Matteus 26:36-46
Datum: 30 Maart 2018
Prediker: Hannes Burger
Het jy al ooit ervaar dat die angs jou keel toedruk, dat jy voel asof jy nie asem kry nie? Dat dit voel of iemand op jou borskas sit en jy net moet uit, net iewers heen? Ek het al baie gewonder of dit nie is hoekom Jesus daardie Dondagdagaand weggeglip het uit die stad na die stil plekkie teen die Olyfberg waar hy en sy dissipels dikwels gekom het nie. Want jy sien, elke vierkante duim grond in Jerusalem was bebou, sodat daar geen tuine of openbare ruimtes in die stad was nie. Daarom het die ryk mense van Jerusalem almal ommuurde tuine teen die Olyfberg besit, en een van hulle was duidelik Jesus goedgesind en het Hom toegelaat om die gedeelte wat as Getsemane, “die Olyfpers” bekend was, te gebruik wanneer Hy stilte gesoek het.
Jesus het dit die aand nodig gehad. Want die druk op Hom was geweldig, en het net steeds toegeneem. Eers het sy volgelinge geloop. Hulle was weinig meer as meelopers. Maar toe hulle sien Hy gaan nie maak soos hulle wou hê nie het hulle Hom op groot skaal begin verlaat. Vroeër die nag het Jesus vir Judas ‘n laaste kans gegee om hom te bedink, maar hy wou nie en hy is die nag in. En so het een van sy dissipelkring Hom ook gelos. Agt van die res het Hy aan die voet van die berg agtergelaat, en net die drie leiers, saamgeneem. Binnekort sou hulle die leiding in die vroeë kerk moes neem, en nou is hulle bevoorreg om deel te wees van hierdie finale stryd in in die donker nag in Getsemane.
Dis alles eintlik so tragies. Jesus pleit vir oulaas by hulle om Hom te ondersteun, al weet Hy tog self Hy kan nie op hulle reken nie. Maar Jesus het nóú net so ontsaglik nodig dat iemand Hom ondersteun. Maar op die ou end is daar niemand nie. Die pad na Golgota is ‘n bitter alleen pad. En soos die verhaal vorder, staan Jesus al meer alleen, totdat daardie allerverskriklikste kreet van die kruis af weerklink: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Dan is Hy werklik alleen, en kan nie een van ons meer saampraat nie. Want dit ken ons nie. Want watter aller-verskriklike scenario jy ook al vir jouself kan bedink, dít sal jy nooit ervaar nie. Selfs in die vallei van doodskaduwee sal die Goeie Herder daar by jou wees.
Maar in Getsemane was Jesus werklik alleen. En juis daarin lê die angs wat die sweet van Hom laat afdrup en op die grond val soos bloeddruppels. Want onthou, Jesus wéét presies wat wag. Hy weet van die fisiese marteling wat wag, van die spykers wat hulle deur sy hande en voete gaan kap, van die dors en spierkrampe wat gekruisigdes letterlik van hulle verstand af maak. Hy weet dit alles. Maar vreemd soos dit klink, is dit eintlik nog die minste. Want wat Hom eintlik laat terugsteier in die tuin van Getsemane is die storm wat daar oor sy kop saampak. Die verskrikking wat die magte van die duisternis oor hom gaan ontketen, ‘n storm waarin Hy stokalleen gaan staan. Hy weet dat in hierdie duisternis die Vader Hom nie daardeur kan help nie, want dis al hoe Hy vir ons sonde kan betaal. Hy weet daar gaan Hy alleen deur...
Dis die duisternis wat sy keel toedruk, wat Hom toevou die nag in Getsemane, die verstikkende duisternis van eeue se goddeloosheid en sonde. En onthou, Hy ly as mens. Hy kies om nie sy goddelike mag te gebruik nie. En juis daarin lê dan ook die wonder van Getsemane. Jesus kon op enige oomblik “Nee!” sê; Nee, Ek gaan terug hemel toe waar Ek hoort, en laat hulle aan hulle lot oor. Hy kan dit doen, maar Hy kies spesifiek om dit nie te doen nie. Getsemane is nie iets wat met Hom gebeur nie. Hy is nie die magtelose slagoffer van Getsemane nie – Hy kies dit!
En Hy kies dit om jóú ontwil. Dis vir jou, wat Hy daardie geweldige worsteling in Getsemane deurmaak. Dis met jou in gedagte, wat Hy uiteindelik kies om God se wil die deurslag te laat gee, en dis vir jou wat Hy bemoedig en vasberade die pad verder stap. En dis net daar waar my woorde opdroog...
