Lukas 10:38-41
Datum: 24 Julie 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
- INLEIDING - COVID SE LETSELS IS SIGBAAR
Die media berig dat COVID letsels sigbaar is in mense se lewens. In ’n artikel lees ek dat baie mense kantore of werksplekke êrens in hul huise ingerig het waarvandaan hul daaglikse brood verdien word. Aanvanklik was daar meer voordele as nadele hieraan verbonde. Brandstof word bespaar en die wekker kan persone ’n uur later in die oggende uit ’n diep slaap wakker maak. Nadele is ook daaraan verbonde. Werkers het langer ure begin werk. “Nog net hierdie een epos wat beantwoord moet word. En terwyl ek in OUTLOOK was wat binnekort verander, het my oog die bestuurder se epos gevang waarin sy net na agt vanaand laat weet het dat ’n verslag so spoedig moontlik aan haar gestuur moet word. ”Vanaand se fliek-piekniek saam met die gesin sal moet oorstaan, of wag, gaan solank aan sonder my.....”. Klink dit nie bekend nie? Daarom het sekere lande wetgewing in plek gestel wat verhoed dat mense na kantoorure opdragte ontvang wat voltooi moet word.
Om van jou huis af te werk vra ’n spesifieke dissipline en ingesteldheid want dit is so maklik om, terwyl jy ’n draai by die rekenaar maak, vinnig te kyk of daar nie eposse van kollegas of bestuurders in jou in-hokkie geland het nie. En wanneer jy jouself kry word daar ’n ekstra uur of drie in jou huis-kantoor spandeer. En dan moet ons ook nie van die selfoon vergeet nie. Met jou selfoon kan jy enige tyd, enige persoon in die hande kry. MAAR ONTHOU, jy kan ook enige tyd, enige plek in die hande gekry word! Die hooftema van gesprekke is gewoonlik: “Ons is verskriklik besig” Ons is tot die dood toe besig. Ek en my pasmaat bly saam in dieselfde huis maar daar is werklik nie tyd om met mekaar te gesels nie. Slaap? Wat beteken die woord slaap? Ons kom met die minimum slaap klaar want daar is te min ure in ’n dag.
Daarom word van COVID letsels gepraat en om alles te kroon maak beurtkrag dinge nie makliker nie. Ons moet nou fyn beplan, selfs wanneer etes voorberei moet word. Ek lees dat kitskos as gevolg van beurtkrag, nou die aangewese ding is vir gesinne. Al hierdie dinge dra daartoe by dat mense gediagnoseer word met uitbranding. Mense ly aan “gejaagde hart sindroom”. Ons kom nie tot rus nie. Sielkundiges se afspraakboeke is maande vooruit vol bespreek. Klink dit nie soos Marta wat soos ’n besige mier hier vat en daar los nie?
- GEJAAGDE HART SINDROOM
Marta, die oorwerkte vrou wat ook aan “gejaagde hart sindroom” gely het. Die vrou wat haar huis se deure vir Jesus en die dissipels wawyd oopmaak en hulle met oop arms verwelkom en net die beste van die beste maaltyd vir Hom wil voorberei. ’n Gasvrou by uitnemendheid. Maar haar frustrasievlakke is in die rooi oor hierdie lui sussie van haar wat knus by Jesus se voete sit en niks doen nie. Maria sit net en luister.
Marta daarenteen het nie genoeg hande om alles in die kombuis en in die eetkamer te hanteer nie. Haar woorde het nie remme nie en Maria kry ’n ordentlike kopwas van Marta af. Maar dan tree Jesus vir Maria in die bresse en sê: “Marta daar is net een ding nodig.” Net een ding. Ja, vriende, daar is eintlik net een belangrike saak wat Marta se aandag verg. Daar is net “een ding” wat nodig is in Marta se lewe. Daar is net een ding wat uiters belangrik is. En dit is om NIE die perfekte maaltyd voor te sit nie. Want die vyfster maaltyd, die fynproewers gereg, sou daardie dag nie uit Marta se kombuis kom nie. Die Brood van die Lewe was in die eetkamer en almal wat na Hom wou luister en deel wil wees van die Koninkryk van God, het by Sy voete gesit. Dit is een ding om soos Marta vir Jesus in jou huis te verwelkom. Dit is ’n ander ding om te doen soos wat Maria gedoen het: Maria het vir Jesus in haar hart verwelkom.
En vriende daarom is hierdie teks vanoggend uiters belangrik in ons lewens en in hierdie gemeente se bestaan. Jesus sê: Daar is net een ding nodig. Ons het stilwordtyd by Jesus se voete nodig.
- STILWORDTYD BY JESUS SE VOETE
Want ons is dood -besig. Selfs binne die gemeente is ons op vol spoed. Ons wil spesiale dinge vir Jesus doen. Ons wil Jesus se oog vang. En dit wil ons doen deur groot prestasies. Marta se wens was ook dat haar pogings Jesus sou beïndruk, dat Hy dit sou raaksien en prys. Sy het groot moeite vir Hom te doen. Hiervoor het Marta haar suster se hulp nodig gehad. Maar toe is Jesus nie beïndruk met Marta se besig-wees nie. Marta was dood-besig. Ek sien vir Marta met haar voorskoot en die sweet druppeltjies op haar voorkop. Haar lippies is dun en sy is glad nie dik van die lag nie. Sy vat hier en los daar, oral deurmekaar! Om alles te kroon, het sy dit “vir die Here” gedoen. Die uiteinde was dat dit Marta se hartklop onbeskryflik opgejaag het. Haar lewe het in ’n warboel van take en verantwoordelikhede verander. Sy het geen oomblik se rus geken nie. Uitbranding het aan haar voordeur geklop. Ek sien myself vanoggend in Marta se skoene met haar voorskoot wat ek aangetrek het. Om te bedien is mos deel van ons roeping. Mag ek jou vanoggend die vraag vra:
SLOT
Hoeveel van ons is soos Marta, maar eintlik hunker ons na ware rus vir siel en liggaam? Luister dan hier: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (Matt 11:28-30).
Is Jesus êrens in jou huis of is Jesus in jou hart? Aanvaar Jesus se uitnodiging vandag. En rus aan sy voete. Maak tyd vir speel. Ons speel te min. Daar is te min tyd vir afskakel en om byle skerp te maak. Onthou wat ek vir die kinders vanoggend gesê het: Jy is ’n tempel van die Heilige Gees en jy moet na jouself omsien. Raak rustig, word ’n Maria.
AMEN