Jakobus 3:1-12
Datum: 12 September 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
- INLEIDING.
Genugtig, maar die tonge is nou los in BINNELANDERS! Daar het mos ’n knaap in Binnelanders opgedaag wat almal oploop het. En om alles te kroon is hy Okkie hulle se nuwe buurman! ’n Regte klein twak wat besig is om nie ’n vuurtjie nie, maar ’n BOSBRAND in Binnelanders aan te steek. Die gevolg van sy onderduimse planne wat uiting deur sy giftige tong kry, het veroorsaak dat Okkie in ’n voertuigbotsing betrokke was. Louis moes al in die hospitaal oornag as gevolg van spanning. Ekself het al onnodige borskaspyne gekry as gevolg van hierdie jafel se dwarsheid. Sy naam is REX. Rex die moeilikheidmaker. Die ou wat sy tong inspan om gif te saai, terugsit en kyk hoe almal rond skarrel om die chaos en gemors te probeer oplos.
Ek het al gewonder.....Hoeveel van REX is daar in my? Hoeveel van Rex is daar dalk in jou? Binnelanders is maar net ’n SEPIE, maar REX die karakter, is “life and well” in baie mense se lewens. Chris, dit is darem maar uit die heup skiet vanoggend, sou sommige mense waarskynlik sê. Sekeres sal waarskynlik my probeer uithaal op sosiale media of dalk met ’n onderstebo duimpie op YOUTUBE wil reageer. Ja, vriende, ek sê dit dan maar weer: “REX, die karakter in Binnelanders, is “life and well” in baie mense se lewens. Hoekom sê ek dit?
Want ek sien baie seer op mense se gesigte.... Ek sien en beleef hulle seer wanneer woorde verhoudings verpletter, breek en vernietig. Soos ’n klein vuurtjie wat ’n groot bos aan die brand steek, so is ons tonge ook vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Leuens, skinder, kwaadpraat, kwetsende woorde, verkleinering, sarkasme, manipulering en vloek....Dalk kan julle nog ’n paar ander woorde by hierdie klompie byvoeg. Ek sien die skade wat veroorsaak word aan mense wat moet deurloop onder tonge sonder remme. Ek beleef die emosionele pyn by mense wanneer hierdie stukkie gereedskap, wat die Here vir ons gegee het dikwels totaal verkeerd gebruik word. Iets wat veronderstel is om die Here se Naam groot te maak, om Sy lof te besing, om te getuig, word ingespan om links en regs ernstige emosionele skade aan mense te berokken.
Jakobus waarsku teen die tong op 'n baie "kras" manier. In vers ses lees ons: “Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek.” Vers 8: “Maar geen mens kan die tong tem nie.”
- DIE TONG IS ’N DODELIKE WAPEN WANNEER DIT IN VERKEERDE HANDE BELAND
Kom ons dink vanoggend bietjie saam hieroor: “Wat veroorsaak spanning en kwaaivriendskap tussen mense?” Dit is bykans nooit 'n fisiese handeling nie. Dit is selde dat dit kom as gevolg van fisiese geweld, 'n ge – rond – stampery, ’n opstopper of twee of iets dergeliks. En indien wel, is dit ook 'n uitvloeisel van die tong. Hoe werk dit dan? Hoekom is hierdie klein orgaantjie in my en jou mond dan so gevaarlik?
Ek dink dis bloot maar omdat hierdie tong my en jou gedagtewêreld uitspreek. Dit wat ons dink kry woorde. Dit lyk vir my asof ons bedrieglike gedagtewêreld maar net 'n plek soek om te ontsnap, en dan is die tong gewillig om die boodskap oor te dra. Is dit nie waar dat die tong eerder dinge oordra wat seermaak, as dinge wat vreugde en plesier verskaf nie?
Ons het mos al gehoor van: "Ek kon my tong afbyt” en “Plaas ’n wag voor jou mond!” Dalk het ons nie net daarvan al gehoor nie, maar dit self ge-uiter. Een verkeerde woordjie kan verhoudinge vir baie jare vertroebel.
- WAT GAAN ONS HIERAAN DOEN?
Wat gaan ons hieraan doen? Kom ons her-besoek vers 9 – 12 weer ‘n slag: 9Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. 10Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. 11’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. 12’n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of ’n druiwestok vye nie. ’n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie!
Kom ons kyk na dit waarvoor die tong gemaak is:-
- Om die Here se lof te besing en eer aan Hom te bring.
- Om te getuig.
- Om ander te bemoedig
- Om ander te komplimenteer.
- Om die waarheid praat.
- Om mooi kwaliteite van ander mense te besing
- Om integriteit te bewys.
( Laat jou tong een van bogenoemde per dag uitspreek)
- SLOT
Om dit te doen het ons leiding nodig omrede geen mens die tong kan tem nie. Dit is nie binne ons eie vermoë om dit reg te kry nie. Ons kan hoeveel keer vir onsself sê: Dink voor jy praat. Plaas ‘n wag voor jou mond. Wat ons nodig het is ‘n Gees vervulde lewe. Kom ons stel ons tonge in God se diens - alles wat mooi en reg is, alles wat rein is, alles wat opbouend is - dit kan van die tong kom. Kom ons gebruik ons tonge om vir ander tot seën te wees, en bo alles, om die Here se Naam groot te maak. Weet jy wat gaan gebeur as jy vandag vir iemand sê "ek is lief vir jou met Jesus liefde"? of net "jy lyk mooi vandag" of "jy is 'n kosbare vriend". Mag ek vanoggend persoonlik raak? Wil jy nie gaan regmaak waar jou tong iewers verbrou het nie? Of wil jy nie gaan vergewe waar iemand jou skade met die tong berokken het nie? Gaan kyk en beleef wat dit aan jou doen! Gaan maak die verhoudinge met jou tong reg. Vra die Heilige Gees dat daar net vars water uit jou mond borrel. Wees soos ’n vyeboom wat die soetste vye aan mense voorsit. Wees iemand wat in die voetspore van Jesus leef.
AMEN