1 Kor. 1:18-25

Datum: 11 September 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

ONS VERKONDIG CHRISTUS, DIE GEKRUISIGDE

  1. INLEIDING

    Die universiteit Stellenbosch het onlangs met ‘n ewekansige steekproef baie interessante data ingesamel oor hoe mense reageer op die geweld, roof, bedrog en gevaar situasies binne ons land. In Suid-Afrika leef mense onder gevaarlike omstandighede. ‘n Lewe is niks werd nie. Daagliks hoor ons van mense wat die slagoffers is van geweld, roof en aanvalle.

    Die Wes-Kaap, wat vir baie lank die veiligste provinsie was, het ook nou rooi gebiede verklaar wat liefs vir jou eie veiligheid vermy moet word.  Moenie jou GPS blindelings vertrou om jou van een plek na ‘n ander te begelei nie.

    Jou GPS weet nie van die rooi gebiede nie. Verlede Vrydag, tydens my besoek aan Marlene Kruger by die Melomed Hospitaal in Tokai het ek amper so ‘n slegte ervaring beleef.   Die kortste pad op jou GPS is nie noodwendig die veiligste pad nie.

    Maar van rooi gebiede gepraat. Christene in ons land leef ook elke dag in die rooi sones. Ons is elke dag midde in hierdie rooi gevaarlike omgewing wat lewensbedreigend is.  Hierdie land is vir Christene doodsgevaarlik. Hoekom sê ek dit? Onmiddellik is Magdy Saber op my radar. Onthou julle vir Magdy die Egiptenaar, wat ‘n paar jaar gelede hier by ons gekuier het?

     

    Destyds het Magdy die volgende vir my tydens ‘n ete gesê: As ek ‘n keuse het om in Egipte, waar Christene meedoënloos vervolg en gejag word, te leef, of om myself Suid Afrika te vestig, sal ek eerder kies om in Egipte te bly”.

    Hy kies eerder om as Christen in Egipte vervolg te word en daar te woon as in Suid Afrika. In Egipte is dit óf die Koninkryk van Lig óf die koninkryk van die duisternis. Jy kan nie daar ‘n lou Christen wees nie want in Egipte word Christene gejag en vervolg.

    In Suid Afrika kan jy wegkruip onder die kultuur en jy kan dink jy is ‘n gelowige want die duiwel se aanvalle in Suid Afrika is baie meer sag en aanloklik. Hy sê ons het rykdom, welvaart en dinge wat ons aandag van Jesus wegneem. Ons in Suid Afrika het nie vir Jesus nodig nie. “Ons as Christene in Egipte het vir Jesus so nodig om elke dag te kan oorleef. Julle het gemak, julle het geld, julle het rykdom, julle het welvaart, julle het nie vir Jesus nodig nie. Dit is hoekom so baie mense dink dat hulle vir Jesus dien maar eintlik agter al hierdie welvaart en dinge wegkruip. Daarom is dit makliker om in Egipte vir Jesus te aanbid as in Suid Afrika.

    Die duiwel wil die Christene in Egipte by wyse van agtervolging doodmaak.

    Hy wil die Christene in Egipte vermoor en uitwis.

    In Suid Afrika word Christene nie vervolg nie, daarom moet die duiwel ‘n ander strategie gebruik. Om te verhoed dat die goeie nuus in Suid Afrika versprei word gebruik die duiwel geld, welvaart, tegnologie, tyd en al die dinge waarmee Christene so besig is. In hierdie opsig is die duiwel meer suksesvol.

     

    Of jy nou in Egipte of in Kuilsrivier woon, dit is dieselfde duiwel maar met verskillende benaderings of planne om jou te verhinder om die koninkryk van God te soek. Vriende die duiwel het nog ‘n wapen in sy arsenaal bygekry om massa vernietiging te laat plaasvind en waarmee hy ‘n wig tussen ons en Jesus indryf. Ek noem dit sy post-Covid strategie. Die langer as twee jaar in isolasie het finaal meegehelp dat sommige lidmate sonder enige skuldgevoelens die band met die gemeente geknip het. Die dag van die Here word nie meer ge-eer nie. Die Sondag erediens is vir baie sogenaamde Christene nie meer die primêre aanbiddings- geleentheid nie. Die samekomste van gelowiges blyk uitgedien te wees. Daar is vele alternatiewe geleenthede geskep waarmee ‘n individu die goeie nuus kan ontvang. As individu kies ek hoe lank ek na ‘n boodskap wil luister. As dit my nie pas nie druk ek net ‘n knoppie op my selfoon.

    Die aanbidding-spyskaart vir individue het soveel meer om te bied vandat tegnologie ingespan word. Vir baie mense gaan dit nou oor die eie ek en wat my pas in my persoonlike omstandighede. Christus word tweede gestel en “ek” doen geen moeite meer om deel van die gemeenskap van gelowiges te wees nie.

     

    Die post-Covid littekens is merkbaar op die gemeenskap van gelowiges en die duiwel lag in sy mou. Hy is besig om sy sin te kry. Die koninkryk van die duisternis se aanslag is fel en vernietigend en dit wil voorkom asof hy die oorhand kry.

    Ons wat vanoggend hier sit is ‘n fraksie van die totaal van De Eike. Die res is weg, waarskynlik finaal die naelstring met De Eike geknip. Covid het dit maklik gemaak vir daardie mense wat op De Eike se boeke wil bly maar nêrens anders betrokke wil wees nie. Nominale gelowiges wie se name net op WINKERK verskyn maar weggestap het van De Eike af. Waar laat dit ons? Ons wat vanoggend hier sit en baie vrae het. Ons wat wonder oor die toekoms van De Eike. Ons het nie antwoorde nie. Ons begeef onsself in ‘n nuwe ongekarteerde landskap. Kom ons kyk vir ‘n oomblik na die lewe van Paulus. Dalk sal Paulus se lewe en sy verwondering aangaande die goeie nuus jou vrae beantwoord.

