Markus 1:29 – 39
Datum: 7 Februarie 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Morkel
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Julle het waarskynlik ook die afgelope tyd videos op sosiale media gesien van die reën wat in die dorre gebiede in die Noord-Kaap en Namibië geval het. Dit is sulke goeie nuus! Dit is wonderlik om die water so te sien val en mense so bly te sien! Een van die videos wys hoe ‘n rivierloop wat vir jare geen water gehad het nie, aan die afkom is. Ek kan my verkyk aan die voorpunt so ‘n rivierstroom. Die water vind sy weg, vloei deur klipskeure, stort oor rotse en vorm damme in droë vleie. Die water laat hom deur niks stuit nie, hy neem sy loop, wat ookal in sy pad kom.
Toe ek hierdie verse in Markus 1 lees, het dié beeld van ‘n rivierloop wat na reën afkom, in my gedagtes opgekom. Markus vertel met sy vinnigvloeiende styl hoe Jesus die Koninkryk van God op die geestelike droë en dorre aarde kom vestig het. Dit waarvan Hannes ons verlede week vertel het, “Die tyd het aangebreek, en die Koninkryk van God het naby gekom.” Die eerste reënbui van die Koninkryk van God op aarde, was in die dorpie Kapernaum. V. 21 sê Jesus het reguit na die sinagoge gegaan en daar begin leer. Vandaar het die stroom van die Koninkryk van God al sterker gevloei. In v. 38 sê Jesus vir die dissipels hulle moet na die naby geleë dorpies gaan sodat Hy daar ook kan preek. En in v. 39 staan Jesus het dwarsdeur Galilea gegaan en in die sinagoges gepreek. Dit is die een kant van die Koninkryk van God waarna ons vanogend gaan kyk, die verkondiging.
Oral waar Jesus gekom het, het Hy die Boodskap van die Koninkryk van God verkondig, gepreek, geleer en mense tot bekering geroep. En mense het tot geloof, tot bekering gekom. Mense is gered, is verlos van sonde, is deur hierdie golf van die Koninkryk van God meegesleur. Mense het deel van die Koninkryk van God geword. Soos ‘n rivier wat onstuitbaar vloei, het die Koninkryk van God ook vir ons hier in die Suidpunt van Afrika bereik! En so is ons oor eeue heen, oor kontinente heen, oor generasies heen, deel van die Koninkryk van God gemaak. Ons kan alleen maar, soos Hannes verlede week gesê het, dankbaar wees dat die Lewende Water ook vir ons bereik het, dankbaar wees dat ons opgeneem is, deel geword het van die Koninkryk van God.
‘n Laaste opmerking oor die verkondigings-aspek van die Konnkryk van God. Die Koninkryk van God het nie plek vir passasiers nie. Met ons deelword van die Koninkryk van God, het ons draers van die Boodskap van die Koninkryk van God geword. Ons is geroep om die vloei van die Koninkryk verder te neem, voort te dra. Ons is geroep om in die voetspoor van Jesus en na die voorbeeld van die kerk van alle tye, te getuig, te verkondig, te vertel. Só
vloei die Koninkryk van God voort! Ook in hierdie pandemie-tyd bly ons roeping om verkondigers van die Boodskap van die Koninkryk van God te wees. As ons dan nie so geredelik by ander kan uitkom nie, kan ons dit doen deur watsaps, sms’se, telefoonoproepe of stemboodskappe. So neem ons die die stroom van die Koninkryk van God verder.
Daar is natuurlik ‘n tweede kant van die Koninkryk van God. In v.21 dryf Jesus ‘n bose gees uit ‘n man. Daarna maak Jesus Simon Petrus se skoonma wat ‘n hoë koors gehad het, gesond. Sommige vertalings sê sy was sterwend of dodelik siek. Markus gebruik dieselfde woord hier wat hy gebruik as hy later in die Evangelie van opwekkings uit die dood vertel. Ons sien dus reeds hier reeds Jesus se mag ook oor die dood. In die latere verse van ons gelese gedeelte het ons gehoor dat Jesus baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedryf het. En dat Jesus dwarsdeur Galilea gepreek en bose geeste uitgedryf het. Die Koninkryk van God stuit nie voor siekte, die dood en die mag van die Bose nie. Die Koninkryk van God vloei ook in hierdie opsig voort, al sterker, al breër en al verder!
Dalk wil jy vra: Hoekom sien ons nie vandag hierdie dinge in die kerk gebeur nie? Is ons skuldig aan wat die Woord omtrent die Koninkryk van God leer? Die antwoord op hierdie vrae is nie maklik nie. Ons moet onthou ons het hier te make met die vestiging van die Koninkryk van God op aarde. Die genesingswonders en die uitdrywing van bose geeste is tekens van hierdie Koninkryk van God. Hierdie tekens het mense se aandag op Jesus gevestig. Mense het Jesus se wonderwerke sien gebeur, gesien hoedat hulle wat siek was, gesond word. Mense het gesien hoedat dié wat van duiwels besete was, bevry is. En hulle het besef, “Hier is iets buitengewoons aan die gebeur! Dit wat ons sien is nie menslik moontlik nie, dit is die werk van God. Dit is God wat hier aan die werk is!” So het hulle besef Jesus moet die Gestuurde van God wees - die Messias. Die Koninkryk van God is hier!
Dit beteken natuurlik nie dat wonderwerke beperk is tot die Nuwe Testamentiese tyd nie. Die Here doen vandag steeds wonderwerke. Die gesag van God is vandag steeds bo enige ander mag in die skepping. Die Koninkryk van God is vandag steeds groter en sterker as enige aardse koninkryk. Ons moet juis in hierdie pandemie-tyd bly vashou aan dit wat Markus ons hier vertel. Ons moet bly glo die Here verhoor gebede, maak gesond, doen wonders, gee uitkoms in nood.
Ek wil ‘n laaste opmerking maak oor Jesus se genesingswonders en uitdrywing van bose geeste. Jesus wys met die wonderwerke dat die Koninkryk van God nie slegs bestaan uit die red van siele vir die ewige lewe nie. Die Koninkryk van God het ook alles te make met ons
lewe hier en nou op die aarde. Die Koninkryk van God raak die totale mens - liggaam en gees. Ons laat dus ook die Koninkryk van God kom as ons iets vir ons medemens doen. Ons dra by tot voortvloei van die Koninkryk van God op aarde deur die gesindheid wat ons teenoor ander mense het, deur ons dade van liefde teenoor ons medemens. Die Koninkryk van God breek telkens deur as ons mense bemoedig, mense voed of kos gee, mense in moeilike tye ondersteun, eensames besoek, na siekes omsien, mense finansieël help as ons kan en mense se nood verlig. Dit is alles Koninkrykswerk!
Dit is merkwaardig dat Jesus vroegmore, toe dit nog nag was, tot die Vader gaan bid het. Jesus stel gebedskontak met sy Vader bo ‘n langer nagrus. Jesus vind krag in die teenwoordigheid van sy Vader. Jesus bedien vanuit sy verhouding, sy verbintenis met die Vader. As sy dissipels Hom vind, sê Hy dadelik hulle moet in die nabygeleë dorpe die Koninkryk van God gaan verkondig! As ons wil slaag in ons roeping, in die voortneem/-vloei van die Koninkryk van God in die samelewing, sal ons ons vertrekpunt - soos Jesus- moet neem in ons verbintenis met die Here, in ons afhanklikheid van die Here, in gebed en in gehoorsaamheid aan die Here.
AMEN