Markus 6:1-13
Datum: 8 Julie 2018
Prediker: Hannes Burger
Vir my sou dit wees soos ‘n droom wat waar geword het. Verbeel jou jy kom een Sondagoggend kerk toe, en hier kry jy vir Jesus persoonlik op die kansel. Dieselfde Jesus wat jy voor jou sien grootword het, vat die boekrol waarop die Bybel destyds geskryf was, en begin preek daaruit. Geen wonder ons lees hier die dorpie se mense was aangegryp deur sy leer nie – Hy wéét waarvan Hy praat, en Hy weet ook presies hoe om hulle harte te raak, want Hy ken hulle toe al vir dertig jaar. Dit moes eenvoudig wonderlik gewees het om vir Jesus te hoor. Ek dink as Hy hier sou staan, sou jy nie eens wou asemhaal nie, van vrees jy mis iets. Jy sou elke woord wou hoor – dis een Sondag wat jy vir seker nie sou sukkel om wakker te bly of jou gedagtes te keer om te dwaal nie. Agterna sou jy vir almal vertel van die dag toe Jesus self hier was. En jy sou nie sy preek op die webwerf hoef te gaan soek het nie – jy sou dit sekerlik omtrent woord vir woord onthou het.
Om vir Jesus self te hoor preek oor die Koninkryk, moes fantasties gewees het. ’n Onvergeetlike ervaring wat jou totale lewe sou verander. Of hoe? En tog - jy kan gerus maar die hoofstuk verder lees - dis glad nie wat die dag daar gebeur het nie. Om die waarheid te sê, jy moet daardie laaste sinnetjie van vers 4 ‘n paar keer lees om dit te kan glo. Hier staan: “Die mense wou niks van Hom weet nie.” Hulle was heel beïndruk met sy preek en sy kennis, maar dit was eers dit. Daar het niks verder in daardie gemeente daarvan gekom nie. Ons lees selfs dat Jesus as gevolg van die mense se ongeloof geen wonderwerke daar kon doen nie. Nie omdat sy wonderwerke afhanklik is van ons geloof nie, maar Hy kon dit nie daar doen nie, want dit sou vir hulle blote toertjies wees wat eintlik niks bereik nie. Soos ‘n sirkus. Dis net ongelooflik en verskriklik, maar Jesus het Hom vasgeloop teen sy eie mense se ongeloof en harde harte.
- Wat leer ons uit Nasaret se ongeloof?
Het jy al ooit daaroor gedink? Gewonder wat hier gebeur het, wat Nasaret se mense se oë en ore gesluit het vir die feit dat die Seun van God in hulle midde was? Hoe kon hulle die grootste wonder van almal miskyk, hierdie Emmanuel-oomblik, God by ons. En hulle kom dit sowaar nie eens agter nie?
Goed, jy sou seker kon sê dis die werk van die duiwel. Satan het hulle harte verhard en hulle ore toegedruk, sodat hulle niks kon hoor van wat Jesus sê nie. En iets daarvan sou sekerlik waar wees ook. Maar ons is mense en nie marionette nie. Want saam met Satan was Die Gees van God tog ook daar werksaam, en Hy sou dit tog sekerlik vir hulle moontlik gemaak om ‘n keuse te maak – as hulle wou. Maar die punt is: hulle wou nie.
En nou kan ons hulle seker vanoggend net veroordeel en wegdraai en aangaan met ons lewens. Maar dis nie hoekom die verhaal in die Bybel staan nie. Ons kan nie so maklik net die verhaal agterlaat nie. Ons moet eerder onsself vanoggend vra: Hoekom het dit gebeur? Wat sit daaragter dat die mense van Nasaret die fatale fout van hulle lewe gemaak het? Dan kan ons dalk daaruit leer, sodat ons dit nie herhaal nie! En dis op dié punt wat die verhaal ‘n bietjie ongemaklik raak...
Jy sien, die mense van Nasaret kon nie vir Jesus sien vir Wie Hy regtig is nie –hulle was net doodeenvoudig te gewoond aan Hom. Hulle het Hom van kleins af gesien. As’t ware saam met Hom grootgeraak. Hulle was vir Jesus gewoond... Maar dis nou presies wat my bang maak aan Markus 6. Want ek en jy is ook vir Jesus gewoond. Ons hoor al oor Hom van moedersknie af. In die kinderkrans en die sondagskool het ons destyds Hom leer ken, en vandat ons ons eie Bybels het, kon ons daagliks van Hom leer. Ek wil nie eens weet hoeveel eredienste jy al oor die jare bygewoon het nie, na hoeveel preke jy al geluister het nie. En al was Jesus dalk nie persoonlik op die kansel nie, was Hy tog deur die Heilige Gees teenwoordig en kon Hy deur ‘n swakke, gebroke mens met jou praat. Wat op sigself ‘n wonderwerk is.
