Matteus 2:11, Markus 15:23, Johannes 19:39

Datum: 14 Mei 2018 (Aanddiens)

Prediker: Hannes Burger

Hulle het iewers van baie ver af gekom. Niemand weet waarvandaan nie, waarskynlik van die Eufraat se kant af. Ons weet nie wie hulle was of selfs hoeveel van hulle daar was nie. Maar mense hou nie van raaisels nie, daarom het hulle gou besluit daar was drie, en selfs vir hulle name gegee: Mechior, Balsasar en Caspar. Tot besluit dat hulle eintlik drie konings uit die Ooste was. Maar dis alles net spekulasie. Want eintlik weet ons van hulle niks nie. Net dat hulle drie geskenke gebring het. Goud, die geskenk vir ‘n koning, wierook, wat gewoonlik vir ‘n God geoffer is, en dan natuurlik ook mirre. ‘n Spitsvondige dame het eendag gesê dat jy darem kan sien dit was nie drie wyse vroue wat daar opgedaag het nie, want hulle sou eerder ‘n ekstra pak doeke, babpoeier en ‘n groot pot boudjiesalf gebring het.

Maar die geskenke is natuurlik ryk aan simboliek en betekenis. Goud het erken dat die babatjie Koning was, wierook dat Hy God is. En mirre? Mirre was ‘n welriekende stof wat hulle van hars gemaak het, verharde sap van ‘n boom, en dis vir baie doeleindes gebruik, maar veral as parfuum, omdat dit so lekker geruik het. Die van julle wat bo 18 is kan gerus in Hooglied gaan lees, want daar lees ons ook van die sakkie mirre wat die dames om hulle nekke gehang het om lekker te ruik.

En so saam met die glinster van goud in daardie vreemde omgewing, het die reuk van mirre die dag gehang in die stal waar die klein babatjie Jesus in die krip gelê het, en waarskynlik die ander stalreuke so ‘n bietjie verdryf...

  1. Dan verskuif die toneel. Na Golgota.

Dit was die eerste keer wat ons met die Jesus-verhaal van mirre lees. Die tweede keer is die toneel heel anders. Die tweede keer hang Jesus aan die kruis op Golgota. Dis ‘n verskriklike prentjie, want die storms van die hel gaan enige oomblik om sy kop begin breek, wanneer Hy versoening doen vir die sonde van eeue. En Hy weet wat wag. Maar toe bied een van die Jode vir Hom mirre aan, wat met wyn gemeng is, want jy sien, dit was ‘n ander gebruik vir mirre. Hulle het geglo dit het geneeskundige kragte, en dis as pynstiller gebruik. Maar Jesus het net sy kop weggedraai.

Selfs in daardie verskriklike oomblik, weier Jesus die mirre. Want Hy soek nie kortpaaie nie. Daar aan die kruis betaal Hy die volle prys. Daar is geen plek vir kompromieë nie, geen kortpaaie nie. Jesus gee letterlik alles. Jesus loop die lydenspad voluit, vir jou en my.

  1. En dan lees ons weer van mirre toe Jesus begrawe word.

Die volgende keer wat ons in die Jesus verhaal van mirre lees, is hulle besig om sy liggaam van die kruis af te haal. Dis toe dat Nikodemus, die Jood van Johannes 3, wat die eerste mens was wat die nag die woorde gehoor het wat in Johannes 3:16 staan, van hoe lief God regtig die wêreld het, hy daag toe daar op met soveel as 50 liter mirre, wat terloops ‘n fortuin werd was. En so eindig Jesus se aardse lewe omgewe van dieselfde reuk as wat in die stal om Hom gehang het, dié van mirre...

Want sien, dit was die ander ding van mirre. Mirre  was destyds die begrafnisreuk. En skielik begin jy verstaan hoekom die wyse manne dit al vir Jesus as babatjie aangebied het. Hulle het sy koningskap erken met die goud, sy goddelikheid met die wierook, maar hulle het ook alreeds sy lyding voorsien met die mirre. Daar is die stal, het die reuke van die dood alreeds aan die klein babatjie gekleef...

Want dis hoekom Hy mens geword het. Hy is gebore om God en mens te versoen. Hy het gekom om aan die kruis te kom sterwe. En daarom het die ruik van die dood oor Jesus se hele aardse lewe gehang. Hy het altyd geweet dis waarom Hy gekom het, en Hy het nooit daarvan teruggedeins nie. Hy het by elke moontlike geleentheid geassosieer met mense aan wie die doodsreuk kleef. Aan Lasarus, en die weduwee van Naïn. Aan die Romeinse hoofman, en aan Jaïrus. Hy het die stukkendheid van ons wêreld nooit probeer systap nie, ook nie toe dit oor sy eie pad gekom het nie...

En ons? Ons is sy volgelinge. Hy stuur ook vir ons tussen die geknakte riete in, om dit nie genadeloos af te breek nie, maar om met sagte hande heling te bring. Om te wys dat ons waarlik kinders van ons Vader is, om nie terug te deins van die seer en die reuk van mirre wat oor ons wêreld hang nie, maar dit op elke moontlike manier te probeer heel en beveg. Ons is nie geroep om eenkant te staan en toeskouers te wees nie, maar om ons moue op te rol en in te spring. Sodat die reuk van mirre ook aan ons hande sal hang...

Mieskien weet jy regtig nie waar om te begin nie. Vra dan xxdie Here, dat Hy vir jou vandag sal wys waar Hy jou kan gebruik. Sodat jy ‘n verskil kan maak. Sodat jy ook die reuk van mirre kan dra. Net soos Jesus. Tot eer van God...

Amen