Eksodus 17:1 – 7
Datum: 20 September 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Morkel
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Gelowiges deur die eeue sou met die situasie van die Israeliete in Eks.17 kon identifiseer.
‘n Situasie waaruit daar menslik gesproke geen uitkoms was nie, ‘n situasie van lewe en dood. ‘n Situasie waarin die vraag “Is die Here met ons of nie?” nie maar net ‘n besprekings- of filosofiese vraag is nie, maar ‘n lewenskreet! Ek wil begin deur te sê: Ons moenie hierdie keer te hard op die Israeliete in Eks.17 wees nie. Mens dink so maklik: dit is so tipies die Israeliete! Die oomblik as dinge skeefloop, is hulle ontevrede, klae hulle, verlang hulle terug na die vleispotte van Egipte. Maar kom ons dink onsself in Israel se posisie in: die versengende woestynhitte, geen boom, geen skaduwee om teen die son te skuil nie, geen water nie, nie vir hulself nie, nie vir hul kinders nie, nie vir hul diere nie.
En vriende, dit is nie asof Israel uit eie vrye keuse in hierdie situasie bevind nie. Moses het hulle oortuig dat die God van Abraham, Isak en Jakob vir hulle omgee, dat hierdie God vir hulle ‘n nuwe toekoms wil gee. En nou, nou ontbreek dit hulle aan die mees basiese, water!
Ons moet begrip hê vir Israel se ontevredenheid, ons moet hul vraag na die teenwoordig-heid van die Here verstaan. Ek dink eintlik ons kan goed met Israel se situasie identifiseer.
Was ons nie almal al by die punt van moedeloosheid nie? Die punt van magteloosheid? Die punt waar ons onsself in dieselfde werklikheid bevind as Israel by Refidim nie, waar ons ook gevra het: “Is die Here by ons/met my of nie?” Selfs al was dit onuitgesproke, in ons gedagtes. Dit is maar net ander omstandighede wat ons by so ‘n punt bring. Noem maar op: die voortslepende pandemie, siekte, pyn, die agteruitgang van gesondheid, toekomsloos-heid, depressie, ‘n familie-aangeleentheid (‘n ongelukkige huwelik, ‘n egskeiding, ‘n kind wat probleme gee, die verlies van ‘n lewensmaat, die gebrek aan finansies). Dan vra ons “Is die Here by ons/my of nie?”
Skrifverklaarders wys daarop dat die woord wat in Eks.17 gebruik word om Israel se ontevredenheid teenoor Moses (en indirek teenoor God) uit te druk, nie die gewone woord, “murmureer” is nie. Die woord wat gebruik word, dui op ‘n regsgeding, dui dat die volk vir Moses en die Here aankla, in die beskuldigdebank plaas. Die woord hou verband met die word “aankla of kla” wat ons met die Klaagliedere en Klaagpsalms vereenselwig. Mens sou kon sê: Die volk vat God op grond van sy beloftes aan! Het jy ookal, nie uit wederstrewig-heid, of uit ongeloof, of uit hardkoppigheid nie, met vrae voor God gestaan, omdat jy, soos die Israeliete hier by Refidim, doodeenvoudig nie verstaan wat met jou aan die gebeur is nie, hoe die Here in jou situasie inskakel nie, hoe die beloftes van die Here nou werk nie. En in jou hart was dié eerlike vraag, gebore uit die onverstaanbare werklikheid wat jy in die gesig staar: Is die Here by my of nie? Wat my opval, is dat die Here nie vir die Israeliete kwaad was toe Moses die probleem voor die Here gebring het nie. Die Here straf nie die Israeliete nie. Die Here gee vir Moses die opdrag om vooruit te loop met die staf waarmee hy op die Nyl geslaan het en teen die rots by die berg Horeb te slaan. Horeb is net ‘n ander naam vir Sinai, die berg waar Israel die wet (Woord van God) sou ontvang. Die Here laat die wonder gebeur dat water uit klipharde rots kom, die Here voorsien water aan mens en dier.
Ek het nou gewonder hoe pas mens hierdie gedeelte toe? Sou mens kon sê: die Here voorsien in nood? Sou mens die tema kon maak: die Here voorsien altyd in nood - kyk dan hier! Maar die werlikheid is dat dit tog nie altyd in die gelowige se lewe uitwerk soos hier by Refidim nie. Ons kry nie altyd duidelike klinkklare antwoorde soos die Israeliete hier nie - altans nie ek nie. Die Here verander nie altyd alle teenspoed wat oor die gelowige se pad kom, in voorspoed nie. Om dit te wil doen, sou wees om die welvaartsgodsdiens te verkondig!
Ek wil eerder die vraag aan julle vra: Was die Here heeltyd by Israel of nie? Het die Here van Israel vergeet en toe Moses Hom aan sy kinders se penarie in die woestyn herinner, toe onthou God van hulle? Toe gryp God in? Toe gee God water aan mens en dier? Is die Here heeltyd by ons of nie? Is die Here by ons net as dit goedgaan met ons, maar nie as dit sleg gaan nie? Ek wil die volgende opmerking maak: In tye van voorspoed en gesondheid en vooruitgang, vra ons selde “Is die Here by ons of nie”. Dan neem ons aan die Here is by ons, kyk hoe goed gaan dit dan met ons! Die omgekeerde is ook waar. As ons swaar kry, as ons nie verstaan wat met ons aan die gebeur is nie, vra ons baie maklik: Waar is die Here dan nou? Is die Here by my of nie? Sien julle wat ons in werklikheid doen? Ons maak die Here se teenwoordigheid afhanklik van hoe dit met ons gaan! Ons koppel die Here se teenwoordigheid of afwesigheid aan ons situasie. Ons maak ons voor- of teenspoed die bewyse of die tekens van God se teenwoordigheid of afwesigheid. En dit kan tog nie, vriende!
Die punt is: Die Here is altyd by sy kinders. Die Here is by sy kinders ook in hul dors, ook as hul smag na water, ook as hulle roep ”Is die Here by ons of nie?” Daarom wil ek vanoggend vir jou sê: Die Here is by jou. Die Here is altyd by jou. Die Here is ook by jou in jou moeilike tye, jou Refidim tye. In die N.T. in Mat.28:20 sê die Here: En onthou, Ek is by julle, al die dae, tot die voleinding van die wêreld.
Ek sluit af. Dit is nie asof alles na hierdie gebeure by Refidim vir Israel voor die wind gegaan het nie. Israel sou weer in situasies kom waarin hulle vrae gevra het, gewonder het oor die teenwoordigheid van God, getwyfel het aan God se teenwoordigheid. Situasies waarin hulle moes leer, weer moes leer om God te vertrou, om te glo, om vas te hou aan die beloftes van God. En so ook ek en jy. Ook ons sal weer op ons lewensreis - woestynreis - in situasies kom waar ons vra: Is die Here by ons, my of nie? Situasies waar ons geloof uitgedaag word, waar ons opnuut ons vertroue in God moet stel. Waarin ons moet leer om te vertrou en te bly vertrou. My gebed is dat, wat ookal die uitkomste van ons Refidim ervarings vorentoe is, ons sal bly vashou aan die altyd-teenwoordige-God.
Is die Here by ons of nie? Natuurlik is die Here by ons. Altyd. Nou, in hierdie oomblik waar jy sit en luister en tot in ewigheid.
Amen