En so loop ek en jy elke Sondag presies dieselfde risiko as die mense van Nasaret. Tot watter mate is jy vir Jesus gewoond? Tot watter mate maak die feit dat ek Jesus so goed ken, dat ek hom dalk nie meer regtig altyd kan sien vir Wie Hy werklik is nie. Dat ek hom dalk net in die proses so klein maak, asof hy maar net die outjie van langsaan is wat ek al soveel jare ken, terwyl Hy die Here is. Terwyl Hy net wag dat ek Hom kans gee om sy almag in my lewe los te laat en gróót dinge in my lewe te doen. Wie sê nie die Here is gretig om iets te doen in De Eike wat mense se ore laat tuit, maar net soos die mense van Nasaret is ons eintlik heel rustig en doodtevrede met die Jesus wat ons dink ons ken, wat eintlik die minimum steurnis veroorsaak in ons lewe, en met wie ons eintlik uiters gemaklik is... Wat eintlik die minimum verrassings in ons lewe oplewer.
Ek weet nie van jou nie, maar dit maak my verskriklik bang. Ek is bang ek staan eendag voor die troon van God en die Here sê vir my: Ai Hannes, as jy net die vaagste idee gehad het wat ek alles in jou lewe en deur jou lewe vir ander wou doen, maar jy het my nooit regtig kans gegee nie. Jy het My nooit kans gegee om regtig God te wees in jou lewe nie. Jy was die hele tyd so seker jy ken My deur en deur. En so het dit alles by jou verbygegaan...
- God se Plan B.
Maar wag, kom ons gaan eers aan met die verhaal. Nou dat ons oor die skok kom van Nasaret se mense se apatie oor Jesus, mag jy dalk net begin wonder: Wat dan nou volgende? Jesus het self by hulle gepreek en hulle het Hom net ignoreer. Nou is daar sekerlik geen salf verder aan hulle te smeer nie. Hy gaan hulle vir seker nou afskryf, hulle die rug toekeer en aangaan met sy lewe, en mense gaan soek wat wel na Hom sou luister. Ek weet dis vir seker wat ek sou gedoen het!
Maar jy sou verkeerd wees. Dis nie wat Hy doen nie. Kyk ‘n bietjie mooi wat is Jesus se plan B. As hulle nie luister na die Seun van God self nie, stuur Hy sy volgelinge om onder hulle te gaan getuig. Ek moet erken, ek self sou reken dis regtig ‘n tweede beste soort plan. Dalk selfs bietjie desperaat, want wat sal die dissipels nou eintlik regkry as die Seun van God niks kon vermag nie? Maar weereens wys dit jou net hoe agterstevoor-om ons redeneer. Want net daar gebeur die wonderwerk. Jesus het self volgens Lukas 12 na ‘n tweede uitreik waar Hy twee en sewentig dissipels uitgestuur het, gesê dat Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel val as sy kinders in sy Naam optree en getuig, as hulle uitgaan en die Gees toelaat om hulle te gebruik.
Jesus stuur hulle net uit om te gaan vertel dat Koninkryk gekom het. Dat Jesus hier is, en Hy die verskil kom maak het. Dat ‘n nuwe era van die lewe in Hom aangebreek het, en dat jy Hom kans moet gee om beheer oor jou lewe te neem. En sover hulle die Evangelie gebring het, het mense tot bekering gekom. Die Here het hulle woorde gebruik om mense te oortuig, en Hy het deur hulle mense genees en die Satan se bose werke aan bande gelê. Die mense van Nasaret kon nog vir Jesus ‘n koue skouer gee, maar as God se kinders in sy Naam uitgaan en begin praat oor Jesus, verander alles. Dan kom die Koninkryk in mense se lewens.
- God se plan vir die wêreld.
Dit bly ‘n verbysterende storie. En ek dink selfs nadat ek die afgelope week weer daarmee rondgeloop het, verstaan ek eintlik maar nog min daarvan. Hoe dit kan wees dat mense die Seun van God self kan ignoreer, maar as God se kinders in sy Naam begin uitgaan en ‘n verskil begin maak, keer hulle die wêreld om, en word Satan se troon onder hom uitgeruk dat hy soos ‘n weerligstraal op die grond val.
Al wat ek wel weet, is dat die Here nog niks verander het sedert die gebeure waarvan hierdie verhaal vertel nie. Jesus het self in die gelykenis van Lasarus en die ryk man gesê dat die mense daar buite nie eens sal luister as iemand uit die dood sou opstaan en met hulle praat nie. Nie eens as Jesus in Kaapstad begin saamtrekke hou, sou hulle verander nie. Maar waar die kinders van die Here onder leiding van die Gees die wêreld ingaan, keer hulle alles op sy kop om. Dan gebeur dinge, en kom die verskil wat ons so begeer en waarvoor ons wêreld so honger is.
Maar dan bly die vraag waarmee ons begin het, nog altyd staan: Wat verwag jy regtig van die Here? Of het jy Hom ook al gewoond geraak dat jy nie meer regtig veel verwag nie? Hoe lyk die Jesus wat jy dien? Redeneer jy nie baie soos die mense van Nasaret as jy oor die kerk begin dink, en begin vra watter verskil die Here in Suid-Afrika kan maak nie?
As daar iets gaan gebeur, gaan dit wees omdat ons vergeet van ons gemaklike idees oor Jesus. En onsself in sy diens en tot sy beskikking stel, om wondere deur ons te begin doen. Dis hoog tyd dat die satan soos ‘n weerligstraal val daar by jou werkplek, in jou buurt, in jou vriendekring. Die vraag is net: is jy reg daarvoor?
AMEN