Johannes 10:11-18

Datum: 11 Mei 2025 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Janse van Rensburg

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar

Dwars deur die Bybel word metafore gebruik om iets van God en god se karakter te beskryf. God word dikwels as ’n herder beskryf (Psalm 23: “Die Here is my herder”; Esegiël 34: God self sal kom om sy skape te versorg). Die beeld van Jesus as die Goeie Herder is nie net ’n mooi metafoor nie – dit openbaar iets van sy hart, sy karakter, en sy missie. Toe Jesus sê: “Ek is die Goeie Herder,” het Hy nie net ’n troosvolle beeld gebruik nie – Hy het ’n radikale stelling gemaak: Hy is God in aksie.

 

  1. Die Goeie Herder gee sy lewe (vers 11-13)

Jesus kontrasteer Homself met die huurling. Vir die huurling was die kudde net ‘n werk of ‘n taak om te verrig en wanneer gevaar kom het hulle gewoonlik gevlug – hy het geen ware verbintenis aan die skape gehad nie. Maar Jesus, die ware Herder, het ‘ n diep verbintenis met die skape. Hy is lief vir sy skape! Hy gee sy lewe vir sy skape. Sy liefde is selfopofferend. Sy betrokkenheid is persoonlik en diep. Dink aan die kruis: Jesus sterf nie net vir “die wêreld” in abstrakte terme nie – Hy sterf vir sy skape, vir jou.

 

  1. Die Goeie Herder ken sy skape (vers 14-15)

Hierdie ‘ken’ is nie net kennis van feite nie – dis ’n intieme verhouding. Jesus sê: "Ek ken my skape, en my skape ken My…” Soos die Vader en die Seun mekaar ken, so ken Jesus ons – dit is ’n wonderlike beeld wat getuig van God se nabyheid. Hy ken jou vrese, jou swakhede, jou drome – en Hy noem jou by die naam.

 

  1. Die Goeie Herder het ’n wêreldwye visie (vers 16)

Jesus as die Goeie Herder is inklusief. Hy sê: “Ek het nog ander skape wat nie van hierdie kamp is nie…” Hy dink nie net aan Israel of die dissipels nie – Hy sien die ganse wêreld as sy skape. Jesus maak dit duidelik daar is net een kudde en net een ware Herder. Ons is deel van daardie skape wat ingelyf word. Hier hoor ons ook n dat die gedeelte ’n oproep is om saam met Jesus die skape te dien.

 

  1. Die Goeie Herder gee uit vrye wil (vers 17-18)

Jesus sê Hy gee sy lewe uit eie keuse – nie omdat iemand Hom dwing nie. Sy sterwe aan die kruis was nie ’n tragedie buite beheer nie – dit was ’n doelbewuste daad van liefde. Die kruis opstanding bevestig wie Jesus as Goeie Herder is. Ons bely dat Hy dit terwille van ons gesterf het en in ons belang weer opgestaan het, sodat ons een kudde kan wees. Herenig, met een Herder.

 

Goeie Herder Sondag herinner ons aan wie Jesus is. Hy is nie net ’n leermeester of rabbi nie, nie net ’n voorbeeld – maar die Een wat sy lewe gee, ons ken, ons soek, en opwek tot nuwe lewe.

 

Die gedeelte wil ons ook kom uitdaag met vrae wat die Goeie Herder vir ons vra:

Hoor jy sy stem?

Volg jy Hom?

Vertrou jy Hom?

Mag ons vandag luister na sy stem, Hom volg, en rus vind in sy sorg.