. Elkeen van Dawid se twee vertellings eindig met hoedat Dawid aan die Here die eer gee  vir sy uitredding. Dan gebruik Dawid ook regdeur Psalm 31 woorde soos: “U sal voortgaan om my te lei, U het my vrygemaak, ek vertrou op U Here, my tye is in U hande, hoe groot is U goedheid, aan die Here kom die lof toe!” Dawid se opstel wys sy gebedslewe is deurspek van woorde wat getuig van die rol wat gebed in sy lewe gespeel het. Psalm 31 wys gebed was ‘n integrale deel van sy geloofslewe, dit wys hoedat hy in hierdie gebed die Here vertrou, die Here se goedheid besing, die Here die lof gee wat Hom toekom.

 

Dit is die tweede afleiding wat ons van Dawid se getuienis/opstel/Psalm 31 kan maak. Gebed behoort ‘n onmisbare deel van die gelowige se geloofslewe te wees. Een kommentaar gebruik die woordjie “geloofsmondering”. Gebed is ‘n deel van die gelowige se geloofsmondering. Hy haal Ef.6:18 “Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges”. In Jesus se lewe op aarde sien ons ook watter groot rol gebed gespeel het. Jesus bid in die woestyn as Hy deur die Duiwel versoek word; Jesus soek telkens vroegoggend sy Vader in gebed op; voordat Jesus vir Lasarus uit die dood opwek, bid Hy “Vader Ek dank U dat U my verhoor het”. En dan, in Jesus se grootste oomblik van nood, bid hy in Getsemané: ”Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar U wil geskied”. En aan die kruis, sy laaste kruiswoorde, Psalm 31:6 “In u hande gee ek my lewe oor”

 

Dawid laat ons deur sy getuienis in Psalm 31 met die vraag: Speel gebed dieselfde rol in jou lewe as in myne?  Is gebed ook ‘n onontbeerlike deel van jou geloofsmondering? Is jou lewe, soos iemand dit stel, “soaked with prayer?” - deurdrenk in gebed? Ek kan julle die tye gee wat bekende gelowiges daagliks in gebed deurgebring het, maar ek het gevind dit is nogal demoraliserend, dit laat mens skuldig voel. Ek volstaan met ‘n aanhaling van William Temple: “When I pray, coincidences happen; when I don’t, they don’t”. Gebed is die grondslag en voedingsbron van ons lewens as gelowiges. Paulus sê “Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees.”

 

Wat is die motief of die gronde van ons gebede? Hoekom bid jy? Dawid sou sy gebed op ander dinge kon begrond. Dawid sou kon sê: Here, red my sodat my lewe behoue kan bly.

Of, Here, verhoor my gebed sodat ek die vyand kan verslaan. Of, Here, spaar my lewe sodat ek verder koning kan wees. Maar Dawid skryf in v.2: “Ter wille van U naam sal U voorgaan en my lei” Ter wille van u Naam! Vir Dawid gaan dit om die eer van God, om dit wat die beste sal wees ter wille van die koninkryk van God, om die verheerliking van God. So dikwels gaan dit vir ons - ook in ons gebede - om onsself. Ons bid vir uitkoms, maar ten diepste is ons motief onsself. Ons bid sodat dit beter met my of my kinders of familie kan gaan. Ons bid, maar eintlik gaan dit om selfsugtige redes: sodat ek finansieël beter daaraan kan toe wees, sodat ek meer aansien sal hê, sodat my lewe gemakliker, geriefliker kan wees. Gebed word dan ‘n manier waarp ek God aanroep terwille van myself, om my tit diens te wees. Verstaan my reg. Dit is nie verkeerd om vir mense, dinge wat vir jou belangrik is of dinge wat naby aan jouself is, te bid nie. Die Here het ons ook so geleer bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Maar soos in ons lewens, moet dit ook in ons gebede ten diepste gaan om die koninkryk van God, om die wil van die Here, om die soeke na God se eer, “nie my wil nie, maar U wil geskied”. Ons dink aan die woorde van die Ons Vader-gebed:”Laat u naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied!”

 

In die Rabbynse literatuur is Ps.31:6 “In u hande gee ek my lewe oor” as kort aandgebed voorgeskryf. Kinders moes hierdie woorde bid voordat hulle gaan slaap het. Dit is ook aanbeveel vir elke Israeliet. Mag die woorde “in u hande gee ek my lewe oor” die gebed wees wat elkeen van ons bid. Nie net as ons gaan slaap nie, maar ook as ons opstaan!

Mag dit die gebed wees wat elke verbondsouer elke dag vir ons kinders bid. Mag dit die gebed wees wat julle wat vanoggend jul baba ten doop bring, vir jul kinders bid. Mag dit die gebed wees wat ons vir ons kinders leer bid as hulle groter word. Mag dit nie net “woorde” wees nie, maar mag ons ook met ons lewens najaag: “In u hande gee ek my lewe oor”.

 

Jesus se laaste gebed op aarde was dan ook die aanhaling van Psalm 31:6, “In u hande gee Ek my gees/lewe oor”. Jesus se aandgebed. Tog sou Hy op die Sondagoggend wakker word, ontwaak, opstaan uit die dood en lewe.Opstaan sodat daar ook vir jou en my ‘n opstanding kan wees! ‘n Opstanding tot ‘n nuwe lewe op aarde, ‘n opstanding uit die dood as ons sterf, ‘n opstanding tot die ewige lewe!

AMEN