Matteus 26:20-30; Johannes 13:21-26

Datum: 20 Mei 2018 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

Daar is een teks wat ons hierdie afgelope week van Pinkster oor en oor gehoor het. Amper elke aand, soos ‘n refrein dwarsdeur die hele Pinksterreeks. Daardie vers was Jesus se groetwoorde in Matteus. Jy sal dit in Matteus 28:18 kry. Net voor die hemelvaart verseker Jesus vir oulaas vir sy dissipels dat God aan Hom alle mag gegee het in die hemel en op aarde. Alle mag! Ons kan ons nie eens begin voorstel wat dit beteken nie. En dan gaan Jesus voort met die opdrag aan die twaalf, wat hierdie week ook weer sy opdrag aan ons as gemeente geword het: “Gaan dan... en maak die mense my dissipels”

Maar wag, kom ons parkeer vanoggend net ‘n oomblik daarby. Kom staan net ‘n oomblik stil en verbeel jou jy staan ook daar op die berg. Daar is wolke in die lug wat laag oor die berg hang, en dalk ‘n koel luggie soos ‘n mens gewoonlik op die bergtoppe kry. En jou hart is swaar want jy weet dis tyd om te groet. Jy weet Jesus is op pad. Vir die tweede keer, want julle het na Paasnaweek al gedink alles is verby, en Hy is vir altyd weg. Dit was toe nie so nie. So moeilik soos dit was om te glo: Hy het opgestaan en Hy lewe. Maar hierdie keer is anders. Dis werklik. Hy is op pad. Hy het self so gesê. En vir oulaas hoor jy na sy aardse stem, wat jy so goed ken. “Gaan dan... en gaan maak die mense my dissipels.”

Ek weet ek het seker ‘n ooraktiewe verbeelding, maar ek speel baie graag met myself sê-nou-maar-speletjies. Sê nou maar Judas het die nag aan die tafel in trane uitgebars toe Jesus vir hom die broodjie aangee. Sê nou maar hy het vir Jesus gesê: Here, nou het ek amper ‘n verskriklike ding gedoen. Kan U my vergewe? – Wat sou dan geword het? Dan was Judas sekerlik vandag in die hemel by Jesus. En sê nou maar net een van die dissipels – ek kan net dink dat dit na alle waarskynlikheid Petrus sou wees – sou amper nie kon wag tot Jesus klaar gepraat was nie, voordat hy vir Jesus gesê het: Ja, Here, dis reg so. Ek sal die wêreld vol vir mense gaan preek, totdat hulle tot bekering kom. Ek is seker Jesus sou hom net daar stilgemaak het en gesê het: Om hemelsnaam Nee! Dis die laaste ding wat ek wil hê julle moet doen. Ek het nie gevra dat julle moet begin preek nie. Ek het gevra julle moet dissipels maak....

En dan sou Jesus die elf manne kon herhinner aan hulle pad saam. Hoe het julle dissipels geraak? sou Hy vra. Omdat Ek vir julle gepreek het? Of omdat julle elke dag die pad saam met My geloop het, elke dag gesien het wat Ek doen en wat Ek sê? Moet dan in hemelsnaam nie gaan om te gaan preek nie. Gaan ek gaan wees net kinders van My. Gaan en gaan maak dissipels.

Maar wat bedoel Jesus nou eintlik? Hoe maak mens mense tot dissipels? Ek wens so half die dissipels het dit vir Jesus gevra. Maar hulle was daardie oomblik so oorweldig dat hulle nie het. Want eintlik dink ek het hulle die antwoord geken.

  1. Ek wens so half die dissipels het dit vir Jesus gevra...

En ek dink ons ken ook die antwoord. Lees maar net die evangelies en kyk wat Jesus gedoen het. Hy het nie groot saamtrekke gereël en erg op mense se gevoelens gespeel, of vir hulle baie ingewikkelde kursusse aangebied nie. Daar was geen kwaai cerriculum wat Hy met hulle deurgewerk, en geen moeilike eksamens wat hulle moes aflê nie. In hierdie drie jaar wat Hy die pad saam met hulle geloop het, het hulle vir Jesus in aksie gesien. En dit was genoeg.

