Markus 1:21-31

Datum: 31 Januarie 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

Daar was groot afwagting in die sinagoge, toe Jesus die oggend daar instap. Mense het lankal die stories gehoor wat oor hierdie nuwe rabbi vertel is, en was baie gretig om eerstehands te hoor wat Hy te sê het. Kan dit regtig wees, soos sommige mense selfs beweer, dat Hy die Messias is waarvoor hulle volk al eeue lank wag? Of was dit maar net fopnuus, en was Hy eintlik maar net ‘n timmerman se seun met ‘n  slag met woorde?

 

Die feit van die saak is dat Jesus ‘n boodskap verkondig het, wat niemand van hulle nog ooit gehoor het nie. Entlik was dit Johannes, daardie vreemde profeet met die kameelhaarklere en die vreemde dieët, wat dit alles begin het. Hy het die mense voorberei dat hier ‘n ding aan die kom is, maar hoeveel kan jy jou nou eintlik aan so iemand steur? Buitendien het niemand lekker verstaan wat hy bedoel het toe hy oor en oor gesê het dat die koninkryk van God naby gekom het nie. Wat beteken dit? En daarby was hy so streng! Hy het net gepraat oor bekering, en al het niemand van hulle nou juis daarteen nie, was dit tog so radikaal. Hulle het na Johannes gaan luister, maar hulle was regtig nie seker of hulle al reg is vir die soort koninkryk wat Johannes verkondig het nie. En of hulle hoegenaamd kans sien daarvoor nie!

 

Maar toe stop hulle Johannes in die tronk en dalk was baie van hulle heimlik verlig dat hulle nou eers van sy kwaai oproepe tot bekering ontslae is. Maar toe kom Jesus, en toe vat Hy dit net ‘n stappie verder. Hy sê nou nie meer net dat die koninkryk aan die kom was nie. Jesus vertel dat die koninkryk baie naby aan elkeen van hulle is. Dat God se koninkryk hier is. En jy sou dit dalk nog wou ignoreer, maar toe begin Jesus duiwels uitjaag uit mense, of dodelik siek mense gesond maak. Wie kan sulke wonders doen, as Hy nie van God af kom nie?

 

Maar wat moes hulle nou eintlik van dit alles dink? Wat was sy storie nou eintlik? Wat is die implikasies van hierdie koninkryk wat Hy verkondig? Dit was die brandende vraag in Kapernaüm, en dis steeds ‘n kardinale vraag onder ons, in 2021. Wat beteken dit, dat Jesus God se koningskap ‘n realiteit in ons lewe kom maak het? Wat sê dit vir jou in ons tyd, waarin alles so deurmekaar en donker lyk?

 

Maar wag, kom ons begin eerder by die begin. Dalk was die mense van Kapernaüm ‘n bietjie bly hulle is nou ontslae van Johannes se oproep tot bekering. Maar wat sou hulle dan dink van Jesus se woorde? Want dis presies waar Hy ook begin het. Vers 15 vertel vir ons daarvan. Die oomblik toe Jesus na veertig dae in die woestyn teruggekom het, begin Hy rondgaan en sê Hy vir mense presies dieselfde. “Die tyd is hier”  begin Hy. Al die uitsien en afwagting, al die vooraf spekulasies en drome, dis nou iets van die verlede. Hierdie is die groot oomblik. Toe Jesus sy bediening begin, het die tyd aangebreek. Nou was God se koninkryk nie meer ‘n vae droom nie. Dit is nóú ‘n werklikheid.

 

Dis nóú die tyd, sê Jesus. En daarmee sê Hy nie net: “OK, dis nou tyd” nie. Nee die woordjie wat Jesus gebruik, sê eindeloos meer. Hy gebruik die woordjie “kairos”, wat min met die tik van ‘n horlosie te doen het. Kairos is die beslissende oomblik, die tyd wat alles verander. Dis die oomblik waarom die hele geskiedenis van die wêreld draai, en alles hang vir ons daarvan af. Dis die kairos - ‘n oomblik groter as jou geboortedatum, jou troudatum, jou gradedag en jou veertigste verjaardag ineen. Dit is die oomblik, sê Jesus.