     

     STAAN VAS EN MOENIE SKAAM WEES NIE

     

    Paulus was letterlik daar waar nie een van ons al ooit in ons lewens was nie. Hy het die evangelie na ongekarteerde terrein en ongetoetste gehore geneem. Hy het die woord verwerping baie goed verstaan. Paulus verwys  na die gehoor se reaksie (1:21) en hy het die littekens as ’n bewys hoe gewelddadig sommige mense die evangelie verwerp het. Die spanning en teenkanting in die verkondiging van die evangelie was nie vir Paulus teoreties van aard nie. Hy het dit aan sy eie lyf ervaar.

     

    Ons is nou ook daar waar Paulus was en sy raad kan ons gerus ter harte neem. Want juis nou gaan mense dink dat ons van lotjie getik is.

    Afwesige lou lidmate, lidmate wat finaal daardie naelstring met De Eike geknip het gaan dalk dink dat waarmee ons besig is, is onsin, verouderd, vervelig en nie in pas met die res van die wêreld nie.

    Soos wat ek onlangs gehoor het, ons is besig met oppervlakkige dingetjies om die tyd mee om te kry.

     

    Alhoewel daar mense is wat die evangelie verwerp bly dit die waarheid in eenvoud. Daarom vra Paulus ’n gesindheid van: “Ek is nie skaam vir die Goeie Nuus aangaande Christus nie. Dit is die krag van God wat aan die werk is, om mense te red wat glo”.

    Soos Paulus moet ons in die POST-COVID tyd die evangelie in eenvoud verkondig en nie die duiwel vastrapplek in ons lewens gee nie.

     

    WAT MOET ONS GAAN DOEN?

     

    Mense mag dalk dink dat ons verhewe is bo hulle. Wanneer die goeie nuus, die evangelie, hierdie mense se sonde blootlê kan hulle dalk meer weerloos en skuldig voel. Hulle kan selfs skaamkwaad wees en die kerk vir alles skuld gee.

    Hulle mag dalk opmerkings maak oor aangaande ou dominees wat hulle aan die slaap preek, verouderde kerkraad, teveel gryskoppe in die erediens, orrel frustrasie, geen vernuwing nie. Alles ’n dekmantel omdat die eie ek nie tot sy reg kom nie.

     

    God se antwoord aan hierdie mense moet met liefde, medemenslikheid en omgee gegee word. Nie met slim argumente wat hulle nog vêrder van die Here gaan wegdryf nie. Daarom moet ons klokhelder wees oor ons eie sondigheid wanneer ons hierdie mense wil bereik en aanraak met die liefde van Jesus. Kom ons deel die goeie nuus met hulle want ons almal het hierdie nuus nodig.

    Die goeie nuus is nie ’n boodskap wat afwaarts na mense gepreek word nie. Deel jou boodskap met deernis, as die een wat ook God se onverdiende vergifnis ontvang het.

     

    HOE MOET ONS DIT DOEN?

     

    Daar is sprekers wat indrukwekkende woorde gebruik waarvan die inhoud maar vaal en dun is. Hulle probeer hase uit hoedens trek om die aandag van lidmate in gemeentes te behou. Paulus benadruk Bybelse inhoud en praktiese ondersteuning en hulp vir die hoorders. Paulus wil hê dat mense beïndruk moet wees met die inhoud van die boodskap en nie met die spreker se styl nie.

    Jy hoef nie ’n formidabele prediker met ’n indrukwekkende woordeskat te wees om die goeie nuus met mense te deel nie. Die oortuigende krag is in die storie en nie die storieverteller nie. Paulus was nie gekant teen hulle wat goeie voorbereiding doen en dit deel met mense nie. Maar hy het ’n kleintjie dood aan hulle wat mense wil beïndruk met hulle kennis en spraak en taalvermoëns. Jy hoef nie die HAT in te sluk om die goeie nuus te verkondig nie.

    Maak vir Christus die middelpunt van jou gesprekke in prediking en Bybelstudies en kleingroepe, eerder as om mense te probeer beïndruk en te vermaak.

     

    WAAR LAAT DIT ONS?

     

    Magdy se woorde slaan hard vanoggend. Die duiwel is los in ons land en met sy sagte na-COVID strategie is hy besig om mense om sy pinkie te draai. Ons wat vanoggend in hierdie kerkgebou sit, ’n Gideonsbende, kan nie nou hande in die lug gooi en wegstap van die probleem af nie. Nee vriende, ons verkondig in eenvoud sonder indrukwekkende woorde en fieterjasies, Christus wat gekruisig is.

    Kom ons slaan kort reguit houe. Dit is die krag van God. ’n Groter krag as die duiwel met al sy slinkse planne en uitnodigings.  Die goeie nuus is ‘n  aanstoot vir sommiges, en vir ander is dit onsin, maar vir ons, ons wat vanoggend erns maak met ons geloof, ons wat vasklou aan Christus die gekruisigde, ons gaan nie toelaat dat die duiwel vastrapplek in ons lewens probeer kry nie.  Ons sal in eenvoud en deernis die goeie nuus verkondig.

     

    Ek kies om in verwondering en in eenvoud die volgende te sê: Ek verkondig Christus wat gekruisig is. Wees anders as ander. Dis al.

    AMEN