Dis waarom ek in stille verwondering hierdie tekens op my lippe neem. Die tekstuur van die gemaalde koringkorrels proe in die brood, die druiwesap wat met geweld uit die korrels gepars is. En net tot so ‘n klein ietsie begin verstaan hoe lief God my werklik het. En watse Goeie Vrydag hierdie regtig is...
- Waak en bid...
Maar dis nie al wat ek in Matteus 26 hoor nie. Luister bietjie wat sê Jesus vir die dissipels, sy ondersteuningsgroep: “Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak” sê Jesus. Want vir ons gaan die pad nog voort. En die stryd teen die vyand is nog lank nie verby nie. Die Satan is verslaan, maar hy is steeds gevaarlik, en soek nog altyd jou ondergang.
En op ‘n manier is dit presies waaroor als vanoggend gaan. Want in ons eie krag is daar geen kans dat ons staande kan bly nie – ewe min as die dissipels die aand in Getsemane. Ook hulle gees was gewillig. Hulle het almal gesweer hulle sal altyd by Jesus staan, al gebeur wat. Die fout was nie by hulle instelling nie. Maar tog faal hulle almal vir Jesus. Want ons is nie betroubaar nie. Ons het die beste van voornemens, maar die vyand is slinks. Hy ken ons swakste punte en buit dit uit.
Ons kan nie alleen staande bly nie. Dis net as ons waak en bid, dat ons in die Naam en deur die krag van Jesus die vyand kan weerstaan. En dis presies waaroor die tekens op die tafel voor julle gaan. Jesus wil deel word van jou bestaan, sodat jy nooit weer alleen hoef te staan nie. Dis waaroor Getsemane gaan. Sy eensame worsteling het gemaak dat ons nooit weer alleen hoef te wees nie. Moet net nie gerus raak nie. Bly waak en bid. Gaan hier uit in die krag van die Here en gaan lewe tot eer van die Here deur baie beslis “Nee!” te sê vir elke versoeking wat oor jou pad kom.
- Jesus se deernis
Maar daar kom nog een laaste wonderlike ding uit hierdie verhaal. As Jesus die tweede keer die drie manne aan die slaap kry, maak Hy hulle nie weer wakker nie. Hy skree nie op hulle of skud hulle dat hulle tande klap nie. Nee, jy sien vir Jesus hulle met eindelose deernis aankyk. Slaap maar, sê Hy. Julle het ‘n uitputtende dag agter die rug, en Ek weet daar lê nog ‘n aansienlik meer uitmergelende tyd vir julle voor. Kry nou maar elke bietjie rus wat julle kan.
Jesus het alle rede gehad om kwaad te wees. Hulle het Hom in sy donkerste uur in die steek gelaat. Hulle het Hom nie ondersteun of in gebed gedra nie. Hulle het Hom net teleurgestel. Maar Hy bly nog steeds ontsaglik lief vir hulle.
Daar is nie een van ons vanoggend hier wat nog nooit vir Jesus teleurgestel het nie. Miskien weet jy self presies in watter opsig jy Hom die afgelope tyd gefaal het. Dan moet jy weet dat jy welkom is vanoggend aan Jesus se tafel. Hy het vir al jou ontrou en al jou sonde betaal. Hy kyk jou ook vanoggend met sulke sagte oë aan met die woorde: Waak en bid. Sodat jy staande kan bly in die versoeking. Sodat jy tot eer van God kan lewe...
NAGMAALSFORMULIER
Paulus skrywe in Korintiërs 11:
Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”
Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”
Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.
Aan die tafel: Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees en ‘n ewige lewe.
Gebed: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.
Gee ons vandag ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;
en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk en die krag, en die heerlikheid, tot in ewigheid
AMEN.
Uitdeel en Instelling van die tekens
“Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van ons Here Jesus Christus. Neem dit, eet dit, dink daaraan en glo dat sy liggaam gebreek is tot ‘n volkome versoening vir al ons sondes.”
“Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus. Neem dit, drink dit, dink daaraan en glo dat sy bloed gestort is tot ‘n volkome versoening vir al ons sondes.”
Danksegging: “Ek wil die Here loof, met alles wat in my is wil ek sy heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk. Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.” (Ps. 103)
Die kers word gedoof en die gemeente verlaat stil die kerkgebou.