 

Dis die oomblik wat die deur na God toe vir ons oop swaai, en dis nóú jou kans om dit te benut. “Bekeer julle”, sê Hy, “en glo die Evangelie”. Laat God jou lewe nóú verander, herskep, om jou ‘n nuwe vrede en sin in jou bestaan te gee. Daar was nog nooit ‘n oomblik soos hierdie nie. Dis die kairos. Praat nóú met God. Moenie uitstel nie en moenie wag nie. Raak deel van sy koninkryk....

  1. Jesus se koninkryk gaan oor mense

Maar dan wys Jesus ook sommer dadelik dat God se koninkryk oor mense gaan. Hy begin dadelik vir Hom twaalf doodgewone manne bymekaarmaak, sulke doodgewone, weird ouens net soos ek en jy. Want dis hoe Jesus God se koninkryk bou. En dis hoe Hy dit vandag nog uitbou. Die koninkryk is nie ‘n eksklusiewe klub, ‘n geslote kliek van besonder vrome mense nie. Nee, in die huis van sy Vader is daar baie wonings, het Jesus self gesê. Daar is plek vir baie mense, vir elkeen wat God liefhet kies om die Here te dien.  Hulle is nie sonder foute nie, en selfs nadat die Heilige Gees oor hulle uitgestort is, het sy volgelinge maar steeds drooggemaak en foute gemaak.

 

Maar die punt is, die deure van die koninkryk staan oop, en ek en jy moet só lewe, dat ons mense daarnatoe aantrek. Want daar is altyd nog plek in die huis van die Here. En moet asseblief tog nie dink jy moet vir mense gaan preek en hulle gaan teregwys nie. Dit werk selde. Jy moet hulle eintlik net gaan wys. Gaan wys deur jou eie optrede vir hulle hoe lyk Jesus, en hoe tree Hy op teenoor ander. Dan sal mense naderkom, getrek deur die Gees, en sal hulle ook deel raak van ons groot familie. Die familie wat Jesus die koninkryk van God noem...

  1. Jesus het die gebrokenheid kom herstel

Maar daar is nog een laaste ding wat Markus 1 ons leer oor die koninkryk. Ons sien hier vir Jesus besig met die hooftaak waarvoor Hy aarde toe gekom het - om ons wêreld weer heel te kom maak, en so die gemors wat die Satan met ons hulp van hierdie wêreld gemaak het, ongedaan te kom maak. Daarom help Hy in die sinagoge iemand wat sy lewe lank al ly onder die mag van die Satan. Ook so wys Jesus duidelik dat dinge nou verander het. Dit is ook vir Satan die Kairos-oomblik. Hy gaan nooit weer die vrye teuels geniet wat hy vir eeue gehad het nie. En om te wys hoe belangrik dit is, gaan Jesus daarvandaan reguit na Petrus se huis toe, en gaan genees sy skoonma, wat baie siek was.

 

Jesus wys vir ons dat Hy dinge kom herstel het. In die koninkryk van God maak Jesus dinge heel. In jou eie lewe: Hy kom herstel jou verhouding met God, sodat jy Hom jou Vader mag noem, en elke dag in sy lig kan lewe. Maar Hy kom herstel ook ons onderlinge verhoudinge met mekaar – ons hoef nie meer opponente te wees nie, ons kan met nuwe oë na mekaar kyk. Met ‘n nuwe deernis,  want ons is nou familie. Om die waarheid te sê, dis hoe almal kan sien dat ons God se mense is, omdat ons mekaar lief het en vir mekaar uitkyk en sorg.

 

Maar jy moet ook hier in Markus 1 raaksien dat Jesus ook die duisternis uit ons wêreld laat opklaar. Ook die duisternis wat 'n piepklein virussie gebring het toe hy ons hele bestaan kom omkeer het. Maar die kairos het aangebreek, en daarom hoef ek en jy nie paniekerig te raak nie. Ons kan maar vertrou, en rustig voortleef in die vrede wat Jesus vir ons van God af gebring het. Ons Vader sal sorg. Want die koninkryk van  God is hier. Hy is Koning, en Hy heers vir ewig en ewig!

AMEN