1 Kor 15:12 - 20

Datum: 13 Februarie 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

  1. INLEIDING

Vir ons as Christene het Sondag ’n baie besondere betekenis. Elke Sondag is ’n herinnering aan die opstanding van Jesus. Daarom vier ons elke Sondag opstanding- Sondag. In die vroeë kerk het Christene mekaar altyd met ’n tradisionele paas-groet gegroet. Die dominee sou sê: “Die Here het opgestaan”, waarna ’n lidmaat of die gemeente daarop sou antwoord: “ Die Here het waarlik opgestaan!”

So lees ek van die dominee wat ’n lidmaat met die opstandingsgroet gegroet het. “Die Here het opgestaan”. Maar in stede daarvan dat die lidmaat met, “die Here het waarlik opgestaan”, teruggegroet het, het hy met ’n blymoedige stem, "Yupper-dee-doodle!", uitgeroep.

Vir baie mense mag dit as oneerbiedig klink, tog verstaan ek die lidmaat se uitbundige reaksie. Vir hierdie lidmaat is Jesus se opstanding uit die dood lewensveranderend en roerend. God se meesterplan in Jesus se opstanding uit die dood, oorweldig hierdie lidmaat, en sy reaksie is gevul met blydskap en onuitputlike vreugde, propvol dankbaarheid. Hierdie lidmaat vier Jesus se opstanding want hy besef watter implikasies dit vir hom inhou. Daarom "Yupper-dee-doodle!" hy.

  1. HIERDIE LIDMAAT GLO DAT HY NIE MEER IN SONDE LEEF NIE.

Hierdie lidmaat dra nie begrafnisklere nie, want Jesus lewe! Jesus se opstanding uit die dood het die dood se angel getrek. Dit laat my dink aan die pa wat saam met sy seun op ’n pragtige sonskyndag in die motor gery het. Die vensters van die motor was oop sodat hulle die vars lug kon inasem en dit teen hulle lywe kon ervaar. Skielik het daar ’n by, by een van die vensters ingevlieg en onmiddellik het vreugde in angs verander. Die seun was amper histeries omrede hy allergies vir bysteek was. Die by het op die paneelbord gaan sit en die pa het, in een vinnige handeling, die by met sy linkerhand gegryp en by die venster uitgegooi. Toe die pa sy linkerhand oopmaak was die by se angel sigbaar in die palm van sy hand. “Word rustig, ek het die angel in my hand. Jy is nou veilig”  Dit is wat jare gelede gebeur het en waaroor daar ooggetuienisse was en  so is dit in die Bybel aangeteken. Jesus het die dood se angel getrek en lewendig aan baie mense verskyn en daarom skreeu die lidmaat met ’n uitbundige hart, "Yupper-dee-doodle!" Hy skreeu dit want hy weet dat in Jesus se opstanding die sonde geen vastrapplek in sy lewe het nie.

Kom ons sê dit maar vir mekaar vanoggend. Baie Christene leef asof Jesus dood is. Baie Christene besef nie die implikasies wat Jesus se opstanding vir ons as Christene inhou nie. Daarom is daar in baie Christene ’n doodsheid merkbaar in hul geloofslewe. Uitbundige blydskap en dankbare harte is dun gesaai. Nee, vriende, kom ons lig daardie kenne en maak die rûe reguit want die dood se angel is getrek.  "Yupper-dee-doodle!" Die Here het waarlik opgestaan! En dit bring my by die tweede punt wat my elke dag geluksalig laat.

 

 

  1. MET JESUS SE OPSTANDING UIT DIE DOOD IS DIE ONTSLAPENES NIE VERLORE NIE.

Dink wat sou gebeur as Jesus nie sy vuis vir die dood gewys het nie. Wat sou gebeur indien Jesus nie die dood se angel getrek het nie. Dan was ons geliefdes wat ons vooruitgegaan het ook nou verlore. Hoe verskriklik sou dit nie gewees nie. Ons sou ’n dubbele smart by ’n graf beleef het! Nee vriende, Jesus se opstanding uit die dood waarborg elke Christen wie ons vooruitgegaan het se opstanding.

My en jou opstanding is ook in Jesus gewaarborg. Dit vul my hart, my lewe met onbeskryflike dankbaarheid en inspirasie! Vir ons as Jesus se kinders, is die dood ’n deurgang, dit is ons instapkaartjie na die hemel.  "Yupper-dee-doodle!" Die Here het waarlik opgestaan.

Laastens kan ek nèt sê dat hierdie volgende meesterlike punt my na my asem laat snak.

  1. DAAR IS ’N AANSKOULIKE EN ASEMROWENDE UITSIG OP TOEKOMSTIGE LEWE.

Leef ons ’n wenstreep lewe?

Leef ons voluit enduit op pad na ons hemelse tuiste? Dit laat my dink aan die toneelstuk, Lazarus het gelag,  van Eugene O'Neill wat hy  in 1925 geskryf het.

Die verhaal bevat karakters en gebeure na aanleiding van die opwekking van Lasarus van Betanië uit die dood deur Jesus. Aangesien Lasarus die eerste man is wat terugkom uit die doderyk, vra sy sussies, Maria en Martha, vir hom die vraag waarmee ons ook al baie geworstel het. “Hoe lyk dit anderkant die graf? Vertel ons. Watter soort bestaan lê anderkant ons fisiese dood?”

Dan lag Lasarus saggies en sê: “Daar is net lewe en God se ewige gelag.” Hoe meer Lasarus lag, hoe jonger en sterker word hy. Wat vir Christene voorlê is ewige verandering en eindelose groei. Daar is net lewe en niks anders as lewe nie. Die graf is nie wat julle dink dit is nie. Die graf is letterlik leeg, ’n deuropening wat geensins vernietigend is nie.

Ja, vriende daar is ’n indrukwekkende uitsig op toekomstige lewe en ons moet in ons dankbaarheid uitbundig lag en lewe, want wat ons is, is net genade.

En hiermee wil ek afsluit:

  1. SLOT

Ek het die afgelope twee jaar meer begrafnisse gehou as troues. Volgende Donderdag is dit weer sulke tyd wanneer ons hulde bring aan Frans Botes wat deurtrek was met die kanker.

En elke keer wanneer ek by lidmate gaan sit, het al die volgende vrae dieselfde antwoord:

Wat is dit wat ’n weduwee moed gee terwyl sy haar man saggies op sy voorkop soen, totsiens sê en wegstap?

 

Wat is die antwoord wanneer ’n gesin die tragiese nuus ontvang van ’n broer wat dood gevind is.

 

Wat is die finale antwoord vir pyn, verlies, rou-smart, terminale siekte en ‘n skielike ramp? Noem maar op.

Die antwoord is : Opstanding.  

En as jy vanoggend vir my vra: “Is dit regtig waar?”

Dan wil ek vanoggend onbeskaamd daarop antwoord:

Absoluut! Yupper-dee-doodle!

 

Ons leef nie meer in sonde nie.

Die ontslapenes is nie verlore nie.

Daar is ’n asemrowende uitsig op toekomstige lewe. ...

 

Liturg: Want, die Here het opgestaan!

Gemeente: Die Here het waarlik opgestaan!

AMEN