Eksodus 20:1-21

Datum: 4 Oktober 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

 INLEIDING

Die wet van die Here is nie ’n leer waarmee ongeredde mense hemelwaarts probeer klim nie. Dis is veel eerder, ’n leefwyse in dankbaarheid, as blye reaksie op die verlossing, as antwoord om aan die gebooie gehoorsaam te wees omdat ons tot hiertoe gedra is en van die dood gered is. Hierdie leefwyse speel uit in die kerk van die kleine. Binne die huisgesin. Daarom wil ek vanoggend vra: Is ons deelnemers aan God se gebooie? Of is ons net hoorders.

Vanoggend gaan ons stilstaan by die vyfde gebod. Baie mense praat van die brug-gebod. Want sien, die eerste vier gebooie handel oor ons verhouding met God. Die oorblywende ses handel oor die verhouding tussen mense.

Die eerste gebod binne hierdie tweede gedeelte hou verband met die verhouding binne ’n gesin wat voorstel dat indien mense nie leer om binne gesinsverband saam te leef nie, dit moeilik sal wees om elders met mense oor die weg te kom. Die vyfde gebod sê vir ons wat binne gesinsverband moet plaasvind.

Dit laat my dink aan die man aan boord van ’n vliegtuig wat met die inklimslag opgemerk het dat die vlieënier ’n vrou is. Nie dat dit hom enigsins ongemaklik gemaak het nie. Agter hom het hy mense hoor praat van die vroulike vlieënier en hy het gou besef dat dit familie van haar moet wees. Vanuit die gesprek kon afgelei word dat dit haar eerste vlug as kaptein in bevel was.  Die vliegtuig het stadig tot by die drumpel van die aanloopbaan beweeg en toe word daardie kragtige turbines volkrag oopgemaak wat jou teen die sitplek vasdruk. Toe die vliegtuig haar neus van die aanloopbaan af lig was daar ’n dawerende applous en handeklap agter in die vliegtuig en toe basuin ’n seuntjie die volgende uit: “Dis my mamma wat hierdie groot vliegtuig vlieg!”

Spontaan was hierdie seuntjie besig om te doen waartoe ons opgeroep word in die vyfde gebod. 12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee. Eer beteken om agting te hê, om eerbied te betoon en om te respekteer. In my verstaan van die vyfde gebod wil ek dit soos volg opsom: Jy sal jou ma en pa na waarde skat en koester. Daarom is dit belangrik om vanoggend die vyfde gebod op die tafel te sit en in die besonder praat ek met pappas en mammas, oupas en oumas en plaasvervangende ouers en voogde. Want ons is tans besig om ons kinders te vorm op ’n wyse hoe hulle ons eendag gaan behandel. Kinders sien hoe ons, ons ouers hanteer. En hul kan sien of ons dit regkry of nie. Hoe ons die liefde aan ons ouers modelleer kan bepaal wat ons as ouers in ons later jare van ons kinders gaan ontvang.

Onlangs lees ek van die oupa wat by die seun en skoondogter gaan woon het. Parkinson se siekte het die oorhand oor die oupa begin kry en die skoondogter kon dit nie meer vat nie. Daar is toe besluit dat oupa eenkant alleen in die opwas gedeelte van die kombuis moes eet. Een aand het hy per ongeluk die bord met kos laat val. Die skoondogter was hewig ontsteld en het dit verloor: “As jy jou soos ’n vark wil gedra, sal ons jou soos ’n vark behandel”. Toe bou hulle vir oupa ’n houtbak of trog waaruit hy moes eet.

Hulle seuntjie het stilweg alles gadegeslaan en op ’n dag was hy in die motorhuis in sy eenvoud besig met ’n paar plankies. “Wat doen jy boeta?”: Het sy pa gevra: “Ek bou ’n houtbak waarin ek vir pappa en mamma gaan kos gee wanneer ek groot is. Ons kinders word van kleins af geleer hoe om ouers te behandel wanneer ouers oud word. Die vyfde gebod is uiters belangrik en tydig want respek teenoor ouer mense en in die besonder ouers en plaasvervangende ouers en voogde is maar dungesaai in vandag se lewe.

Hierdie respek word in huisgesinne aangeleer. Dit is nie die kerk of die dominee se werk om hierdie basiese vaardighede vir kinders aan te leer nie. Daarom, nou, meer as ooit tevore, moet ons die vyfde gebod hoor, respekteer en modelleer.

Kinders moet geleer word dat ouers vier dinge toekom in die lewe. Maar dit is ons as ouers se verbondsverantwoordelikheid om hierdie vier dinge vir ons kinders te leer en te modelleer.  Meet jou gerus aan elke kategorie en besluit self hoe jy vanoggend gevaar het.

  1. OM JOU OUERS TE EER BETEKEN DAT ONS DANKBAARHEID AAN HULLE VERSKULDIG IS

Hulle geskenk aan ons is die geskenk van lewe. Hoekom sê ek dit? Want elkeen wat vanoggend na hierdie video kyk of die erediens fisies bywoon is nie deel van die 200 000 aborsies wat jaarliks in SA plaasvind nie.

