Matt.21:1-11

Datum: 15 Maart 2020

Prediker: Johan Morkel

15 Maart 2020
Jesus kom Jerusalem binne op die rug van ‘n donkie, nie ‘n oorlogsperd!
Laai lêer af om later te luister (6,17MB)

Ons kan aan enige feestelike geleentheid dink - ‘n troue, ‘n inhuldigingsgeleentheid, ‘n prys-uitdeling, ‘n verjaarsdagviering.  Voor so ‘n geleentheid plaasvind, vind daar baie voorbereiding plaas, die “venue” word gereedgemaak en verfraai.  Uiteindelik breek die oomblik van waarheid aan, die bruid stap haar bruidegom tegemoed, die prossessie begin in beweging kom, die seremoniemeester maak die eerste aangekondiging!

Ons vind dit ook met Jesus se intog in Jerusalem op die rug van ‘n donkie.  Die skare het dadelik aangevoel iets groots is op die punt om te gebeur.  ‘n Ou Testamentiese profesie is besig om in vervulling te gaan.  Die skare besef Sag.9:9 is aan die waar word, “Kyk, jou Koning kom na jou toe: Hy is nederig en ry op die rug van ‘n donkie, op die vul van ‘n pakdier.”  Jesus is die langverwagte Messias!  Dit is die oomblik dat die Messias die koninkryk van Dawid gaan herstel soos in Oud-Israel.  Die Messias gaan nou die vyand oorwin en verdryf, die Romeinse juk breek en die volk van God vrymaak!  Mens voel die feestelike atmosfeer aan.  Die grootste deel van die skare gooi hulle klere op die pad oop, ander breek takkies van die bome en gooi dit op die pad - alles sodat die Messias nie in aanraking met die stof van die grondpad kom nie.  In die Johannes Evangelie lees ons die skare het palmtakke gekry en vir Jesus gewuif soos vir ‘n koning gedoen word!  Die skare sing, “Hosanna vir die Seun van Dawid!  Loof Hom wat in die naam van die Here kom!  Hosanna in die hoogste hemel!”  V.10 sê die hele stad was in beroering.  Op die vraag “Wie is hierdie man?”, antwoord die skare in v.11 “Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!”

Waarop het alles uitgeloop?  Waartoe het hierdie geweldige opbou van gebeure, die massa-optog, die entoesiasme van die skare, gelei?  Markus 11:11 gee die antwoord, “Jesus het in Jerusalem na die tempel toe gegaan en alles daar bekyk.  Dit was al laatmiddag toe Hy en die twaalf weer na Betanië toe gegaan het”.  Hier is geen sprake van die skare nie, Die skare was ontnugter en teleurgesteld en het weggesypel soos water in droë sand - net Jesus en sy 12 dissipels het oorgebly!  Wat sou dan die rede wees vir hul ontnugtering?  Jesus het nie voldoen aan hulle Messias-verwagtinge nie.  Jesus het Jerusalem ingery op ‘n donkie en nie op ‘n oorlogsperd nie.  Jesus was nie die Messias wat in hul verwagting geleef het nie.  Jesus was nie die oorlogsheld met swaard in die hand, dei Een wat wraak, oorlog, oorwinning uitroep nie.  Jesus was op die rug van ‘n donkie, die Een wat binnekort met ‘n kruis oor sy skouer Golgota-heuwel sou uitstrompel.

Jesus word, soos in Afrikaans uit Grieks vertaal, “nederig” genoem.  Ander vertalings is sagmoedig, meek, humble, gentle.  Die Hebreeuse word wat in Sag.9:9 gebruik word is “ani”.  Dit dui op weerlose mense, mense wat hulself nie kan verdedig nie, mense wat nie regte het nie, wat uitgebuit, verneuk word.  Dit is die woorde waarmee Jesus beskryf word, woorde wat dui op nederigheid, verwondbaarheid, broosheid.  Hierdie beeld van Jesus as Messias het die Jode nie aangestaan nie, het die Jode nie gepas nie, het nie voldoen aan hul verwagting van die Messias nie.  Daarom die ontnugtering van die skare!  Daarom draai hulle weg van Jesus, hul Messias, verlaat hulle Hom.  Die feestelikheid stol tot niks!