Dis nogal vreemd dat ons in die kerk so verkeerd verstaan. Ons reken ons moet ‘n groot saaamtrek reël, as ons mense Jesus se dissipels wil maak. ‘n Goeie “band” is onontbeerlik, en sonder ‘n vurige prediker gaan jy nie veel bereik nie. Maar hoe baie moeite dit is om so iets te reël, jy kan nie so ligweg wegkom met Jesus se opdrag nie. Want hierdie is ‘n opdrag wat jy moet gaan lewe, 24 uur van elke dag. Dis net as jy hierdie opdrag lewe, wat jy dissipels gaan maak. Jy moet die pad saam met mense loop soos Jesus dit saam met hierdie twaalf geloop het. Hulle moet by jou sien en ervaar wat dit beteken om kind van God te wees.

Dis hoe jy dissipels maak. Maar nou het Jandré mos aan die begin van die week vir julle belowe ons gaan baie prakties wees! Daarom wil ek nie daar stop nie.

  1. Hoe het Jesus dissipels gemaak?

Ek wil verder vra: Hoe het Jesus dissipels van mense gemaak? Wat is dit nou eintlik, wat Hy gedoen het? Geen koffievouchers die slag, as jy dit reg onthou nie.

Onthou jy verlede Sondag? Hy het tussen gewone mense beweeg, na hulle geluister. Deel van hulle lewe geraak. Hy het geword wat sy Naam alreeds gesê het Hy was: God met ons, toe Hy soos wierook hulle lewe deurtrek het. Hy het nooit teruggedeins van hulle seer nie. Inteendeel, Hy was altyd daar waar mense die swaarste gekry het. Daarby was sy diens aan God nie abstrakte studeerkamer-teologie nie. Hy het nie teruggesit nie, Hy het aktief betrokke geraak. Hy het vir ons gewys hoe ‘n mens God verteenwoordig in elke situasie waarin ons lewe. En dalk vat vandag se tema alles saam: Jesus het mense welkom by Hom laat voel. Dís hoe Jesus dissipels gemaak het.

  1. Hoe gaan ons dit regkry?

Maar kom ons probeer steeds heel prakties bly, en dan vra ons: En jy nou? Hoe gaan jy dit reg kry? En as jy dit vir Jesus sou vra, sou Hy waarskynlik vir jou sê: Dis eintlik heel eenvoudig. Sorg net dat jy altyd die vrede van die Here uitstraal. Moeilike, knorrige mense wat alewig oor iets beswaard is, sal nooit disspels maak nie, want heel verstaanbaar wil niemand soos hulle wees nie. Nee, jy moet eerder vol vrede en blydskap wees, sodat almal kan sien watter verskil die Here in jou lewe maak. Daarby moet jy geduldig wees, want jy weet mos ons maak almal foute, en buitendien is God eindeloos geduldig met jou. Wees daarby vriendelik want dit trek mense na jou toe. En wees sag met mense. Goedhartig. Jy moet ook ‘n staatmekaar wees. Betroubaar is die woord. En wees nederig want die lewe draai mos nie meer om jou nie. En beheer jouself, want as jy eenmaal jou speelgoed uit jou bababedjie gegooi het sal mense dit altyd onthou.

As dít is hoe jy lyk, sal jy die klein hoekie van die wêreld waar jy lewe, begin verander. En nou sien Ek klaar jy wonder of jy alles gaan onthou, maar moenie bekommerd wees nie, want Ek het klaar vir jou ‘n lysie gemaak: jy sal dit in Galasiërs 5 kry. Maar die beste nuus kom eintlik nog: As dit alles vir jou onmoontlik lyk, en jy weet nie hoe jy dit ooit gaan regkry en dissipels maak nie, ontspan gerus! Moenie bekommerd wees nie: Vertrou My net. Ek, die een aan wie alle mag gegee is, sal dit sommer deur jou doen!

  1. Die Nagmaal

Wil jy graag hierdie plan van God in aksie sien? Kyk voor jou. Na hierdie tafel. Want nêrens anders illustreer die Here duideliker dat almal by Hom welkom is nie. Jy ook. Kom sit in die Gees hier aan. Ja, die Here weet hoe klaaglik jy in die verlede al misluk het in jou poging om dissipels te wen. Sodat jy eintlik al opgegee het. Hy weet presies hoe min daar van radikale dissipelskap in jou lewe sprake is. Hy weet dit. Maar jy is nog altyd welkom. Want hierdie geestelike spys is juis gegee om ons te versterk en toe te rus, sodat ons kan begin doen wat God van ons vra. Neem hierdie tekens met biddende harte uit die hand van die Here, en word versterk, en gaan dan uit, en maak mense sy dissipels...

AMEN