Maak ’n punt daarvan om dinge te sê soos: Dankie, Pa vir al die lekker dinge wat pa met my gedeel het.

Of Ma: Ek onthou die dag toe ek die rugbybal deur die bure se sitkamervenster geskop het en gaan wegkruip het. Ma het my kom haal en toe stap ons saam oor na die bure se huis. Ek moes om verskoning vra en ’n maand se sakgeld was daarmee heen. Dankie, dat ek daar kon leer wat verantwoordelikheid beteken en dat mens bereid moet wees om die gevolge van jou dade te dra.

Dankie, kos nie iets nie. Leer jou kinders wat dankbaarheid beteken. Modelleer dit vir hulle. Laat hulle in dankbaarheid leef.

  1. OM JOU OUERS TE EER BETEKEN DAT JY HULLE RESPEKTEER

Respek sluit gehoorsaamheid, eerbied en hoflikheid in. Iets eenvoudig soos “Ja, pa en nee ma vertel die verhaal van kinders wat hulle ouers respekteer. Maar onthou, die ouer persoon bepaal die verhouding. Ouers wat hul kinders regverdig en met integriteit dissiplineer wen die respek-prys. Kom ons wees eerlik met mekaar, dis moeilik om iemand te respekteer wat sonder beginsels en innerlike waardes leef. Ouers onthou: “You must not just talk the talk, parents must walk the walk.”

 OM JOU OUERS TE EER BETEKEN DAT ONS AAN HULLE ONDERSTEUNING SAL GEE – EMOSIONEEL SOWEL AS FINANSIEËL  

Luister gerus na hierdie woorde deur Paulus: 1Tim 5:3Versorg die weduwees wat werklik alleen agtergelaat is. 4Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet die kinders leer om as gelowiges allereers hulle verpligtinge teenoor hulle eie familie na te kom en so hulle ouers en grootouers iets te vergoed. Dit is volgens die wil van God.

Vandag en in die besonder binne hierdie Grendeltyd word ons gedwing om die begroting-gespe stywer te trek. Moeilike besluite moet gemaak word. Dalk is daar mense wat moet besluit of ’n pa of ’n ma in ’n Aftreeoord geplaas moet word. Dalk in ’n Sorgeenheid. Of dalk moet ’n Versorger kom inbly om na jou ouers se versorging om te sien. Somtyds moet mense besluit watter luukshede prysgegee moet word om by te dra tot die versorging van ons ouers. Soms moet mense moeilike keuses maak en besluit watter noodsaaklikhede prysgegee moet word sodat ons kan bydra tot die versorging van ons ouers. Die sleutel tot hierdie besluite wat gemaak moet word, word in een woordjie saamgevat. LIEFDE. Ons besluite moet deur liefde gemotiveer en gedring word. Dalk moet ons wyse besluite maak deur die volgende vraag eers te antwoord: As ek in my ouers se skoene was, wat sou ek graag wou hê moet my kinders vir my doen?

  1. OM JOU OUERS TE EER BETEKEN DAT ONS AANDAG AAN HULLE SAL GEE Dit beteken verdraagsaamheid en om na hulle te luister. Die grootste vereiste hier is tyd, iets waaraan altyd ’n tekort is.

Wanneer ’n ma vir my vertel dat haar kind alle kontak met haar verbreek het, is my hart saam met haar seer. Daar is sommige bejaardes wat emosioneel verkrummel as gevolg van min aandag deur hulle, wie eintlik die liefste vir hulle moet wees.

Dus, wat beteken dit om jou vader en jou moeder of ouer plaasvervangers te eer? Dit beteken om dankbaarheid, respek, ondersteuning en aandag te betoon. En dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

 SLOT

Ek sluit af en neem jou terug na die 1992 Olimpiese Spele. Nie oor die rekords wat daar gespat het nie, maar oor ’n mislukte poging om die 400m vir mans te wen. Deric Redmond van Brittanje was die 400m gouemedalje kandidaat gewees maar dinge het baie skeef geloop vir hom. Midde-in hierdie wedloop het Redmond ’n dyspier geskeur. Sy gesig het vertrek van die pyn. Maar hy wou klaarmaak en het hinke-pink na die eindstreep gesukkel.

Skielik was daar iemand langs hom. Iemand wat hom vasgehou en ondersteun het, tot by die eindstreep. Dit was sy pa wat oor die tralies gespring en na sy seun gehardloop het. Saam het hulle oor die eindstreep gestap. ’n Verslaggewer het later aan sy pa gevra hoekom hy dit gedoen het: Sy pa se antwoord was: Ons het saam begin, ons gaan saam klaarmaak.”

As jy gelukkig genoeg is om ouers te hê waarteen jy op jou lewenspad kon leun, wil ek vra, maak seker dat hulle ook iemand het om teen te leun. Maak seker dat wanneer julle ouers se aardse lewe eindig, dit onderskryf sal wees met julle eer en liefde.

Wat kies jy vir jou kinders: Moet hulle hoorders of deelnemers wees?

AMEN