Jeremia 32: 1-3a, 14-27

Datum: 25 September 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

INLEIDING

Almal smag daarna om ’n plekke van hul eie te hê. Tans is daar winskopies wat deur ons opgeraap kan word. Twee en drie - slaapkamer woonstelle is te koop in ’n gesogte deel van die middestad. Daar is selfs ’n parkie met swaaie en ’n “jungle-Jim” waar die kinders hulself kan besig hou. Goeie uitsig en naby die skole en die biblioteek. Nabygeleë  kerke en ’n grieflike winkelsentrum wat loopafstand van die woonstelblok is, is ’n pluspunt in ons soeke na eiendom in die stadskom.

 

In die hoofstad Kiev, in Oekraïne, kan jy hierdie winskopie aanskaf. Wie sal moeite doen om op hierdie advertensie ag te slaan. Dit sal malligheid wees om jou geld daar te belê. Die land is in ’n konflik met Rusland gewikkel. Gerugte dat Rusland sy magte wil vermeerder doen die rondte. Absolute malligheid.

 

Daar is drie dinge waarna gekyk moet word wanneer eiendom aangeskaf word. Ligging, ligging, ligging. En dit is nie ek wat met slimpraatjies besig is nie. Dit is wat mense altyd sê wanneer daar na eiendom gesoek word. Ligging, ligging en ligging.

 

Sal jy op hierdie oomblik eiendom in die Oekraïne vir jou aanskaf? Ek twyfel of enigeen so ’n keuse sal maak. Dit maak nie sin nie. Maar indien daar ’n persoon is wat so ’n malligheid wil aanpak sal ons hom of haar waarskynlik uitlag. Ons sal so ’n persoon beskou as iemand wat nie dink voor hy of sy doen nie. Ons sal sê daar is ’n ding soos gesonde verstand en dat hierdie persoon vêr agter in die ry gestaan het toe dit uitgedeel is.

 

Abraham het ook so ’n vreemde en ongewone ding aangevang. Hy verlaat sy vaderland en al die dinge waarmee hy vertroud is en gaan na ‘n land wat God aan hom beloof het.

 

Onthou julle vir Moses? Moses gee sy rustige lewe prys en gaan terug na Egipte waar hy vir moord gesoek word. Kan mens so dom wees? Hy gaan terug sodat hy die volk uit Egipte deur die woestyn kan uitlei na die beloofde land. ’n Land wat hy nooit self gesien het nie.

 

Dawid die gelukkige skaapwagtertjie gee sy eenvoudige lewe prys om koning van Israel te word in die wete dat hy meer tyd op die oorlogsfront as in die paleis gaan deurbring.

 

Dink aan Amos. Amos wat ’n idilliese lewe as plaasboer prysgee om as profeet in die Here se span te speel waar hy oordeel oor Israel moet uitspreek.

Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes los alles net so en volg vir Jesus. ’n Keuse wat hulle lewens drasties sou verander.

En dan het ek nog nie eers na Noag se Ark-bouery verwys nie nie.

Ek vermoed dat mense gedink het dat hierdie mense van lotjie getik is. Mense wat dit sien gebeur het, sou verseker kommentaar gelewer het. Hulle sou vrae vra soos: Hoekom doen hulle dit? Hoekom sal hulle hul lewens in gevaar stel deur sulke keuses te maak? Wanneer mense sulke ondeurdagte mallighede aanvang kan jy verwag dat mense sal wonder of hulle van lotjie getik is en dat sulke mense rigtingloos is. Maar van al hierdie sogenaamde mal dinge wat mense aangevang het en waarvan ons in die Bybel lees, is Jeremia se storie waarskynlik die een wat die meeste rondom die braaivleisvure vertel was.

WAT HET JEREMIA GEDOEN?

Midde in die krisis wat Juda beleef doen Jeremia iets wat die oë laat rek. Die Babiloniese Leër is besig met hul aanmars na Jerusalem. Die dood hang in die lug. Vrees slaan tent op in die Israeliete se voortuine. Nebukadnesar van Babilonië is nie besig met ’n uitreik om kospakkies te versprei nie. Die Babiloniërs is in Israel vir ’n ander besigheid. Juda gaan plat met die aarde gevee word. Die Babiloniërs se magte versamel hulleself op ’n stuk grond nie vêr van Jerusalem af nie. Finale orders word uitgereik en die aanvalsmag is gereed vir sake waarmee hulle baie goed vertroud is. D- Dag is hier!

Dit alles gebeur terwyl Jeremia in huisarres binne die koningshuis is. Jeremia sê dinge wat die koning nie wil hoor nie. Jeremia praat van ballingskap en dinge wat die koning en sy raadgewers gespanne maak. Al vir lank waarsku Jeremia die koning en sy mense dat hulle gestraf gaan word. Daarom sluit hulle vir Jeremia op.  Agter slot en grendel waar hy stilgehou kan word. En dit is hier, in hierdie somber en neerdrukkende tyd wat Jeremia besluit om eiendom te koop. Terwyl almal in die paleis rondhardloop en angstig die horison dophou, koop Jeremia grond. Die stuk grond waarop die Babiloniese Weermag sy magte versamel het. Eie aan die Ou Nabye-Oosterse tradisies en gebruike word die stuk grond eerste aan Jeremia aangebied omrede hy eerste reg daarop het. Ek dink nie dat dit ’n gewillige koper en verkoper was nie. Dit is eerder ’n dringende verkoper en ’n roekelose koper.