Soos die Jode destyds, het ook elkeen van ons ‘n Godsbeeld, die manier waaroor ons oor God dink, ‘n verwagting van wie en wat Jesus in ons lewens moet wees.  Wat is jou verwagting van Jesus - jou Godsbeeld?  Skep ons dalk ook vir ons ‘n Godsbeeld wat ons pas?  Maak ons ook van Jesus Iemand na ons smaak?  ‘n Jesus(met respek gesê) wat tot my diens moet wees?  ‘n Jesus wat moet sorg dat ek en my geliefdes nie siek word nie, dat voorspoed altyd met ons sal wees?  ‘n Jesus wat op gereedheidsgrondslag moet wees as ek op sy nommer druk?  ‘n Jesus wat gerieflik in my lewenstyl inpas sodat ek darem nou nie iets hoef op te offer nie, nie groot aanpassings hoef te maak nie, myself te hoef te verontrief vir wat Hy vra nie?  Iemand wat nie omgee as ek Hom my Messias, my Here noem, maar intussen Hom halfhartig dien, op my voorwaardes dien nie?  ‘n Jesus wat ek maar laag op my prioriteitslys plaas?  As bogenoemde waar is, en dit is tog in ‘n mindere of meerdere mate van ons almal waar, as die Jesus wat ons wil hê, nie die Jesus van die Woord is nie, dan is ons net maar soos die Jode!  Dit is dan wanneer mense wegstap van die Jesus van die Bybel, hul geloof prysgee, en die getalle van die kerk begin kwyn.

Wie is die Messias, die Jesus van die Bybel dan?  Jesus se oorwinning het nie gelê in die oorwinning van die Romeinse Ryk nie, maar in die oorwinning oor die ryk van die Duisternis!  Jesus se bevryding was nie die bevryding van die juk van Rome nie, maar die bevryding van die sonde en sondemag.  Jesus se oorwinning was nie in die simboliek van ‘n oorlogsperd en ‘n swaard nie, maar as nederige op die rug van ‘n donkie, oppad na die vloekhout.  Wie die Jesus van die Bybel as Messias aanvaar, as Gestuurde van God, as Verlosser aanvaar, in sy/haar lewe breek die Koninkryk van God deur.  In so iemand se lewe word hierdie Jesus Koning, heers Hy.  En vriende, waar Jesus heers, daar word ek en jy, sy volgelinge, soos Hy.  Ons dra die stempel van sy lewe.  Ons wat sê dat ons in sy voetspore loop.  Ons word mense wat ook beskryf kan word met die woorde waarmee Jesus beskryf word.  Mense wat nie heersugtig wil soos die kerk dikwels in die verlede wou wees nie, maar mense wat hulself verloën ons kruis opneem en Hom volg.  Mense wat nie vernaam wil wees, wil hiet en gebied nie, maar mense wat sterf aan hulself en sterf aan wanbeelde wat hul van Jesus het.  Mense in wie se lewens selfsug en selfgerigtheid plekmaak vir nederigheid, sagmoedigheid, inskiklikheid.  Mense wat nie vra wat is daar vir my in, wat kan ek wen nie, maar mense wat soos Jesus dien en hul medemens diensbaar is.  Mense wat omsien na die weersloses in die samelewing, die wat swaarkry, die wat nie kan terugbetaal nie, die eenvoudiges, armes, siekes, die oues van dae.

Dit is nie maklik nie.  Iemand van die statuur van Bonhoeffer het gesê dit is moeilik.  Hy sê ons het ‘n diepgewortelde weerstand daarteen om nederig te wees, om niks te wees, om ander te dien.  Hy sê ons wil van nature opbeur, boontoe beur, onsself laat geld!  Maar navolging van Christus beteken navolging van die Sagmoedige, die Gekruisgide, om te word soos die Sagmoedige.  So loop ons in die voetspore van Jesus in Lydenstyd.  Of ons sien nie kans hiervoor nie en ons verlaat Hom soos die Jode.

Amen