Ek vermoed dat daar baie mense op daardie stadium in die land nie in eiendom wou belê nie. Dit is ’n slegte tyd om te koop. ’n Babiloniese strooptog het beteken dat mense ook van hulle eiendom en grond vervreemd word. Hulle vat alles. Niks maar niks bly oor nie. Alles word gestroop. Voorwaar ’n slegte tyd om jou eiendoms- portefeulje uit te brei.

Daar was geen hoop nie en Jerusalem sit in sak en as. Niemand het vir hulle aftrede beplan nie. Om die waarheid te sê daar was nie eers vir die volgende week beplan nie. Niemand het geweet wat die volgende dag inhou nie. Almal se lewens was op die spel geplaas.

Maar Jeremia koop grond. En vriende dit wat Jeremia gedoen het, was baie belangrik. Hy koop grond om te demonstreer dat daar toekomshoop is vir God se mense.  Alhoewel hy vernietiging en straf voorspel, selfs terwyl die vyand se lawaai buite die stadsmure gehoor word, is daar steeds hoop vir God se mense. Die toekoms, alhoewel dit donker is en die duisternis die mense oorweldig, is God steeds teenwoordig. Deur die aankoop van daardie grond wys Jeremia dat hy sy vertroue in die Here stel. Jeremia weet dat die toekoms van God se mense nie afhanklik is van nasionale veiligheid of sosiale en finansiële sekuriteit nie. Ons toekoms is afhanklik van die lewende almagtige God. En omrede die toekoms aan die Here behoort , sal daar altyd rede tot hoop wees. ALTYD!

EN WAT VAN ONS?

Ons, hier aan die Suidpunt van Afrika. Wat van ons? My laaste Padkos boodskap het oor lig gehandel. Ons wat lig moet wees in hierdie donker land van ons. Ek vermoed dat ongelowiges soms hul koppe skud en dink dat ons mal dinge aanvang in die Naam van Here. Ek vermoed dat sommige mense dink dat ons beter dinge met ons tyd en geld kan doen. Hoekom wil ons sendelinge onderhou? Hoekom neem iemand kinders in pleegsorg nadat hulle eie kinders nou groot is en die huis verlaat het? Hoekom besluit twee gelowiges om hulle oor ‘n student te ontferm en gee hulle vir die student gratis huisvesting? Hoekom reik julle uit na Koelenhof gemeente? Waarom wil julle Huis De Kuilen ondersteun? Hierdie koskas projek is sinneloos. Onnodige tyd en geld word vermors. Hoekom mors julle tyd in die Klere en Vere projek? Waarom maak julle sop en mors geld en tyd op hierdie onbenullige mense? Hoekom mors julle tyd en geld op ’n Moslem-vrou en doop haar nadat sy bekeer is?Hoekom maak jy vriende met daardie persoon wat deur die mense in die buurt verwerp word? Jy gaan jou aansien daardeur verloor.Hoekom doen julle al hierdie dinge terwyl die land brand.

Juis daarom!

God se kinders word geroep om dinge te doen wat dalk na malligheid kan lyk. Maar ons doen hierdie dinge omrede ons hoop in Jesus Christus gewortel is. Ons doen hierdie dinge want ons is geplant langs waterstrome wat lewe gee.  Ons hoop is nie gewortel in die Suid Afrikaanse regering se leë beloftes en in mense wat heeldag op hulle hande sit en niks vir hierdie land beteken nie. Ons hoop is nie gewortel in die Suid Afrikaanse aandelebeurs nie. Ons hoop is nie gewortel in die oorlewing van Eskom nie. Ons hoop is nie gewortel in ons gesondheid en die sukses van ons kinders nie. Ons hoop is gewortel in Jesus Christus alleen. Die Here is teenwoordig in ons hede en die Here sal teenwoordig wees in ons toekoms.

 

Dit maak nie saak wat die lewe na ons kant toe gooi nie. Die Here sal deel wees van ons toekoms. Hoekom sê ek dit? Vers 27b. Want die Here kyk jou vanoggend in die oë en Hy praat met jou hart wanneer Hy in vers 27 vir jou vra: Is iets vir My onmoontlik?

Dit is die rede waarom Jeremia grond gekoop het terwyl die Babiloniese Weermag in sy nek blaas en buite die mure van Jerusalem lawaai. En dit is hoekom ons God se roepstem kan volg terwyl dit in baie mense se oë verregaande en dom mag lyk.

Wat ook al in hierdie land na ons kant toe gegooi word, ONS KAN DIT HANTEER want niks is vir die Here onmoontlik nie. Wat ook al besig is om in jou persoonlike lewe te gebeur. Jy is nie alleen nie. Jy is in die palm van Sy hand. Niks is vir die Here onmoontlik nie.

Wat ook al ons voor geroep word om te doen, ons kan dit doen, want God is op hierdie oomblik aan die werk in ons lewens en Hy sal by ons wees in die toekoms. Niks is vir die Here onmoontlik nie. Ons hoop is gewortel in Jesus Christus. Net dit alleen gee ons selfvertroue om elke nuwe dag met vreugde te hanteer en om God se roepstem te volg na onbekende en skrikwekkende plekke. Ons belê in hoop. Wat ’n goeie koop is dit nie?

Dit herinner aan die spreekwoord wat aan Martin Luther toegedig word: “Even if I knew that tomorrow the world would go to pieces, I would still plant my apple tree.”

Want NIKS is vir die Here onmoontlik nie.

AMEN